Vereeniging Stasie Stroomlokomotief / Die Vredestrein

Vereeniging Stasie

Historiese trein kry ñ nuwe baadjie

Stoomlokomotief Klas 6 B 500

“DieVredestrein”

VEREENIGING STOOMLOKOMOTIEF 6B

1973 ontvang Vereeniging ñ Klas 6B stoomlokomotief as skenking deur middel van die Historiese Vervoervereniging se onderhandelings.

Die Historiese Vervoervereniging het hulle veral beywer vir die behoud van alle soorte vervoer in SA, veral stoomlokomotiewe.

Hierdie stoomlokomotief Klas 6 B no 500 is herstel in De Aar en geplaas op die eilandjie reg voor Vereeniging se Stasiegebou.

Daar was toe in 1973 nog net sowat 2000 stoomlokomotiewe werksaam in SA en die plan was dat hulle binne 15 jaar uitgefasseer sou word, maar die proses is versnel sodat teen einde van 1970’s nog net enkeles in gebruik was, meestal net grbruik vir historiese ritte deur stoomtrein-entoesiaste.

WAAROM VEREENIGING STASIE?

Vereeniging het ñ belangrike rol gespeel in die spoorlyn geskiedenis. Dit was ñ groot gebeurtenis gewees toe die eerste trein in 1890 uit die Vrystaat die Transvaal binne gestoom het via die eerste tydelike brug oor die Vaalrivier. Die trein was versier met die Vrystaatse vlag en die Transvaal vlag. Hierdeur is die Kaapse hawens via spoor direk verbind met die Johannesburg Goudvelde. Pres Paul Kruger (ZAR) het Pres Reitz (Vrystaat) , passasier op die trein, op die brug ingewag en hulle het amptelik hier die brug en die spoor geopen. Die trein se aankoms was in opdrag van Sammy Marks met 21 dinamietskote gevier, 21 bottels met dinamietladings wat met tussenposes ontplof is, by gebrek aan die gebruiklike kanonskote.

Na die Anglo-Boereoorlog is die Vrede van Vereeniging hier onderhandel (1902). Daarna is daar per trein vertrek na Pretoria waar die Vrede van Vereeniging finaal onderteken is. Die lokomotief waarskynlik ñ Klas 6 B.

1904 het die trein waarin Pres Paul Kruger se oorskot vervoer is , op Vereeniging Stasie stilgehou. Die lokomotief dieselfde soort Klas 6B.

STOOMLOKOMOTIEWE in SA

Suid-Afrika het het die meeste soorte en grootste hoeveelheid stoomlokomotiewe in diens gehad.

Die Kaapse Spoorweë het aanvanklik hierdie stoomlokomotiewe aangekoop en van hulle weetlr aan die Vrystaat en Transvaal verkoop.

Eerste het Kaapland 40 Klas 6 lokomotiewe aangekoop. (1891+)

Daarna ñ verdere 50 Klas A aangekoop en in 1897-1898 nog 55 wat as Klas 6 B geklassifiseer is. Hulle was byna identies aan die Klas 6 A.

Die Kaapse Spoorweë het sowat 12 verskillende modelle van Klas 6 aangekoop en geklassifiseer volgens wielrangskikking of plasing.

Hierdie stoomlokomotiewe was aanvanklik meestal vir passasiersvervoer gebruik want dit was vinnige vervoer. Die afstand tussen Kaapstad en Johannesburg kon in 48 uur afgelê word. Later is die stoomtreine ook al hoe meer ingespan vir ander vervoerdoeleindes ook.

Die Klas 6 lokomotiewe was baie gewild want dit was vinnig, maklik hanteerbaar, sterk stomers met lae onderhoudskoste.

Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika (1910) het die 3 spoornetwerke in SA, naamlik Kaaplandse-, Natalse- en Sentrale Spoorweë verenig onder een sentrale administratiewe vereniging vir spoorlyne en hawens nl SAS en H.

1912 het SAS en H die klas 6 stoomlokomotiewe weereens hernommer.

Nadat die Klas 6 Stoomlokomotiewe reeds 80 jaar diens in SA verrig het, is hulle onttrek gedurende die 70-tiger jare en mettertyd vervang deur Elektriese Lokomiewe en Diesel “monsters”.

Die stoomlokomotiewe was “dors” en het baie water nodig gehad, die kleinste vonkie kon verwoestende veldbrande veroorsaak, was stadiger, kon kleiner vragte hanteer en het meer personeel nodig gehad as die Dieselmonsters. Die bekostigbare dieselpryse destyds het die uitfasseringsproses versnel .

Van hierdie stoomtreine het net kosbare herinneringe oorgebly. Die wit wolke bokant die lokomotief, die tik-tok van die wiele, die poef-paf van die enjin, die fluit van die stoomlokomotief, die koes vir die swart roet as jy durf waag om by die venster uit te loer.

