Shawu / Trekroetetuin / Voortrekkermonument / Pretoria

Voortrekkermonument

Trekroetetuin

Shawu

Ou Groot Haaktand, Die Groot Olifant

SHAWU (+-1926-1982)

Shawu of Groot Haaktand soos hy bekend was, was een van die grootste olifantbulle in die Kruger Wildtuin.

Hy was een van die Groot Sewe wat gedurende die 1980’s in die Kruger Wildtuin geïdentifiseer is en gebruik is in ‘n veldtog om publiek bewus te maak van die Kruger Wildtuin se bydrae tot bewaring en beskerming.

Shawu het rondgeswerf in die Shawu-Vallei tussen die Letaba- en Shingwedzi-riviere.

Hy was ‘n reuse rustige dier wat stadig beweeg het met geen agterdog of vrees vir mens of voertuig nie. Voertuie of bewonderaars het hom glad nie gepla nie.

1981 is hy met ‘n opsporingsband toegerus om sy bewegings dop te hou, veral uit vrees vir moontlike stropers.

Skouerhoogte was hy meer as 340 cm.

Shawu het van die langste tande in die Kruger Wildtuin gehad, selfs in die wêreld.

Sy linkertand was 317cm lank, 45 cm in omtrek by basis en het 52, 6 kg geweeg.

Regtertand was 305 cm lank, 45 cm omtrek by basis en weeg 50, 8 kg.

Shawu het ouer en siekliker begin word en al stadiger beweeg.

1982 het hy gesterf weens natuurlike oorsake.

Shawu se skedel en tande word in die Olifantsaal in die Letaba Ruskamp, Nasionale Krugerwildtuin bewaar.

SHAWU SE BEELD

Danie de Jager, bekende beeldhouer het in 1989 die reuse taak aangepak om ‘n beeld van Shawu te maak.

Sy beweegrede was bewusmaking van die stroping van olifante vir ivoorhandel. Hy wou ‘n boodskap van bewaring uitdra en ook ‘n idee gee van die “grootheid” van olifante.

Danie is bekend vir sy noukeurigheid, perfeksie en aandag aan fyn detail. “As jy ‘n klein foutjie maak met jou skaalmodel, word dit ‘n reuse fout met die lewensgrootte model.”

Danie de Jager het Shawu se beeld in 1991 voltooi.

Hierdie lewensgrootte brons beeld van Shawu pryk by die Palace of Lost City, Sun City, Pilaansberge en is sekerlik een van die mees gefotografeerde beelde in Suid-Afrika.

SHAWU BY DIE VOORTREKKER MONUMENT

Die Danie en Elsa de Jager Trust het ‘n gedeelte van die Danie de Jager versameling aan die Voortrekkermonument geskenk om as Beskermheer op te tree en vir bewaring.

Die lewensgrootte afbeelding (maket) van Shawu (4,5 m hoog) is staangemaak tussen sandsteenpilare in die Trekroete-tuin langs die Voortrekkermonument. (Julie 2022). Hier staan die reuse Olifantbul langs die uitbeelding van Umgungundlovu (Dingaan se kraal, Die plek van die Groot Olifant).

Bronne: Voortrekkermonument, FAK, Wikipedia

Foto’s Gys Ströh snr Junie 2023,

Nicky Jansen van Vuuren Junie 2023.

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae