Kosmos / Lewende Monument / ABO / Kakiebos

Kosmos

Suid-Afrika se Lewende Monument

Elke jaar herfs word ons hier op die Hoëveld begroet met hierdie skouspel van pienk en wit.

Kosmos is genade blomme. Jy plant hulle nie, jy saai hulle nie, maar as jy weer kyk is hulle daar al langs die paaie.

Mense ry spesiaal agterpaaie om hierdie blommeprag te aanskou. Gratis en verniet, soos in volksmond : Kosmos kos-mos niks.

KOSMOS BLOMME

Kosmos is eintlik lid van die Meksikaanse asterfamilie en familie van die sonneblom of madeliefiefamilie en selfs ook nou verwant aan die gousblomfamilie.

Hierdie plante het min sorg nodig. Groei welig in turfgrond, is verdraagsaam teenoor droogte en hou van warm weer.

Eenjarige plante wat 2 keer per jaar verskyn. In lente en veral in herfs. Die blomme het ń kort leeftyd, kort-dag-blomme.

Daar is nogal ń groot verskeidenheid beskikbaar, meer as 20 variasies, kosmosplante/soorte.

Deesdae word kosmos in Sjina gekweek.

OORSRONG EN NAAM

Kosmos kom oorspronklik van Suid-Amerika en veral Meksiko af.

Die woord “kosmos” kom van Grieks af en beteken orde, harmonie, wêreldheelal, m.a.w. ń geordende heelal.

KOSMOS IN SUID-AFRIKA

Kosmos is nie ń inheemse plant nie.

Kosmos is nou verweef met die geskiedenis van Suid-Afrika.

Tydens die ABO (Anglo-Boereoorlog) is perdevoer vanaf Argentenië na Suid-Afrika ingevoer om die duisende Britse perde te voer. Die voer het kosmossaadjies ingehad en soos die troepe en die perde beweeg het, het die saadjies in die grond beland, ontkiem en gegroei.

Die bloedige oorlog se gevolg is vandag nog, meer as 120 jaar verder, ń jaarlikse blommeskouspel.

ONKRUID

Plaasboere is nie altyd beïndruk met hierdie kosmos nie. In sommige streke raak dit ń onkruidprobleem vanweë die groot hoeveelheid saad wat dit versprei en die vinnige groei. Kosmos is moeilik om uit te roei. Ten spyte hiervan bewonder ons hierdie dankbare, nederige plant.

LEWENDE MONUMENT

Elke jaar, elke herfs verskyn hierdie blommeprag van pienk en wit, in die omgewing waar Britse kampe was en veral in omgewing waar konsentrasiekampe was.

Plate en strepe wit en pienk lei na die konsentrasiekampterreine.

Baldadige pienk en wit, met hier en daar ń donkerpienk blommetjie verfraai die Hoëveld.

Alles om ons weereens te herinner aan die tragiese lot van Boervrou en kinders.

KOSMOS – ONS LEWENDE MONUMENT.

Bron: Internet

Foto’s: Gys Snr Maart 2022

Kosmos en Kakiebos

(Bydrae deur Kobie Ströh)

Ons ken almal die lastige kakiebos en die pragtige pienk skouspel van plate kosmos, maar het ons ooit al daaraan gedink dat dit lewende monumente is?

Lewende monumente ter herinnering aan die Anglo Boereoorlog.

Kakiebos (Tagetes minuta) is ‘n onkruid. Dit het SA gedurende die Tweede Anglo Boereoorlog binnegedring. Dit het saam met perdevoer uit Argentinië hier aangeland. Dit het gou versprei en ‘n onkruid oor die hele land geword.

Ander name vir die onkruid is Stinkbos , Transvaalse kakiebos of Langkakiebos.

Die naam is oorspronklik verkry omdat dit ingevoer is tydens die ABO saam met die voer vir die Britse militêre mag se perde en die Britse soldate se kakie uniforms was welbekend. Die Engelse soldate is kakies genoem en die onkruid het as kakiebos bekend geword.

Die eerste aangetekende rekord van die kakiebos was in 1905 by Vlakfontein, 1909 in Grahamstad aangemeld as onkruid en 1910 by Newcastle. Teen 1920 was dit reeds wyd verspreid in SA. Die saadjies van kakiebos kan op verskeie maniere versprei, saam met oeste en voer, deur wind, deur diere wat dit aan hulle pels saamdra, voëls, insekte en selfs met reënwater wegspoel.

Kakiebos is ‘n indringer plant wat floreer in versteurde grond soos ou lande op plase, langs paaie ens. Dit kan groei in nat en in droë omstandighede. Oorspronklik aangetref in Suid en Noord Amerika, maar kom nou wydverspreid voor in SA en buurlande.

Daar is wel so positiewe gebruik of 2 vir kakiebos:

Dit kan gebruik word as vroeë waarskuwing sekuriteit stelsel. As dit rondom huis gelos word en iemand loop daardeur en kneus die plante stel dit dadelik ‘n baie sterk geur vry, vir meeste mense onuithoudbaar.

Dit kan ook geoes word en as essensiële olie gebruik word in sommige parfume. Die olie kan ook vermeng word met ander olies en ‘n medisinale olie vorm wat baie effektief is vir wondheling en ‘n verskeidenheid infeksies.

Die blare en takkies van kakiebos kan ook gebruik word as doeltreffende insekweerders, veral teen vlooie en luise. Plante kan in hondehokke bv geplaas word om vlooie te beheer

Interessant dat van die Australiaanse soldate na die ABO plante saamgeneem het huis toe waar dit ook geweldig versprei het.

Maak 'n opvolg-bydrae