Bittereinders / ABO / Pres Steyn

BITTEREINDERS

deur Kobie Stroh

As ons die woord Bittereinders hoor het ons dadelik die Boerevegters in gedagte wat tydens die ABO (1899 – 1902) tot die bitter einde geveg het teen ‘n Britse oormag en geweier het om oor te gee. Dit is egter nie die oorsprong van die woord “Bittereinder” nie.

DIE WOORD BITTEREINDER

Die woord Bittereinder klink presies soos wat hulle moes gevoel het, die einde bitter en swaar, maar…

Die woord “bittereinde” het eintlik ‘n heel ander oorsprong.

Die woord bitter kom oorspronklik uit die skeepvaart woordeskat, moontlik van Skandinawiese oorsprong.

Reeds in 1795 vind ons die term opgeteken. Ook beskryf in John Smith’s Seaman’s Grammer of 1627.

Die ou seilskepe het 2 houtpenne gehad, “bitts”, waardeur ‘n anker- ketting beweeg het. Die pen waaraan die ketting vasgemaak is, was bekend as ‘n “ bitt”.

As die see te rof geraak het, is die anker uitgegooi. As die see te diep is en die ketting die bitt bereik het, was dit die bitt einde, groot moeilikheid en groot gevaar vir die skip. Die anker kan nie verder nie, dit is die einde, die bitt einde.

Die “-er” agter die bitt het later bygekom soos bv in woorde soos “header, rounder” ens.

Teen 1935 raak die term op ander terreine ook in gebruik, nie net in die skeepsvaart-taal nie.

Die term word gevind in baie Duitse en Hollandse geskrifte en verwys na die Engelse uitdrukking:

To go on until the bitter end.

Duits: Bis zum bitteren Ende

Hollands: Bittere einde.

Volgens die Oxford Dictionary is die herkoms van die woord onseker en kan 2 verduidelikings hê.

1. Aanhou tot ‘n taak afgehandel is, ongeag van hoe moeilik of onaangenaam dit is.

2. Of aanhou tot die einde, totale oorwinning of totaal verslaan, dikwels tot die dood.

ABO BITTEREINDERS

In die Suid-Afrikaanse konteks is die woord afgelei van die Nederlandse woord “bittereinder”.

Dit dui op iemand wat bereid is om te veg tot die bitter einde, te volhard tot die einde. Dit kan ook gebruik word as ‘n oorlogsparty , ‘n faksie of ‘n groep binne ‘n politieke groep of militêre groep wat ten gunste van oorlog is of wat nie wil opgee nie, maar wil aanhou.

Tydens die ABO was die Boere in ‘n baie moeilike posisie.

Die konvensionele magte van die Boererepublieke was grootliks verslaan, duidelik was ‘n militêre oorwinning onwaarskynlik en die groot sentra reeds in Britse hande.

Onder die burgers het groot verdeeldheid geheers.

Sommige het oorgawe voorgestaan, Hensoppers.

Ander het weer die Joiner keuse gemaak. Steun en help die Britte, selfs as spioene.

‘n Verdere groep het besluit om verder te veg, tot die bitter einde. Die redes vir hierdie keuse kan uit lojaliteit en trou aan beginsels, aan volk en Vaderland wees. Selfs die vrees om gevange geneem te word en moontlike fusilering het ook ‘n rol gespeel. Die burgers het gevoel hulle het reeds alles verloor, om vryheid te verloor sal ‘n te hoë prys wees om te betaal.

Hierdie Bittereinder Boere het klein beweeglike kommando’s gevorm wat treinspore gesaboteer het, Britse voorrade onderskep het, gevegte uitgelok het en dan vinnig op die vlug geslaan het.

Die Britte se antwoord hierop was blokhuise om Boere se bewegings te beperk, Verskroeide Aarde beleid toe te pas, boereplase te vernietig en om vrouens en kinders in konsentrasiekampe te plaas. Hierdeur is die Bittereinders se voorraadbasis vernietig.

Hierdie vegters of Bittereinders het onder moeilke omstandighede geleef. Wapens, ammunisie, rydiere, kos en klere was bitter skaars. Hulle klere was flenters en verweer en hulle hare het deur die gate in hulle hoede gesteek.

Hulle moes voortdurend aan die beweeg bly en het selde onderdak geslaap. Vir baie van hulle het die kommando-lewe byna ‘n lewenswyse geword, hulle het gewoond geraak en aan die ongerief.

Die lyding en sterftes van vrouens en kinders in kampe het egter die Bittereinders hard geslaan.

PRESIDENT STEYN “”BITTEREINDER VAN DIE BITTEREINDERS”

Pres. Steyn is bekend as die “Bittereinder van die Bittereinders”. Hy het geglo dat mens moet vasbyt en volhard vir dit waaraan jy glo.

As Boere-bittereinder het hy gestry vir ‘n onafhanklike Vrystaat.

As leier het hy dit as sy plig beskou om die burgers te motiveer.

As Christen-gelowige het hy besin en ernstig gebid oor besluite.

Pres Steyn het geglo dat die Afrikaner nie vernederd uit die oorlog moes kom nie, hy moes die morele oorwinnning behaal. Sy selfrespek behou.

Om Bittereinder te wees beteken egter nie om vol te hou tot alles en almal vernietig is nie. Die einde moet aanbreek, inkeer en besinning moes kom. Die besef dat die bitter einde bereik is moes ongelukkig kom. GEWOND MAAR ONOORWONNE.

Die Bittere einde.

Nou vir die geloof behou, moue oprol en weer opbou.

SOOS WARE BITTEREINDERS!

Die stryd is nooit verlore nie.

EIE OPINIE

Alhoewel die woord “Bittereinders” geassosieer word met die ABO se dapper vegters, is dit nie eksklusief ‘n Suid-Afrikaanse term vir ‘n sekere groep en ‘n sekere tydvak nie.

Daar moet versigtig met die term of woord “Bittereinders” omgegaan word.

Daar moet gewaak word daarteen om die woord as politieke standpunt of optrede te misbruik.

Die woorde en veroordeling as “Bittereinders”, “Hensoppers” en “Joiners’ het in die verlede groot verdeeldheid, skeuring, wrywing en smart in eie geledere, selfs in families en gesinne, veroorsaak.

Wees versigtig met die gebruik van die woord “Bittereinders” !

Bronne: Internet.Wikipedia. Sabinet. Facebook. Oxford Dict.

Foto’s: Geleen vanaf Facebook.

Maak 'n opvolg-bydrae