Strydomplein Pretoria / Vryheidsbeeld / JG Strijdom / Strijdomhuis Nylstroom

Strydomplein Pretoria

Vryheidsbeeld

JG Strydom / Strijdom Beeld

Onthul 31 Mei 1972 Strydomplein

Stort ineen 31 Mei 2001

Her-onthul 31 Mei 2003 Nylstroom by Strydomhuis

JG STRIJDOM

Advokaat JG Strydom het sy hele lewe geveg vir die ontstaan van ‘n Republiek van Suid-Afrika, ‘n soewerein onafhanklike Republiek.

Hierin het hy ‘n onbetwisbare rol gespeel in die erkenning van ‘n enkele eie vlag, volkslied en erkenning van Afrikaans as o.a. regstaal.

Alhoewel die Republiek eers ‘n werklikheid geword het na sy dood, kan hy inderdaad gereken word as die vader van die Republiek van Suid-Afrika.

Hy sterf 13 Sept 1958 terwyl hy in die amp van die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika gestaan het.

Die Republiek van Suid-Afrika onstaan 31 Mei 1961.

Binne ‘n maand na sy dood word daar reeds die idee geopper om ‘n gedenkteken of beeld vir hom op te rig, maar dit bly by planne.

Selfs beeldhouer Coert Steynberg ondersoek die moontlikheid om ‘n beeld van JG Strijdom uit rots te kap bo-op die kruin van Kranskop naby Nylstroom.

1965 word ‘n nuwe komitee saamgestel wat dadelik aan die werk gespring het om hierdie ideaal uit te voer. Coert Steynberg, Danie de Jager en die argitekte Roelf en Hans Botha was deel van hierdie span.

Die opdrag:

1. Die Strijdom Monument en idee van Vryheids-gedenkteken moet saamgevoeg word en

2. Die monument moet in Pretoria opgerig word.

Dadelik is daar begin om te soek na ‘n geskikte koppie by Pretoria vir hierdie doel.

STRIJDOMPLEIN

Daardie tyd was argitek Hans Botha besig met die beplanning van die Staats Teater en die skep van ‘n oop ruimte of plein in die middestad van Pretoria as aantrekkingskrag vir besoekers.

Hierdie plein sal dan op die ou markplein van Pretoria wees, in Kerkstraat.

Hans Botha se voorstel dat hierdie plein ideaal sal wees vir so ‘n beeld is dadelik aanvaar en die Strijdomplein ontstaan.

Die monument moet 2 elemente bevat, nl ‘n beeld van Adv JG Strydom en ‘n voorstelling van die Vryheidsideaal van die volk.

HANS STRIJDOM VRYHEIDSBEELD

Adv Strydom was ‘n man met normale lengte en bou. Om net ‘n beeld te maak sou geensins uitstaan nie.

Sy kleredrag was ook geensins uitsonderlik nie en sou “vreemd” en betekenloos wees.

Die uitsonderlikheid van hierdie man lê in sy gesig. Sterk gelaatstrekke wat doelgerigtheid, vurigheid, opregtheid en Godvresendheid uitgestraal het.

‘n Ferm forse kakebeen wat dui op vasberadenheid en wilskrag.

Ferm lyn van lippe wat deursettingsvermoë wys. Die skerp deurdringende oë, die vensters van die siel, wat opregtheid, vurigheid en standvastigheid uitsttaal.

Die kop moet hierdie eienskappe beklemtoon en Strijdom se strewe van vryheid, ‘n eie Republiek uitbeeld en ook sy besielende leierskap.

Hiervoor het beeldhouer Coert Steynberg ñ brons kopbeeld van JG Strijdom gemaak (12 maal lewensgrootte) en op die vlak van die toeskouers geplaas.

‘n Vollengte beeld sou die gesig bo gesigveld van ñ toeskouer plaas, daarom is op net ñ kopbeeld besluit.

JAN F CELLIERS SE VRYHEIDWOORDE AS VOLKSIDEAAL

Op die voetstuk is die woorde van Jan Celliers in graniet uitgebeitel

“En as jou Vryheidsdag

Eens oor die velde lag,

Weet wie te danke is,

Eer hulle gedagtenis.”

STREWE NA VRYHEID

VRYHEIDS- EN EENDRAGTIGHEIDSBEELD

Om die vryheidsideaal en Reubliekstrewe uit te beeld is 4 jong vurige perde geskep.

Beeldhouer Danie de Jager het 4 perde saamgevoeg, elke spier in hulle liggame styf gespan ‘n bondel energie en krag, reg om enige hek self oop te breek en uit te galop na die wye vrye velde buite.

Hierdie perde moet die vryheidstrewe uitbeeld en dus hoog, voor adv Strijdom se beeld wees. Die vryheidstrewe moet altyd hoog, altyd voor en altyd sigbaar wees.

Water uit ñ fontein het hoog opgespuit, vanuit die aarde. Die ideaal moet stuwend lewendig gehou word, soos die spuitende water.

GROOT KOEPEL

Om die 2 elemente van die Monument, die Strijdomkop en die perde as vryheidsimbool te verenig is ‘n groot skulpvormige beton koepel gebou. Dit moes die 2 elemente omsluit en afskei van die besige stadsomgewing, visueel kontrasteer met die hoekige gebouevorms rpndom en die oog lei na die beelde.

