Slag van Soutrivier / Francisco de Almeida / Tafelbaai / Botsing tussen Portugese en Khoikhoi / 1510

Die Slag van Soutrivier

29 Februarie /1 Maart 1510

Francisco de Almeida word in Kaap die Goeie Hoop doodgemaak.

Waarskynlik die eerste botsing tussen Europeërs en inheemse mense van Suid-Afrika.

ñ Bloedige geveg waar die Khoikhoi as oorwinnaars geseëvier het.

FRANCISCO DE ALMEIDA

Francisco de Almeida ( circa 1450 – 1 Maart 1510) was ñ Portugese edelman,

‘n ontdekkingsreisiger en ‘n uitmuntende en dapper soldaat.

Hy was ook die eerste goewerneur van die Portugese Indië.

TERUGTOG NA PORTUGAL

Na die Slag van Diu in die Indiese Oseaan waartydens die Portugese soldate onder leiding van Francisco de Almeida die Mohammedaanse seemag so te sê verpletter het, keer 3 skepe terug na Portugal: die Garcia, die Belém en die Santa Cruz.

Aan die Mosambiekse kus het die skepe vir 24 dae vertoef terwyl van die skepe herstel is en lekplekke reggemaak is.

KAAP DIE GOEIE HOOP

Die gunstige weer laat die skepe toe om anker te gooi in Tafelbaai, Kaap die Goeie Hoop.

ñ Groepie manne gaan aan wal om vars water aan te vul vir die lang terugreis.

Daar word suksesvol handel gedryf met die inheemse Khoikhoi-stam, die Goringhaiqua.

Vee word geruil vir stukke lap (doek) en stukke yster, soos die gebruik destyds was. Alles vreedsaam en vriendelik.

VYANDIGHEID EN BOTSING

Francisco de Almeida laat ñ klein groepie van so 12 manne toe om die inheemse mense se dorpie te gaan besoek, ongeveer ‘n uur se stap verder.

Op pad soontoe het die inheemse mense na bewering van die Portugese soldate se messe en ander items gesteel.

In die daaropvolgende konfrontasie het die Khoikhoi-mense baie vyandig geword en die soldate getakel.

Met bebloede gesigte en beseerde lywe is die soldate terug skepe toe.

Daar is later verskeie redes vir hierdie skielike vyandigheid geopper:

1. Die vrees van die Khoikhoi dat hierdie Portugese hulle hier in die omgewing sal kom vestig, ‘n fort sal bou en dan hulle waterbronne en later hulle vee sal oorneem.

2. Die diefstal van die Portugese se eiendom en die konfrontasie wat daarop gevolg het en die Khoikhoi bedreig laat voel het

3. Die moontlikheid is ook dat die Portugese self probeer het om van die inheemse mense se beeste te steel.

Wat ookal die redes was, die Khoikhoi het die soldate lelik mishandel en teruggedryf na hulle skepe toe.

SLAG VAN SOUTRIVIER

1 Maart 1510

Die Portugese offisiere dring daarop aan dat daar wraak geneem moes word en dat die Khoikhoi ‘n les geleer moet word.

Hoewel De Almeida twyfel aan sy eie mense se onskuld aangesien dit dikwels al gebeur het dat hulle wel vee gesteel het, laat hy hom ompraat om tog ‘n strafgroep te stuur na die Khoikhoi se dorpie toe.

150 man, die bestes onder die soldate, vaar met bote kuslanges tot naby die dorpie.

Daar laat hulle die landingsbote met die opdrag dat net daar vir hulle gewag moes word.

Gewapen met swaarde, kruisboë en spiese durf hulle die digte bosse aan. By die dorpie aangekom, vind hulle alles verlate met net ‘n paar kinders en vee daar.

Hulle neem die kinders en die vee saam met hulle terug.

In die digte bosse wag 170 woedende Khoikhoi-manne hulle in.

Hulle val die soldate met klippe, gifpyle en spiese aan. Die houtspiespunte is vuurverhard.

Die Khoikhoi se opgeleide beeste wat beheer word met fluitgeluide word as skilde gebruik vir die aanvallers. Hulle skuil agter die beeste en gooi daarvandaan met klip en spies.

Die Portugese soldate het geen skilde of beskerming teen die akkurate gooiers van die Khoikhoi nie en van hulle word selfs vertrap deur die beeste.

Die soldate onttrek desperaat terug na die strand om met die bote te probeer ontvlug. Ongelukkig was die landingsbote nie meer daar nie, weens ñ dreigende storm het die bote verskuif, nader na die skepe toe.

In die los sand probeer hulle hulleself verdedig en sommige slaag daarin om te vlug, maar 64 van die soldate en 11 offisiere word in die skermutseling gedood, meeste se koppe deur klippe verbrysel.

Francisco De Almeida veg dapper tot die einde. Sy keel word met ‘n werpspies deurboor en daarna word hy met klippe en stokke doodgeslaan.

Van die gewondes slaag daarin om die skepe te bereik waar hulle versorg kan word, sommige baie ernstig verwond.

Later die middag het van die soldate teruggekeer strand toe om die dooies te gaan begrawe.

Francisco de Almeida se naakte verminkte liggaam het hulle op die strand gevind en aan die oewer van die Soutrivier begrawe.

TAFELBAAI ‘n PLEK OM TE VERMY

Hierdie nederlaag was ‘n groot verleentheid vir die Portugese.

Die vroeëre beleid om nie aan die suidpunt van Afrika te anker nie, is voortaan strenger toegepas.

Die Khoikhoi het in Europa die reputasie gekry as ‘n baie wrede nasie.

Die Slag het die Kaap oopgemaak vir die Protestante Hollanders

Bronne: Wikipedia. Heritage History. Univ van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae