Uniondale / Die Spookvrou

Uniondale

Die Spook van Uniondale

SPOOKVROU VAN UNIONDALE

Uniondale is ñ klein dorpie in die Klein-Karoo, Wes Kaap.

Hierdie dorpie is al in 1856 gestig.

Uniondale is bekend vir die spookvrou wat al verskeie kere laatnag op die eensame pad tussen Uniondale en Langkloof aan motoriste verskyn het.

Hierdie mooi jong vrou staan glo langs die pad en duimgooi.

Verskeie motoriste het al beweer dat hulle hierdie swygsame vrou opgelaai het en dat sy net buite die dorp skielik uit die motor verdwyn het, diwels sonder dat daar ñ deur of venster oopgemaak is.

Verskrikte motoriste het selfs al die voorval by die Polisie gaan aanmeld. Selfs ñ motorfietsryer of 2 het na bewering al hierdie jong vrou opgelaai wat dan ook net so eensklaps weer verdwyn het.

Die eensame vrou verskyn gewoonlik Paasnaweek, veral Goeie Vrydag, net na middernag terwyl ñ ligte herfswindjie waai. Sy staan naby die 2de Barandas afrit, net daar waar die pad so draai maak.

Sy hou haar duim omhoog asof sy ñ geleentheid soek. ñ Motoris wat haar al opgelaai het sê dat sy net ñ adres gegee het en verder geswyg het, maar verdwyn het toe hy aanwysings wou vra.

Party motoriste vertel dat die kar se deur geheimsinnig oop en toe gegaan het met die vrou se verdwyning.

Die vrou maak ook geen oogkontak met die motoris nie.

Ook net motors met eensame bestuurders wat haar al opgemerk het.

Daar is al minstens 6 gevalle opgeteken van motoriste wat haar opgelaai het en dit is almal eerbare betroubare mense aan wie se woord daar nie twyfel gegee kan word nie.

Hierdie spookvrou se verskyning is die eerste maal in 1976 aangeteken en sedertdien het sy weer verskeie kere verskyn.

Daar is baie bespiegelinge al gemaak oor wie die spookvrou is, maar geen bewyse kon nog ooit aan hierdie verskynings gekoppel word nie en bly bloot gissings.

Sommige mense koppel hierdie voorvalle aan grusame motorongelukke wat al op daardie pad plaasgevind het.

Om hierdie raaisel nog dieper te maak verskil die beskrywings van die geheimsinnige meisie. Party beskryf haar met lang blonde hare, geklee in ñ lang wit romp en ñ gehekelde baadjie.

Ander weer as fyngeboude donkerkopmeisie met ñ donker langbroek aan.

Is dit moontlik dat daar meer as een spookmeisie in Uniondale is?

Wie is díe Spookmeisie?

Ons sal nooit verseker weet nie.

GROOT STORM OOR ñ SEMENTBEELD

Uniondale is alom bekend vir sy Spookvrou. Anton Goosen het al ñ liedjie hieroor geskryf en daar is selfs al ñ film of 2 oor haar gemaak.

Julie 2023 het die Toerismekomitee van Uniondale ñ 2,2 meter sementbeeld van ñ vrou by die een ingang na Uniondale, Willowmore se rigting, langs Voortrekkerstraat staangemaak.

Die beeld is gemaak en geskenk aan Uniondale deur die beeldhouer Ian Visser van Hoekwil George ter wille van bemarking.

Klein dorpies het bemarking en besoekers broodnodig ten einde te kan oorleef en voortbestaan.

ñ Plaaslike sakeman het ñ voetstuk gebou vir hierdie beeld van ñ vrou.

Die gedagte is om die groot aantrekkingskrag na Uniondale vir besoekers te ontgin en te gebruik, nl die legende van die Spookvrou. Dit is immers deel van die dorp se geskiedenis.

Die beeld het nie bepaalde herkenbare karaktereienskappe nie. Die beeld is slegs ñ illusie. Soos enige ander kunswerk is dit in die oog en verbeelding van die toeskouer om ñ eie vertolking en eie interpretasie te koppel aan die beeld.

