Kerkstraatbom Pretoria

Kerkstraatbom

Pretoria

20 Mei 1983

20 Mei 1983, Vrydagmiddag half 5 ontplof ń kragtige motorbom buite die Nedbankplein in Kerkstraat-Wes Pretoria.

Die motorbom is deur Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC gestel en 40 kg plofstof is gebruik. Die teiken was die Suid-Afrikaanse Lugmag wat die meeste kantore in die Lugmaggebou gebruik het waar die motorbom geplant was.

Die bom was gestel vir Vrydagmiddag spitstyd wat veroorsaak het dat verskeie burgerlikes wat op pad huis toe was ook in die ontploffing gedood of beseer is.

Die motorbom gaan so 10 minute vroeër af as wat beplan is en die twee MK lede wat die bom geplant het, sterf ook.

19 mense is dood en 217 is beseer. Minstens twintig ambulanse was nodig om die dooies en gewondes te vervoer. Skokgolwe oor die grusaamheid van die aanval ruk die land tot stilstand. Helpers spook om lewens te red en omstanders te kalmeer. Mense is lewenslank gestremd en getraumatiseerd na die bomaanval.

Die Waarheids en Versoeningskommissie het in 1997 en 1998 aangehoor dat die destydse ANC president Oliver Tambo die aanval gemagtig het. Die aanval was glo in vergelding vir ń oorgrensaanval deur die SAW in Lesotho 5 maande voor die bomontploffing waarin 42 ANC lede dood is.

Langs die besige Kerkstraat is ń baie onopmerklike gedenksteen, moeilik om te vind. Haastige voete stap daagliks daaroor heen sonder om te besef wat ń groot tragedie hier afgespeel het.

20 Mei gaan elke jaar feitlik ongemerk verby. Diegene wat geliefdes verloor het en díe wat die aanval oorleef het sal egter nooit hierdie wrede daad op Vrydagmiddag 20 Mei 1983 vergeet nie.

Bron en fotos: Internet

Fotos: Gys Ströh Snr. 2019

Maak 'n opvolg-bydrae