Simboliese Ossewatrek 1838 – 1938 / Kinderherinneringe / Seëls / Gedenkseëls / Voortrekkermonumentseëls

Simboliese Ossewatrek 1938

(eggsa Ingestuur deur Kobie Ströh)

Kinderherinnering aan die groot geleentheid

Uit : MONUMENTE EN GEDENKTEKENS OPGERIG TYDENS DIE SIMBOLIESE OSSEWATREK EN VOORTREKKEREEUFEES, 1938

Deur VICTORIA REGINA HEUNIS

Die Simboliese Ossewatrek wat op 8 Augustus 1938 by die Van Riebeeck-standbeeld in Kaapstad begin het en op 16 Desember 1938 met die hoeksteenlegging van die

Voortrekkermonument in Pretoria geëindig het, het tydens die honderdjarige herdenking van die Groot Trek grootliks tot die oplewing van Afrikanernasionalisme en Afrikaneridentiteitsvorming bygedra.

Tydens die Voortrekkereeufeesvieringe in 1938 het die waens na beraming by meer as vyfhonderd dorpe en plekke aangedoen waar entoesiasties feesgevier is met historiese optogte en opvoerings, kerkdienste, toesprake en feesredes en die lê van ’n klipstapel of die onthulling van ’n monument of gedenkteken wat spesiaal vir die geleentheid opgerig is.

Haas in elke dorp waar die waens aangedoen het, is spontaan ’n reëlingskomitee gestig wat vir die organisering en uitvoering van feestelikhede verantwoordelik was.

Daar was nie veel amptelike aanmoediging nodig nie en die waens is keer op keer gulhartig en spontaan deur die plaaslike gemeenskap en publiek ontvang wat met hart en siel aan die verrigtinge deelgeneem het.

Die waens is met Afrikaanse volksliedjies en volksdanse begroet, toesprake en lesings is aangebied, toeskouers het tradisionele Voortrekkerdrag gedra, mans het spesiaal baarde vir die geleentheid gekweek, straatname is na bekende Voortrekkerleiers verander, kinders is by die waens gedoop (’n paar is selfs Eeufesia of Ossewania gedoop), paartjies het by die waens getrou en kerklidmate is voorgestel, spesiale gedenkkoeverte is uitgereik en kultuurhistoriese oudhede, asook geskenke vir die Trek is vir die toekomstige museums by Hartenbos en die Voortrekkermonument

ingesamel.

KINDERHERINNERINGE

Herinneringe van Joshua Benjamin Haarhoff gebore 6 Maart 1930 te Wynberg Kaap.

Woonagtig op Worcestor gedurende die Simboliese Ossewatrek 1938.

Huidig woonagtig op 88 jarige ouderdom te Vanderbijlpark.

“Ek onthou.

Maande lange voorbereiding vir die besonderse geleentheid. Die manne wat lang baarde laat groei en die vroue aan die stik vir hulle uitrustings.

Groot opgewondenheid heers met die afwagting van die ossewa in Worcester op die kerkplein en langs Kerkstraat.. Die manne met die baarde en die vrouens met hulle kappies wag almal terwyl daar gesing en Volkspele gedoen word op die plein.

Die ossewa is op pad vanaf Wellington na Worcestor oor die Bainskloofpas.

Tot by die witbrug aansluiting is ‘n lang teerpad van 60 myl

Die osse se voete word so seer van die teer dat hulle nie verder kan trek nie. Met groot moeite word die osse uitgespan en op ‘n vragmotor gelaai tot voor dorp. Daar word hulle afgelaai en weer ingespan om ossewa deur die dorp te trek. Hierdie groot poging word weer en weer herhaal sodat osse wa deur elke dorpie kan trek.

Ek het vir my koeverte met monument seëls gekoop, aan myself geadresseer en in die wakis op die plein gaan pos. Die wa het dit saamgeneem waar dit vanaf Pretoria weer gepos is. Al die jare bewaar ek dit soos ‘n kleinood.