Volgens die kunstenaar, Ian Visser, is daar 3 aspekte wat hy probeer vasvang het met die beeld.

1. Motoriste vertel van ñ skielike yskoue windjie en dit het hy vasgelê in die rok en hare wat waai in die wind.

2. Die reuk van appels wat motoriste van getuig, daar die appel in haar regterhand.

3. Die vrou verdwyn elke keer skielik. Die gryswit kleur stel hierdie geheimsinnigheid voor.

Die beeld is al ñ geruime tyd terug voltooi, maar die vind van ñ geskikte plek om haar te plaas het baie kopkrap geverg.

Aanvanklik is beplan dat sy in die pas net voor Uniondale se ingang opgerig sou word, maar Pad Adminstrasie het dit as te gevaarlik vir motoriste beskou.

Daar is toe besluit op die Willowmore ingang aangesien die ander ingang te besig is en daar nie parkeerruimte vir nuuskierige motoriste en ywerige fotograwe is nie. Ook trek sy daar die reisiger se oog na die ou Engelse Fort in die agtergrond wat dateer ongeveer 1903.

Daar word ook beplan om op ñ later stadium ñ inligtingsbord by die beeld te plaas.

Sommige inwoners van Uniondale is heftig gekant teen hierdie beeld om verskeie redes o.a.vrae oor befondsing van beeld en simpatie met die naasbestaandes van diegene wat húlle glo die dwalende meisie is of was. Die identiteit van die beweerde spookvrou is egter bloot bespiegelings en afleidings, geen bewyse kon nog daarvoor gevind word nie.

DIE WAARHEID OOR SPOOKSTORIES (Dr. Arthur Bleksley.. Geeste en Gedaantes deur Nienaber).

“Die geloof in spoke strek deur die ganse geskiedenis van die mens.

Van die vroegste tye af, en in alle lande, was daar mense wat oortuig was dat daar so iets bestaan, dat die geeste van afgestorwenes nog steeds die aarde kan bewandel, dikwels in ñ kwasie materiële vorm…

Hierdie verskynsels word oor die algemeen na die ondervindings van groot getalle mense, as outentiek beskou en met ñ sterk gevoel van eerbied en vrees begroet.

Maar juis omdat die menslike vermoë om logies te redeneer of om akkuraat waar te neem in sulke omstandighede waar die emosies so sterk op die spel is, nie altyd te betroubaar is nie, het dit onder beskaafde mense die mode geword om al sulke verhale as blote versinsel, so nie verdigsel, te aanvaar.

Maar dit is verkeerd.

Wat nodig is, as ons wetenskaplike oordeel oor hierdie sake wil uitspreek, is om die getuienis onder die soeklig te wil stel, om te probeer vasstel of daar in die verhale iets veel meer steek as net menslike dwaling of bedrog.

Gevalle van beweerde spoke moet op dieselfde manier ondersoek word as in die geval van ñ regsaak.”

Spookstories is verseker al deel van ons legendes en geskiedenis. Of ons nou liggelowig of ongelowig is, dit word oorvertel.

Niks kan bewys word nie of afgelag word nie.

Wat wel ñ feit is, is dat spookstories al hoe minder word.

Moontlik het die heldere elektriese ligte wat skadu’s van lampe en kerse verdryf het iets daarmee te doen. Reise per motor in ons gejaagde besige lewe kan verseker ook nie dieselfde waarnemings doen as ñ eensame ruiter donkernag op ñ verlate pad te perd nie.

Ondertussen kan ons net hierdie volksverhale en legendes opteken en oorvertel en tog skelmpies versigtig oor jou skouer loer na wat daardie koue rillings dan so skielik agter in jou nek veroorsaak.

Bronne en Foto’s: Facebook. Dankie Andrè du Plessis en Francois Oosthuizen.

Kunsyenaar Ian Visser, eienaar van Cornerstone Creek-Kunsgalery in Hoekwil.

George Harald Donderdag 31 Augustus.

Samesteller: Kobie Ströh Vaaldriehoek Kultuurnetwerk

Maak 'n opvolg-bydrae