Kersdag Kersfees tydens die ABO

KERSDAG TYDENS DIE ABO

1899

25 Desember 1899

Die eerste Kersfees tydens die oorlog was in 1899, die oorlog al vir 3 maande aan die gang. Die Boervrouens het spesiale Kerspakkies met lekkernye soos koek en tert, rosyntjies en neuter vir die manne op Kommando gemaak en aangestuur. Kerspartytjies is in die dorpe vir die inwoners en die kinders gereël. Op Oukersaand was daar Kerkdienste gehou en Kersliedere gesing.

Op Kersoggend het die Boere o.a. wat Ladysmith onder beleg gehad het, kanonskote vanaf die rantjies geskiet. Hulle stuur tot ‘n pruimpoeding na die Britte met so ‘n kanonskoot.

Uit: Oorlog-Beeld, Nuusblad oor DIE STRYD tussen Boer en Brit deur Jackie Grobler:

P61 “Kersdag op die Front:

Uittreksel uit ‘n brief wat Frikkie Badenhorst, ‘n boer uit die Wes-Transvaal, vanaf die gevegsfront by die Modderrivier aan sy vrou geskryf het:

“Oral is mense vanaand aan die bid. Op verskeie plekke hoor jy mense sing. Toe dag ek: nou weet ek waarom die oorlog moes kom; dit was omdat die Heer die mense op hulle knieë wou hê. Daar is seker menigeen, dag ek, wat nog nooit sy knieë gebuig het nie, en wat dit nou doen; ook praat mense nou van Gods almag wat nog nooit oor God gepraat het nie. So het die Here met alles ‘n doel. Ook met die wrede oorlog.”

Vanuit die Boerelaers by Ladysmith het Wilhelm Mangold van die Heidelberg-kommando ‘n verslag oor veel vroliker Kersdagvieringe gestuur:

“Op 23 Desember het die posmeester van Heidelberg, Frans Broers, met ‘n hele wa vol Kersgeskenke by ons opgedaag. Dit het kiste vol koek, vrugte, wyn, bier, allerhande soorte drank, oorvloedige rookgoed, wit emaljebekers en dagboeke ingesluit. Op Kerdag self het ons gesamentlik aangesit vir ‘n gemeenskaplike Kersete. Die beste kokke in die laer was van vroegoggend doenig om die geregte voor te berei. Terwyl die potte op die vuur was, kon die swart helpers skaars bybly met die aandra van brandhout. Die aantree-sein is om twaalfuur gegee, waarop die burgers van oral af nader gestroom het. Elkeen het gewillig sy eie eetgerei saamgebring. Ons het pakkiste as tafels en groot klippe as stoele gebruik. Ons gas was generaal Schalk Burger, wat formeel verwelkom is. Nadat die dominee ‘n tafelgebed gedoen het, het ons weggeval aan al die disse…”

1900

25 Desember 1900

Kersfees 1900. Die Boere was verhonger, die vroue in konsentrasiekampe, hulle kon nie weer die manne bederf met eetgoedjies en geskenkies nie.

Kersdag was tog wel anders en meer spesiaal as ander dae.

Party konsentrasiekampe het pakkies met lekkernye ontvang wat die Kapenaars vir hulle verpak en aangestuur het, karig, maar so spesiaal.

Op Kersdag 1900 is daar in die Bloemfonteinkamp ‘n sportbyeenkoms en ‘n konsert gehou.

P 248 Oorlog-Beeld

“Op Maandag 24 Desember het kommandant Fanie Trichard se manne by Uitkykstasie tussen Middelburg en Lydenburg ‘n hele treinvrag voorrade, waaronder Kerspersente, by die Kakies gebuit.”

P 249 Oorlog-Beeld

“ Op Kersdag het DeWet ( Hoofkommandant Christiaan de Wet te velde in die Vrystaat) se kommando’s by Tafelkop saamgetrek. Hulle is uitgeput en in vodde geklee, maar het met groot respek na die prediker se pleidooi om vrede op aarde geluister.”

1901

25 Desember 1901

Toestande het versleg, omstandighede is ondraaglik.

Vrouens en kinders is in konsentrasiekampe geprop, plase is afgebrand en oeste en vee is vernietig deur die wrede Verskroeide Aarde beleid.

Duisende vroue en veral kinders het reeds omgekom in konsentrasiekampe agv honger, siektes en ontbering.

Duisende Boere is as Krygsgevangenes weggevoer.

Bittereinders veg moedig in die veld voort onder bitter moeilike omstandighede.

