Motmuis leer van Suid-Afrika / Geskiedenis Boek 1 / Nommer 14 / Jan van Riebeeck kry swaar

Motmuis leer van Suid-Afrika (Deel 1 http://monument-sa.co.za/motmuis-leer-van-suid-afrika…/)

Geskiedenis Nommer 14

JAN VAN RIEBEECK KRY SWAAR

“Motmuis, ek hoor jy is so nuuskierig en wil graag leer.”

“Oupa Motmuis, ek is nie nuuskierig nie.

Ek wil net graag slim word soos Oupa.

Ek wil alles weet van Suid-Afrika.”

“Motmuis, Oupa is so trots op jou.

Suid-Afrika is so ń mooi land.

Suid-Afrika se geskiedenis is so interessant.

Maar kom ek vertel jou gou van Jan van Riebeeck se eerste paar maande in die Kaap.

Hy het maar swaar gekry.

Eers moes hulle ń fort en blyplekke bou van hout en grond.

Dit was baie harde en moeilike werk.

Die manne was soldate en matrose en het niks geweet van hout kap en saag en bou nie.

Hulle kon ook nie almal slaap nie, party moes wagstaan.

Die Hottentotte steel hulle goed en die leeus is baie en wil hulle ook opvreet.

Hulle was baie moeg.

Hulle was baie honger.”

“Oupa, hoekom was hulle honger?

Was daar dan nie kos in die Kaap nie?”

“Motmuis, hulle was mos maande lank op die see.

Die kos wat hulle saamgebring het is lankal opgeëet.

Jan van Riebeeck het saad saamgebring en dadelik begin plant.

Groentesaad en pitte om bome te laat groei.

Appelpitte en lemoenpitte en koolsaad en wortelsaad en sommer baie ander soorte ook.

Saad vat lank om te groei.

Jan van Riebeeck het ook net voor die winter in die Kaap gekom.

Weet jy wat doen plante in die winter?”

“Ja Oupa, plante rus. Hulle groei nie.

Ons plant mos eers in die lente.”

“Jy is reg Motmuis.

Weet jy hoe is die Kaapse winter?

Hoekom is dit eers die Kaap van Storms genoem?”

“Ek weet Oupa!. In die winter is dit koud en nat in die Kaap. Dit reën daar in die winter.

Die wind waai vreeslik en veroorsaak groot storms op die see.”

Fiktiewe stories uit die geskiedenis.

Geskryf deur Kobie Ströh vir ons kleinkinders tydens die Covid Isolasietydperk.

Foto’s en illustrasies: Geleen vanaf Internet

Maak 'n opvolg-bydrae