Die besoeker se oog is dadelik getrek na die effens beskutte Strijdomkop met die ferm gelaatstrekke wat dan sterk kontras vorm met die perdefigure in die felle sonlig en die stuwende ruisende water daaromheen.

Die Strydomkop kyk dan ook vorentoe , in die rigting van die perde wat die vryheidsideaal voorstel.

ONTHULLING 31 MEI 1972

31 Mei 1972, Republiekdag Viering, word hierdie beelde op Strijdomplein onthul deur Susan Strijdom.

INEENSTORTING 31 Mei 2001

Vroegoggend, voor honderde motors in die ondergrondse parkeerterrein onder die Strijdomplein kom parkeer, stort die beeld van JG Strijdom en die dak van die parkeerterrein ineen met ‘n groot slag.

Presies 40 jaar na die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika.

Die bronsbeeld word verbrysel, in 5 stukke gebreek. Heeltemal in ‘n gat ingeval.

Die Vryheidsimbool wat deur die 4 perde voorgestel word bly ongeskonde staan.

Later is die perde verskuif na die Hatfield kampus van die Universiteit van Pretoria waar hulle veilig bewaar word.

Die onverklaarbare ineenstorting se oorsaak is nog nooit bevestig nie.

Redes wat aangevoer is, was gebrekkige instandhouding, ingenieursfoute ens.

‘n Moontlike verklaring is dat die jarelange water van die fonteine en gedurige natspuit van blombeddings veroorsaak het dat die staalkabels wat die dak in posisie en vorm gehou het geroes het en geknak het aangesien dit onder groot spanning was.

Verdagte omstandighede soos die presiese datum en tyd wat die ineenstorting plaasgevind het, vermiste dele soos bv die een oor, het vrae en suspisies van sabotasie laat ontstaan.

Die feit dat hierdie verwoeste beeld onder nuwe bedeling as ‘n apartheidsmonument beskryf was en die onbeskadigde perde as Die 4 seisoene beeld het ook tot die suspisies van sabotasie bygedra.

HER-ONTHULLING 31 MEI 2003

”Vreiheid in Eendrag.”

Na die ineenstorting van die beeld is daar tydens onderhandelinge met verskeie staatsdepartemente besef dat die regering nooit sal toelaat dat beeld in sy herstelde vorm ooit weer op die Strijdomplein opgerig sal mag word nie. Die brokstukke is toe na die Voortrekkermonument geneem en daarna na Nylstroom vervoer, JG Strijdom se tuisdorp.

By die woning van Strijdom , Die Strijdomhuis, is die brokstukke weer opgebou met staal en sement tot ‘n herkenbare vorm.

Slegs tweederdes van die kopbeeld het oorgebly, dele was weg en selfs die een oor is nooit gevind nie. Die kop is opgevul met beton en op ‘n staal en beton voetstuk geplaas.

Die gebroke, herstelde beeld het nou ‘n nuwe simboliek.

Dit vorm nou ñ gebroke eenheid, simbool van die Boer-Afrikanervolk se verdeeldheid en gebrokenheid.

31 Mei 2003 word hierdie herstelde beeld onthul by die Strijdomhuis in Nylstroom deur JG Strydom se dogter Estelle en kleinseun JG Beyers.

Die beeld sal nooit weer soos die oorspronklike kan wees nie, maar die simboliek wat die oorspronklike beeld verteenwoordig nl Die Vryheidstrewe van ‘n Volk op ‘n vaste fondament van Eendragtigheid sal bly voortleef in die hart van die Volk.

Die beeld sal voortaan bekend staan as “Vreiheid in Eendrag.”

Die Ontwerpkomitee se boodskap was:

“By die aardse simboliek van die herstelde beeld bid ons die Here, die Almagtige, die enige Verbondsgod dat Hy die lot van ons volk weer sal verander.”

HUIDIGE SITUASIE

Die Strijdomhuis in Nylstroom het stadig maar seker begin agteruitgaan. Geen opknappingswerk of instandhouding is vir jare daar gedoen nie.

Weens die gevaar van groot skade het Erfenisstigting en FAK die huisinhoud, kosbare besittings van JG Strydom gaan verwyder in 2022. Van die inhoud is Voortrekkermonument toe en ñ gedeelte na Udolpho Kultuurplaas naby Parys Vrystaat. Hier word dit in die huismuseum Ouma se Huis bewaar.

Die optrede was ook net betyds want kort daarna het ‘n gedeelte van die Strijdomhuis se dak ingeval.

Vroeg 2023 het bykans die helfte van die dak geval en die een sygewel het inmekaar gestort.

Tans (Augustus 2023) staan die huis leeg. Die hekke is gesluit die ingevalle dak ‘n tragiese gesig.

Die groot kop is nog daar, maar uiters verwaardloos. Stuk-stuk begin dele van gesig weer afval.

Hopelik sal hierdie beeld eersdaags weer geskuif kan word na ‘n veiliger terrein toe, want die kans dat die Strijdomhuis ooit herstel sal kan word is bitter skraal.

Bronne: Internet. Facebook. Vryheidsbeeld onthul

Foto’s: Geleen vanaf Internet en Facebook. Gys Ströh snr Augustis 2023

Samesteller: Kobie Ströh (Vaaldriehoek Kultuurnetwerk)

Maak 'n opvolg-bydrae