Dit is Kersfees en Boerekrygers en hulle vrouens en kinders wou graag die dag saam met hulle gesinne deurbring. Iets wat helaas nie sou kon plaasvind nie.

Krygsgevangenes en Konsentrasiekampe

Krygsgevangenes:

Boere is weggeruk uit hulle bekende milieu, as krygsgevangenes het hulle as vreemdelinge onder vreemde omstandighede geleef. Die vreemde lande, die omgewing, die mense, die taal en kultuur was vreemd en die aanpassing was baie moeilik.

Kerstyd was ‘n tyd van heimwee en verlange. Chris de Wet som die gevoelens in sy dagboekie mooi op. “ Mijn hart is vergruisd in mijn binneste van wege mijn voksweën en van sterk verlangen. “

Die krygsgevangenes het koor-, musiek- en toneelopvoerings op Kersdag gehou.

Kerkdienste is op Kersdag gehou.

Konsentrasiekampe:

Toestande in die konsentrasiekampe was haglik.

Dood en siekte het oorheers.

Honger en swaarkry was daagliks deel van hulle lewens.

Nogtans was Kersdag spesiaal gevier met sang en kerkdiens. Daar is opgeteken dat Kersfees gevier is in die Standerton Konsentrasiekamp, asook in die Volksrust Konsentrasiekamp.

Bittereinders:

Die Boere was erg uitgehonger, nogtans was Kersdag spesiaal en orals het Kersliedere opgeklink.

Die Middelburgers het Kersfees 1901 sonder kos moes deurbring, want hul kon nie betyds vee of kos in die hande kry nie.

Vir die Britte is vragte vol lekkernye, sjokolades, sigarette en geskenke per wa en trein aangery. Die Boere het hierdie treine ontspoor en konvooie voorgelê in hinderlae om van hierdie voorraad in die hande te kry.

P 314 Oorlog-Beeld

“De Wet oorrompel Kakies op Groenkop

Glorieryke oorwinning op Kersdag

De Wet se verkenners was geruime tyd reeds bewus van sowat 500 Kakies onder bevel van majoor Williams op Groenkop, Oos-Vrystaat, van waar hulle ‘n goeie uitsig oor ‘n uitgestrekte gebied gehad het. Die dag voor Kersfees het De Wet besluit om daardie Kakies aan te val.

Na donker die aand van 24 Desember het De Wet met sowat 1000 burgers in helder maanlig die hoë kop uit die noordweste genader. Die burgers het hulle perde aan die voet van die kop agtergelaat en so stil moontlik na bo begin klim. Teen twee-uur was hulle feitlik bo toe ‘n Britse wag op hulle geskiet het. De Wet het hierop met ‘n luide stem gebulder: “Storm, burgers!”. .. Binne minute was hul bo. Teen hierdie tyd was die Kakies, wat in hulle tente geslaap het, natuurlik wakker en het ‘n hewige geveg gevolg. Die burgers het sommer gou die Britse kanonniers doodgeskiet, maar in die harwar in die donker het die soldate dapper weerstand gebied. Binne 15-20 minute was alles egter verby en die kamp in die Boere se hande…..

Voordat hulle ‘n paar uur later weer vertrek het, het De Wet aan sy burgers geleentheid gegee om soveel van die Britse voedsel as wat hulle kon verorber, as ‘n Kersfeesmaaltyd te geniet. Aangesien die buit ‘n wa vol drank ingesluit het, kon die burgers wat van ‘n sopie hou boonop hulle dors les.”

1902

25 Desember 1902

31 Mei 1902 Die Vrede van Vereeniging. Die oorlog is verby.

Die burgers moes hulle wapens neerlê, ‘n somber atmosfeer het geheers.

By die konsntrasekampe was baie geliefdes nie meer daar nie, net grafte en hopies grond wat wag.

Die Boere keer terug na hulle verwoesde huise en plase.

Kersdag 1902, ‘n vreugdedag.

Die Oorlog is verby, groot verliese is gely, baie geliefdes het gesterf, maar die geloof en die hoop bly. Die Kersverhaal word aan die kinders vertel.

Kersliedere klink weereens in die doerpe, kerke en plaashuise op.

Gewond, maar onoorwonne!

Bronne:

Afrikanergeskiedenis.co.za Boeregeïnterneerders in Portugal tydens die ABO

Oorlog-Beeld, Nuusblad oor DIE STRYD tussen Boer en Brit deur Jackie Grobler

Bronberger .co.za Kanonpoeding en Kersfees in Engelse oologkampe

Maak 'n opvolg-bydrae