Volkspele 1914

28 Februarie 1914

Volkspele die eerste keer amptelik gespeel.

Pos deur Morne van Rooyen:

28 Februarie 1914 | Volkspele, ’n tradisionele Afrikaanse dansvorm, is Woensdag 110 jaar gelede vir die eerste keer beoefen en wel tydens ’n Sondagskoolpiekniek op die plaas Vuisfontein, distrik Boshof. Dit was die verwesenliking van ’n ideaal van Samuel Pellissier, destyds onderhoof van die plaaslike Rooidakskool. Verskeie gedenktekens vir Volkspele bestaan nog op Boshof en in die omgewing.

DIE GESKIEDENIS VAN VOLKSPELE

Prof Anton C van Vollenhoven

Volkspele het ontstaan na afloop van ‘n studiebesoek aan Swede, deur die jong onderwyser Samuel Henri Pellissier.

Hier het hy in aanraking gekom met die volksdanse en –drag van Europese lande en besluit dat hy van die Afrikanerjeug ‘n singende, spelende en werkende volk wil maak.

Om dit te doen het hy vier Sweedse danse in Afrikaans aangepas en het dit saam met Afrikaanse piekniekspele aan die jeug geleer.

Volkspele is vir die eerste keer, op 28 Februarie 1914, tydens ‘n Sondagskoolpiekniek op die plaas Vuisfontein naby Boshof in die Vrystaat, gespeel en het gou landswyd versprei.

Volkspele het veral stukrag gekry tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938.

Orals waar die waens oornag het op pad na Monumentkoppie in Pretoria, is volkspele spontaan om die kampvuur gespeel.

Voortrekkerdrag, gebaseer op die modes van 1835, het nou ook die amptelike volkspeledrag geword.

Op 1 Maart 1941 word volkspelers vir die eerste keer georganiseerd saamgesnoer met die stigting van die Uniale Komitee vir Volksang en Volkspele (vandag bekend as die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging, kortom die AVVB).

Dr. Pellissier is as eerste voorsitter verkies.

Hoogtepunte in die geskiedenis van volkspele is hoofsaaklik massa-optredes by volksfeeste.

By die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 het meer as 2 000 volkspelers ‘nkakebeenwa gevorm.

Tydens die Van Riebeeck feesvieringe in 1952 is ‘n kaart van Suid-Afrika gevorm deur volkspelers in verskillende kleure wat die provinsies voorgestel het.

Ander groot optredes vind plaas tydens die eeufeesviering van Pretoria in 1955, die Uniefees van 1960, verskeie Republiekfeesvieringe en die Groot Trek 150-jaar vieringe in 1988.

Verskeie buitelandse toere na Europese lande en die VSA het ook al plaasgevind en die volkspelers ontvang dikwels volksdansers van oorsee in Suid-Afrika.

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu, vind daar ook spesiale kursusse vir die jeug plaas.

Gekeurdes van regoor die land kom dan vir ‘n hele week byeen om aan die Pellissierweek (gr10-12), Vormingsweek, (gr 8-9) of Judith Pellissierweek (gr 5-7) deel te neem. Dit is gepas dat twee van hierdie ‘Weke’ na die stigter van volkspele en sy vrou vernoem is. Hier word nie net aandag aan volkspele gegee nie, maar word ook gefokus op leierskapsontwikkeling en lewensverryking.

Volkspelers ontvang dikwels volksdansgroepe uit ander lande en het al verskeie toere na Europa, die VSA ensomeer onderneem. Tydens sulke geleenthede word daar saam gekuier en word mekaar se danse aangeleer. Optredes vind ook regoor Suid-Afrika plaas, by kultuur- en nasionale feeste.

Volkspele is sover bekend die enigste volksdans waar daar tydens spel saam gesing word.

Maak 'n opvolg-bydrae