Ons kinders het almal klippe saamgebring om ‘n klipstapel te pak op die kerkplein. Die klipstapel was baie groot, ek skat deurkosyn hoogte. Ek wonder of die klipstapel vandag nog daar is. ”

Simboliese Ossewatrek 1938

Opgedateer: 2023 met latere onthougoedjies en afsterwe:

Herinneringe van

Joshua Benjamin HAARHOFF gebore 6 Maart 1930 te Wynberg Kaap.

Oorlede 22 April 2023 Vanderbijpark. (Sasolburg)

Woonagtig op Worcestor gedurende die Simboliese Ossewatrek 1938.

Woonagtig vanaf 1956 tot 2023 in Vanderbilpark.

Woon tot op 93- jarige ouderdom in sy eie huis te Vanderbijlpark.

Kort siekbed in hospitaal Vanderbilpark agv van verswakking.

Sterf rustig na net 4 dae in ñ versorgingsinstansie, Ons Gryse Jeug, Sasolburg.

Pa Joshua oor Simbolies Ossewatrek 1938:

“Ek onthou:

Maande lange voorbereiding vir die besonderse geleentheid. Die manne wat lang baarde laat groei en die vroue aan die stik vir hulle uitrustings.

My eie ma, ñ ywerige en bekwame naaldwerkster, het vir haar en my pa spesiale uitrustings gemaak.

Voortrekkerrok en kappie vir haar en Voortrekkerklere vir Pa.

Voortaan moes ons kinders hulle ook as Moeder en Vader aanspreek. Hierdie aanspreekvorm het geduur tot hulle afsterwe.

Groot opgewondenheid heers met die afwagting van die ossewa in Worcester op die kerkplein en langs Kerkstraat.. Die manne met die baarde en die vrouens met hulle kappies wag almal terwyl daar gesing en Volkspele gedoen word op die plein.

Die ossewa is op pad vanaf Wellington na Worcestor oor die Bainskloofpas.

Ons kinders was so opgewonde en ek het op my fiets gespring om te gaan kyk wanneer die wa aankom.

Met groot verbasing gesien dat wa en osse net voor die dorp van vragmotors afgelaai word.

Tot by die witbrug aansluiting is ‘n lang teerpad van 60 myl

Die osse se voete het so seer geword van die teerpad dat hulle nie verder kan trek nie. Met groot moeite word die osse uitgespan en op ‘n vragmotor gelaai tot voor dorp. Daar word hulle afgelaai en weer ingespan om ossewa deur die dorp te trek. Hierdie groot poging word weer en weer herhaal sodat osse die wa deur elke dorpie kan trek.

Ek het vir my koeverte met monument seëls gekoop, aan myself geadresseer en in die wakis op die plein gaan pos. Die wa het dit saamgeneem waar dit vanaf Pretoria weer terug gepos is. Al die jare bewaar ek dit soos ‘n kleinood.

Ek het dit vir my dogter gegee om te bewaar.

Ons kinders het destyds almal klippe saamgebring om ‘n klipstapel te pak op die kerkplein. Die klipstapel was baie groot, ek skat deurkosyn hoogte. Ek wonder of die klipstapel vandag nog daar is. ”

Dit kon ek ongelukkig nog nie opspoor nie… Kobie.

DANKIE PA DAT PA VIR ONS DIE LIEFDE VIR ONS LAND EN SY GESKIEDENIS GEKWEEK HET.

DANKIE DAT PA AL HIERDIE KOSBARE HERINNERINGE MET ONS GEDEEL HET.

EK WENS EK KON NOG BAIE BAIE MEER NEERSKRYF.

DANKIE HERE VIR SY HELDERE VERSTAND EN UITSONDERLIKE GEHEUE.

MY GROOTSTE NAVORSINGSBRON HET EK VERLOOR.

RUS IN VREDE LIEFSTE PA JOSHUA (Kobie Ströh)

Foto’s Joshua Haarhoff en klener boetie Hannes Haarhoff, Wa trek die dorp in, Worcestor NG Kerk, Kilkstapel word deur seuns gepak Kerkplein Worcestor, Gedensteen Ceres, Joshua Benjamin Haarhoff en vrou LCM van Deventer Haarhoff

Seëls Simboliese Ossewatrek 1838 – 1938

Die Voortrekkermonument-seëls

Reeds in 1895 toe die hoeksteen van die Bloukransmonument in Natal gelê is, is besluit dat daar ‘n monument opgerig moet word ter ere van al die Voortrekkers. ‘n Komitee is gestig wat later tot niet gegaan het.

