Riksja / Durban / Vervoer / Geskiedenis van die Riksja

RIKSJA

DURBAN

(deur Kobie Stroh)

Die energieke Riksja’s met hulle kleurvolle uitrustings daar langs die Promenade in Durban is sinoniem met Durban, Suid-Afrika se tropiese stad waar Oosterse, Westerse en Afrika-kulture ontmoet.

Hierdie Riksja’s is een van Durban se grootste toeriste aantreklikhede.

MAAR WAT IS ‘n RIKSJA?

Die woord Riksja (Rickshaw / Ricksha) is afkomstig uit Japan waar die woord jinrikisha of jinrickshaw ‘n mensaangedrewe voertuig beteken.

‘n Riksja is ‘n 2-wiel kar, met ‘n disselboom, getrek deur ‘n man. Gewoonlik sonder deure, met ‘n stoeltipe-bakwerk en ‘n afslaandakkie of kappie. So ‘n riksja kan 1 of 2 passasiers vervoer.

Riksja’s het ontstaan in Japan waar dit as ‘n algemene vervoermiddel gebruik was.

RIKSJA’S IN SUID-AFRIKA

Ongeveer 1893 is die eerste Riksja’s na Natal gebring deur die suikermagnaat Sir Marshall Campbell. Dit was ingevoer vanuit Japan en hier omgebou om 2 sitplekke te verskaf. Teen 1903 was daar reeds meer as 1 000 riksja’s gereeld gebruik as openbare vervoermiddel. Riksja’s was in Durban (Port Natal), Pietermaritzburg, Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, Johannesburg en ook in Rhodesië gebruik as vervoermiddel.

In Natal is Zoeloes spesiaal opgelei om die Riksja-karre te trek.

1904 was daar ongeveer 2000 geregistreerde Riksja’s.

Die stad Durban se strate het teen die 1930’s gewemel van die Riksja’s, meer as 1000 ryklik versierde Riksja-karretjies was oral te sien. Die Riksja-karre was kreatief versier met kleurvolle kralewerk, diervelle, spieëltjies, vere en allerhande ander helderkleurige artikels.

Die Zoeloemanne was ook kleurvol en tradisioneel aangetrek. Met trots en vol energieke mannewales het hulle die aandag getrek. Jaarliks is daar ook kompetisie gehou met groot eer en pryse aan die beste mondering en versierings.

Geleidelik het die Riksja’s in Suid-Afrika begin verdwyn en net in Durban agtergebly.

Die motor as transport het hierdie openbare vervoermiddel vervang. Die einde het veral gekom na WWII.

Die nywerheidsoplewing na die oorlog het veroorsaak dat beter werke in fabrieke beskikbaar geword het, beter finansiële posisie en dat vervoer verander het.

Teen 1970 het Riksja’s in Suid-Afrika feitlik verdwyn. Die oorblywendes was reeds ‘n aantal jare al net gebruik as toeriste aantreklikhede.

Net in Durban langs die Goue Myl kon hierdie vrolike springende Zoeloes met hulle pragtige versierings en versierde Riksja-karretjies nog geniet en bewonder word.

RIKSJA’S TANS IN SUID-AFRIKA

Die enigste plek in Suid-Afrika waar daar nog Riksja’s aangetref word is in Durban.

Daar is minder as 10 van hulle oor.

Langs die Promenade in Durban kan toeriste teen ‘n stewige fooitjie so kort ritjie op die sypaadjie geniet. (Verkeer het nog nooit van hulle in die besige strate van die stad gehou nie.)

Skud jou sak as jy dit waag om‘n foto van hulle te neem.

Van vroeër dae se energieke skouspel en glorie het bitter min oorgebly, maar dit is darem nog daar!

Samesteller: Kobie Ströh

Foto’s: Facebook. Dank aan Nico Moolman

Maak 'n opvolg-bydrae