Pioniersmuseum / Pretoria

Pioniersmuseum

Pretoria

Die oudste huis in Pretoria

DIE GESKIEDENIS VAN DIE HUIS/MUSEUM

David Adolf Michael Botha is gebore 26 Mei 1806 in distrik Swellendam.

Hy was die 5de kind uit sy pa Johannes Petrus Botha se eerste huwelik met Maria Petronella Landman.

Oktober 1825 trou David Botha In Swellendam met Maria Elizabeth Carelse, ñ dogter van sy pa se tweede vrou, sy stiefsuster.

Toe die Groot Trek plaasgevind het, was hy ñ jong man van 30.

Dit is nie seker wanneer hy uit die Kaap getrek het en saam met watter trekgeselskap nie, maar 1841 is opgeteken dat hy hy reeds in Natal was.

Dit is ook nie seker wanneer hy Transvaal toe getrek het nie, maar wat wel aangeteken is is dat hy in 1848 na Pretoria distrik getrek het, een van die vestigingspioniers van Pretoria. (Pretoria is eers in 1855 as dorp gestig. )

Hy vestig hom langs die Moreletsspruit , destyds genoem die Rademeyersrivier, daar waar die rivier deur ñ poort vloei.

Hy noem sy plaas dan ook Hartebeespoort.

Hierdie is ñ waterryke area met standhoudende water en ñ breë oorstromingsvlakte, ideaal vir akkerbou.

Die ligging van sy huis beplan hy mooi sorgvuldig op grond hoër as die oorstromingsvlakte vanwaar hy ñ goeie uitsig oor sy plaas het.

1848 bou hy ñ eenvoudige reghoekige huis met 2 of 3 vertrekke. Twee slaapkamers en ñ voorhuis.

Kos was buite voorberei, in ñ kookskerm.

Die mure van die oorspronklike huis was van klei, dakbalke van hout uit die omgewing, ñ grasdak, vloere van grond en mis en perskepitte.

ñ Tipiese voorbeeld van die tradisionele plattelandse styl van daardie tyd.

Hierdie oorspronklike plaashuis het behoue gebly en is tans bekend ss die Pioniersmuseum, die eerste woonhuis in Pretoria.

10 Desember 1850 word die plaas Hartbeespoort 308 amptelik aan David Botha toegeken.

Hy was ñ hardwerkende boer en het watervore aangelê vir natlei van sy landerye en selfs ñ dam gebou.

Drinkwater is vanuit ñ put naby die huis verkry.

Die plaas Hartbeespoort word onderverdeel en dele is verkoop aan GC Vermeulen en FM de Beer.

HANS MUNDT

1874 koop ñ Duitse immigrant, Hans Mundt, die plaas Hartbeespoort.

Hy besef die waarde van díe plaas op die hoofroete na die Goudvelde van Pelgrimsrust.

Hy was ook ñ innoverende boer en het vele veranderings op die plaas aangebring.

Mundt verskaf vars perde aan George Heys wat die poskoets en transport kontrak tussen Pretoria en Lydenburg gehad het. Mundt voorsien stalle en oornagkamers aan moeë reisigers en rig ñ waenhuis vir hulle op.

Mundt verdeel in 1922 die plaas Hartbeespoort tussen sy 4 kinders.

Ernst Wilhelm Mundt erf die gedeelte waarop die plaashuis staan.

1938 sterf Hans en sy vrou, Johanna Louisa, onderhou die ou oorspronklike plaashuis.

1961 skenk sy die huis aan die Silverton Stadsraad.

DAVID BOTHA KLEINFONTEIN

David Botha Kleinfontein

David lê hom voortaan toe op veeboerdery en 1859 word die plaas Kleinfontein, 25 km vanaf Kerkplein op sy naam geregistreer, 1658 morg.

Hy woon op Kleinfontein tot met sy dood 1879 op ouderdom 72 jaar. ñ Deel van sy plaas was reeds op sy seun Johannes Jacobus Botha geregistreer.

David Botha was ñ gesiene man en het aktief by die politiek betrokke geraak. Hy was Voorsitter van die ZAR Volksraad en het tye van groot twis en onmin beleef. Hierdie twis tussen burgers lei tot ñ burgeroorlog 1861 tot 1864.

ñ Ontnugterde David Botha onttrek hom na die burgeroorlog van die politiek en lê hom toe op sy boerdery.

HARTBEESPOORT die oorspronklike plaas

Die plaas het die ideale ligging gehad toe goud by Lydenburg en Pelgrimsrust ontdek is. Dit was die ideale uitspanplek en halfweghuis vir reisigers van en na Pretoria.

Die ry stalle getuig van besige tye met reisigers wat uitspan.

Silverton is op ñ deel van die plaas Hartbeespoort aangelê en word met plaashuis en al die eiendom van Silverton Stadsraad. ( 1961)

1964 word Silverton by Pretoria ingesluit.

1974 word hierdie ou historiese plaashuis aan die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum Raad geskenk wat dit gerestoureer het.

PIONIERSMUSEUM

Hierdie 1848 plaashuis op 3 hektaar grond met sy buitegeboue gee ñ kykie in die lewenswyse van die vroeë Pioniers, die Voortrekkers.

Die oorspronklike plaashuis met sy kleimure en misvloere, pragtig behoue, met ñ paar aanbouiings wat later gedoen is om die plaashuis te vergroot en voorsiening te maak vir groter gesinne en behoeftes. ñ Kombuis en seunskamer is o.a. aangebou.

Daar is oorblyfsels van hoenderhokke, varkhokke, stalle, plaasimplimente, ñ dorsvloer, ñ meule, kruie en groentetuine omsoom met ronde klippe, boorde en ñ wingerd nog aangeplant deur David Botha self.

Langs die huis ñ ou bakoond waarin honderde brode gebak is.

Die Pioniershuis is amptelik geopen as ñ opelugmuseum in 1964. ñ Lewende museum waar brood in die buiteoond gebak is, kerse gemaak is en bekwame gidse in tradisionele klere besoekers rondgewys het.

Die inhoud van die huis en herboude waenhuis is eenvoudig en weerspieël die lewenswyse van die eerste inwoners van Pretoria.

DITSONG MUSEUMS OF SOUTH AFRICA

Tans vorm die Pioniersmuseum deel van die Ditsong museums.

Alhoewel die terrein netjies is, is die verwaardlosing en verval oral duidelik sigbaar. Selfs een gewel van ñ buitegebou het eenvoudig inmekaar gestort.

Hulpvaardige personeel is egter dadelik by om besoekers te verwelkom.

Ongelukkig is daar geen borde of aanduidings meer na die museum toe nie en dit gee nogal ñ soektog af.

Die rustige plaasatmosfeer met ganse en voëls wat kwetter in ñ besige stad, gee heimwee aan ñ era wat verby is.

Hopelik kan hierdie ou historiese oudste huis in Pretoria behoue bly en gered word van totale verval.

Bron: Internet. Facebook. Pioniers museum.

Foto’s Gys Ströh snr Julie 2023

Samesteller Kobie Ströh Vaaldriehoek Kultuurnetwerk

Maak 'n opvolg-bydrae