In 1909 is weer ‘n komitee gevorm wat fondse ingesamel het vir die terugkoop van die Voortrekkerkerkie op Pietermaritzburg en die komitee het besluit om hulle later te beywer vir die oprigting van ‘n monument ter ere van Piet Retief en die Voortrekkerleiers. Die Voortrekkerkerkie is teruggekoop en op 16 Desember 1912 aan die regering oorhandig en een van die voorwaardes was dat die komitee ‘n monument op die terrein van die kerkie mag oprig. Die komitee was onder die indruk dat die Regering vir so ‘n monument sou bydra. Ongelukkig het die Wêreldoorlog gekom en die monument se saak was vir ‘n paar jaar hangende. Verskeie pogings is aangewend maar eers in 1931 is besluit om die Sentrale Volksmonument Kommitee (SVK) te stig met opdrag om ‘n waardige monument op te rig met mikpunt om die monument te onthul 16 Desember 1938 tydens die eeufeesvieringe. Die SVK het dadelik aan die werk gespring maar dit was depressietyd en die publiek kon nie op groot skaal bydra vir die monument nie. Met die goedkeuring van die Regering is posseëls uitgegee wat elke een in staat sou stel om deur die koop daarvan iets tot die fonds by te dra. In samewerking met die regering is op die terrein buite Pretoria besluit.

Die Voortrekkermonument- seëls

Hierdie stel seëls was die eerste posseëls waarmee fondse ingesamel is vir die oprigting van die Voortrekkermonument. Die seëls is in 1933 in omloop gebring en op 31 Oktober1938 gestaak toe die Eeufees- en herdenkingsseëls uitgebring is.

Die stel het uit 4 posseëls bestaan wat elkeen ‘n portowaarde sowel as ‘n monumentfondswaarde gehad het. Elke seël het 2 waardes opgehad om aan te dui watter deel vir boufonds aangewend sou word.

d. Duwweltjie, of Pennie

1d. seël ( ½d. porto + ½ fonds)

1½d. seël ( 1d. porto + ½ fonds)

3d. seël ( 2d. porto + 1 fonds)

4½ d. seël ( 3d. porto + 1½ fonds)

Hierdie stel seëls was om die beurt in Afrikaans en Engels gedruk.

Die 1d. seël was groen met die Geloftekerk te Pietermaritzburg daarop afgebeeld.

Die 1½ d. seël was pienk met ‘n afbeelding van ‘n kakebeenwa wat met moeite oor ‘n steil gevaarlike berg gaan. Die ou Cradock-pas, een van die eerste bergpasse om George met Oudshoorn te verbind.

Dir 3d. seël was pers met die beeld van ‘n turende burgerwag wat sit (soos een van die 4 figure op die Krugerstandbeeld ook).

Die 4½d. seël was blou met ‘n peinsende Voortrekkervrou.

Soms is hierdie seëls op koeverte van die Ossewatrek-briefpos geplak.

Sien bygaande fotos verkry van JB Haarhoff wat onthou dat hy die seëls in Des 1938 op Worcester se plein voor die kerkgebou gekoop en gepos het in ‘n wa-kis. Hy onthou ook die lang baarde van al die manne en die kappies en voortrekker rokke van die vrouens. Baie Volkspele is gedoen en hulle het ook by die kerk ‘n klipstapel gepak. Hierdie seëls het hy nog al die jare bewaar as kosbare kleinood.

Die 1949-Inwydingseëls

Met die oog op die inwyding van die Voortrekkermonument Desember 1949 is weer ‘n stel spesiale seël uitgegee.

Drie spesiale seëls is ontwerp deur die bekende kunsskilder WH Coetzer.

Die 3 seëls 1d. ,1½d. en 3d. is in omloop gebring, elkeen net vir die portowaarde, dus geen bydrae vir die fonds nie.

1d. seël:

Maak 'n opvolg-bydrae