Motmuis leer van Suid-Afrika / Geskiedenis / Boek 1 / Nommer 12 / Van Hunks en die duiwel.

Motmuis leer van Suid-Afrika

Geskiedenis Nommer 12

VAN HUNKS EN DIE DUIWEL

“Motmuis, vandag gaan Ouma Vlermuis vir ons ń storie vertel.”

“Ek hou van stories, vertel Ouma, vertel!”

“Eendag lank lank gelede was daar ń nare ou seerower.

Sy naam was Van Hunks.

Hy het baie skepe aangeval en alles op die skepe gesteel.

Van Hunks het met al sy skatte langs Tafelberg gaan bly.

Hy het vreeslik baie pyp gerook en het sakke vol tabak gehad.

Elke dag het hy teen Tafelberg uitgeklim en daar gaan sit en rook.

Eendag terwyl hy so sit en suig aan sy pyp, kom sit ń maer lang man langs hom en rook.

Die man het pikswart klere aan en ń groot hoed op sy kop.

Van Hunks vervies hom vir die man met sy spierwit gesig.

Dit is mos sy rookplek, wat soek die vreemde man daar?

Die twee manne begin stry en rook al hoe meer.

Die vreemde man daag Van Hunks uit en sê niemand kan meer rook as hy nie.

Hulle besluit om te kyk wie kan die meeste en die langste rook.

Die kompetisie begin.

Hulle rook en rook en rook.

Die wit rookwolke hang later om hulle.

Die hele Tafelberg is later toe onder die rook.

Vir dae lank rook hulle sonder ophou.

Skielik val die vreemde man reg agteroor.

Hy is moeg gerook.

Van Hunks het gewen.

Die vreemde man se hoed val af.

Van Hunks skrik hom yskoud toe hy die twee horings op die man se kop sien.

Dit is die duiwel.

Van Hunks het sowaar die duiwel gewen!

Tot vandag toe het niemand weer vir Van Hunks gesien nie.

Hy het verdwyn.

Maar as die wolke so oor Tafelberg stoot, sê die mense: Daar rook Van Hunks en die ou duiwel al weer.”

Fiktiewe stories uit die geskiedenis vir ons kleinkinders.

Geskryf deur Kobie Ströh tydens die Covid Isolasietydperk.

Foto’s en illustrasies: Geleen vanaf Internet

Maak 'n opvolg-bydrae