VEREENIGING 6B 500 STOOMLOKOMOTIEF

Hierdie spesifieke stoomlokomotief was al voor die Unie van Suid-Afrika tydperk reeds in Kaap die Goeie Hoop werksaam.

Die lokomotief is vervaardig in 1898 in Glasgow Skotland deur die maatskappy Nielson & Comp, in 1914 herbou in Soutrivier en in 1973 herstel in De Aar voor dit in Vereeniging ñ finale rusplek gevind het voor die Vereeniging Stasiegebou.

Die stoomlokomotief het diens gedoen as no 5133 voor dit geklassifiseer is as SAR Klas 6B no 500. Die enjin nommer 489.

Die lokomotief weeg ongeveer 50 ton , aangedryf deur kole en water (stoom). Die waterkapasiteit sowat 10 800 liter.

Lengte 53 voet 10 duim (16, 4m ), die aandryf wiele 4 voet 6 duim diameter (1, 37m).

Groot sorg is in De Aar geneem om die stoomlokomotief so na as moontlik aan oorspronklike vorm te kry Vooraan is ñ beesrooster aangebring en die oorspronklike bell-tipe koppelstuk is ook aangebring.

Bitter min van hierdie lokomotiewe het behoue gebly.

6B 500 Vereeniging Stasie

6B 490 Uitenhage Spoorweg museum

6B 498 Fort Klapperkop

VEREENIGING STASIE

Vereeniging Stasie het ñ ryke geskiedenis wat vanaf 1890 reeds ñ belangrike rol in Suid-Afrika se spoorweë gespeel het, veral in die vervoer van steenkool en ander goedere na Johannesburg en na ander groot sentra in die land.

Die stasie was ñ lewendige kuierplek waar ouers gekuier het en hulle kinders heen geneem het om in die ou statige en netjiese stoomlokomotief te speel terwyl die beroemde “Stasie-pie en Gravy” en Stasiekoffie in ñ silwerskion Stasie Restaurant geniet is.

Ongelukkig het die Vereeniging Stasie stadig maar seker begin agteruitgaan. Van die eens spoggerige diensverskaffer wat jaar na jaar die toekenning ontvang het as die netjiesste stasie in die land het net ñ skadu oorgebly. Verwaardlosing het ingetree en ñ halfvoltooide “Taxi-Rank” en onbeheerde informele verkopers het die proses aangehelp en die area bitter onveilig gemaak.

Die stoomlokomotief is stuk vir stuk gestroop en net ñ treurende raakwerk het oorgebly (2021).

Verskeie pogings is al aangewend om die ou historiese lokomotief na ñ veiliger terrein te skuif soos bv na die omheinde area van die Vryheidsmonument.

Afriforum, Vryheidsfront -Plus en FAK Vaaldriehoek Kultuurnetwerk was van die organisasies wat vrugteloos onderhandelings gevoer het.

https://vaalweekblad.com/…/vryheidsfront-plus-wil…/

Weens onsekerheid en dispuut oor wie verantwoordelik is vir die lokomotief, wie die toestemming vir verskuiwing moet verleen, wie die geweldige kostes moet dra van restourasie, herstel en verskuiwing is daar telkens deur rompslomp en traagheid voor dooiemansdeur gestuit. Wie is verantwoordelik? PRASA of Vereeniging Stadsraad Sedibeng of Erfenisstigting?

Ondertussen is die ou lokomotief openlik gestroop van elke moontlike stukkie metaal, selfs die dakkie is afgesteel. Bykans onherstelbaar gestroop.

2023 NUWE HOOP

MEI 2023 het Axton Matrix Construction, ñ maatskappy wat die kontrak verkry het om die Taxi-staanplekke op te gradeer, begin op eie inisiatief en eie onkostes met kosmetiese opgradering van die ou Stoomlokomotief voor Vereeniging Stasie.

Die lokomotief is skoongemaak en netjies geverf.

Rondom is ook skoongemaak.

ñ Tuintjie word beplan, so ook ñ inligtingsbord met inligting oor hierdie spesifieke Stoomlokomotief 6B 500.

Volgens Mnr Kuali, Projekbestuurder van Axton Matrix, het die maatskappy onderneem om vir 2 jaar die terrein te versorg, waarna dit weer terug oorhandig sal word aan PRASA.

Bronne: Vereeniging Geskiedenis http://monument-sa.co.za/vereeniging-geskiedenis/, Vereeniging Teknorama, Daily Maverick, Internet, Facebook, Vaalweekblad 1973.

Foto’s: Internet. Vereeniging Teknorama, Facebook, Gys Ströh snr 2019, 2020, 2021, 2023.

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae