Kinderlewe in Suid-Afrika Deel 13 / Die Groot Trek 1836 -1838 / Begrafnis

Kinderlewe in Suid-Afrika

Deel 13

Die Groot Trek 1836 -1838

Begrafnis:

“Fientjie, hoekom slaap jy nog nie? Die son het al lankal gesak. Pappa het klaar Boekegevat. Jy het vanaand jou Bybelversie so goed opgesê. Ons is sommer trots op ons klein sussie wat nou groot sussie word.”

“Boetie Paul, die trekkery is nie meer lekker nie. Ek is nou moeg en bang. Elke keer as ek ń vreemde mens sien, skrik ek. Ek is bang die Matabeles kom ons weer aanval.”

“Fientjie, die Matabeles het baie ver gevlug. Hulle het seergekry by Vegkop. Oom Hendrik Potgieter en die manne het hulle baie ver weggejaag. Hulle sal nie weer tot hier kom nie. Hulle is nou bang vir ons Trekkers.”

“Boetie my hartjie is baie seer oor my maatjie vandag langs die pad begrawe is Dit was nie lekker om te sien hoe siek sy was nie. Dit was swaar om vandag daardie hoop klippe op haar graffie te pak. Ons het al so baie mense langs die pad begrawe. Dit maak my hartseer.”

“Sussie, dit is altyd maar swaar om iemand te begrawe. Jy is reg. Orals langs ons trekpad lê hopies klippe onder bome. Eendag sal ons terugkom en hulle grafte weer mooi maak. Ons moet dapper en sterk bly en bly glo dat God vir ons sal sorg. Eerwaarde Smit het mos Sondag vir ons vertel dat die Israeliete 40 jaar in die woestyn getrek het voor hulle in die Beloofde Land kon intrek.”

“Veertig jaar is lank. Ons trek al amper 3 jaar. Ek kan nie wag dat ons kan ophou trek nie .Dink net. Weer ons eie plaas. Ons bou ń nuwe huis. Ons plant weer bome en groente.”

“Een van die dae Sussie. Natal is nie meer so ver nie.”

Fiktiewe stories vir my kleinkinders: Kobie Ströh

Foto’s en illustrasies: Geleen vanaf internet.

Maak 'n opvolg-bydrae