VEREENIGING / Mynongeluk by Central Mine / 25 Mei 1905

VEREENIGING

MYNONGELUK BY CENTRAL MINE

25 Mei 1905

VEREENIGING

Die dorp Vereeniging het sy naam verkry vanaf die laaste deel van een van die pioniersmaatskappye “ De Zuid Afrikaansche en Oranje Vrij Staatsche Kolen en Mineralen Mijn Vereeniging”, gestig deur Lewis and Sammy Marks.

STEENKOOL MYNE

George William Stow het

steenkool in hierdie area weerskante van die Vaalrivier ontdek en die wakker sakeman Sammy Marks het dadelik die potensiaal van die ontdekking besef en die bogenoemde maatskappy gestig .

Hierdie maatskappy het in 1882 aansoek gedoen om ‘n nedersetting op te rig op die plaas “Leeuwkuil”. Die aansoek is eers in 1889 goedgekeur, 1892 is die eerste erwe van Vereeniging per publieke veiling in Johannesburg verkoop en dit was die begin van die dorp Vereeniging.

Die ontstaan en groei van Vereeniging is te danke aan die diamantmyne in Kimberley.

Die maatskappy van Marks en Lewis , “ De Zuid Afrikaansche en Oranje Vrij Staatsche Kolen en Mineralen Mijn Vereeniging”, het kole as brandstof aan die myners in Kimberley verskaf.

Toe die inheemse bosse in Kimberley se omgewing uitgekap en brandhout skaars geword het, het die aanvraag na steenkool uit Vereeniging toegeneem. Dit het die mynbou bedrywighede in Vereeniging ‘n goeie hupstoot gegee.

Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het ook bygedra tot die snelle ontwikkeling van mynbou in Vereeniging.

Central Colliery het gou ontwikkel as een van die grootste steenkoolmyne in Afrika.

Daar was/is verskeie steenkoolmyne reg rondom Vereeniging.

Vereeniging is vandag nog bekend daarvoor dat ‘n lagie fyn swart stof alles in die dorp en omgewing bedek.

CENTRAL MINE

Stow se eerste primitiewe mynbedrywighede het op die plaas Leeuwkuil begin. Hierdie ou skag het later deel van die Bedworth Steenkoolmyn geword.

Central Mine was een van die eerste myne wat ontwikkel is.

Hierdie myn het baie probleme met veral hoë konsentrasies gasse gehad.

Aanvanklik was meeste werkers en veral die mynbestuur immigrante, meeste afkomstig uit Engeland.

DIE JARE NA DIE ABO

In die jare na die Anglo-Boereoorlog het die meeste van die inwoners van Vereeniging in Central Mine gewerk of by die aangrensende steengroef gewerk.

Plase was afgebrand en verwoes deur die Britte se Verskroeide Aarde Beleid tydens die ABO en arm boere het hoopvol na die oorlog na Vereeniging gestroom om werk en ñ heenkome te probeer vind.

ONGELUK BY DIE CENTRAL MINE

Mynongeluk by Central Mine 1905

1900. Vereeniging was nog ‘n klein dorpie. Byna die helfte van die inwoners het in die steenkoolmyn (Central Mine) gewerk.

Vroeg 1905 het daar ‘n groot krisis in Vereeniging ontstaan toe die steenkoolrif by die Jubilee skag aan die westekant van die Central Mine doodgeloop het en alle ondergrondse werk daar gestaak is.

Mettertyd het die dak van die myn daar ingestort en daardie deel van die myn was vergete tot Mei 1905.

25 Mei 1905 was daar ñ spontane ontploffing in hierdie verlate deel van die myn en gevaarlike gasse het gou versprei na die res van die Central Mine.

Heelwat werkers was oorval, blank sowel as swart. Alle bedrywighede in die myn is gestaak vir die dag.

Die oggend na die ontploffing is die mynbestuurder en 5 senior beamptes ondergronds om te gaan ondersoek instel. In die flou lig van hulle veiligheidslampies het hulle die donkerte aangedurf terwyl hulle sakdoeke voor hulle neuse gehou het.

Dwarrelende gas het hulle onverwags oorval en een vir een het hulle inmekaargestort en gesterf.

Vrywillige reddingswerkers het desperaat probeer help in die digte rook maar hierdie heldedaad het net nog meer lewensverlies tot gevolg gehad.

Tien (10) witmense en sewe (7) swart mense se lyke is uiteindelik na die oppervlak toe gebring.

GEDENKSTEEN IN VEREENIGING KONSENTRASIEKAMP BEGRAAFPLAAS

‘n Gedenksteen is opgerig ter herinnering aan die manne wat in hierdie ongeluk gesterf het.

“This monument records the heroism of

Andrew Fraser Ross & David Thomas Price

Who lost their lives in a noble attempt to rescue

Henry Brocklesby Bunkell, Thomas William Davis, William OwenJones, & Walter Brown, who also perished in a fire in the Central Colliery,

Vereeniging, on the 25tj May, 1905.”

Onder op die sandsteen monument.word ook die name aangedui van:

1. William Owen Jones

(Mine Manager)

Of Aberporth, Cardiganshire, Wales,

Aged 40 years.

2. Walter Brown,

(Mine Captain)

Of Lochgelly, Fifeshire, Scotland,

Aged 36 years.

3. Andrew Fraser Ross,

(Surface Overseer)

Of Aberdeen, Scotland,

Aged 39 years.

4. David Thomas Price,

(Miner)

Of Georgetown, Mon, Wales

Aged 31 years.

1917: CENTRAL MINE ONTPLOF

Interessant, die steenkool in die myn het bly brand tot 1917, byna ‘n dekade lank.

In 1917 was die Vaalrivier in vloed, die walle het oorstroom en water het in die verlate myn (Central Mine) ingestroom.

Die water het ook in die brandende Jubilee seksie ingestroom.

Die opbou van stoom ondergronds het ‘n reuse ontploffing tot gevolg gehad en byna die hele myn het ontplof en inmekaar gestort. Stoom het hoog in die lug opgeskiet uit die ou myn uit.

Vandag is daar net ‘n baie diep blou gat vol water, opgestote grondbanke en half weggewerkte mynhope as stille getuienis van die eens florende myn en die groot ramp wat daar plaasgevind het.

Die “Blou gat” was in die verlede ‘n gewilde plek om te besoek en die dorp se seuns het hier lekker visgevang.

Waaghalse het ook gereeld met hulle viertrekvoertuie en motorfietse die steil hellings aangedurf.

Ongelukkig is hierdie verlate area (Spidervalley) nou ‘n baie onveilige plek om te besoek.

Kriminele elemente het sedertdien hier oorgeneem. (2022)

Samesteller: Kobie Ströh

Bronne: http://monument-sa.co.za/vereeniging-geskiedenis/ en

Facebook Sarel Feldtmann

Foto’s: Vaaldriehoek Kultuurnetwerk 2023, Gys Ströh snr Junie 2023

Maak 'n opvolg-bydrae