GROOT VLOED / 27 Februarie 1871 / Victoria-Wes / Noord-Kaap

“DIE ANDER GROOT VLOED”

27 Februarie 1871

Victoria Wes

Die meeste van ons onthou die geweldige vloedramp op Laingsburg – dit is destyds beskryf as “Die ergste vloedramp in die Karoo in menseheugenis.”

En dit was ook nie verkeerd nie, want in Januarie 1981 het niemand meer geleef wat eerstehands die ander groot vloedramp kon onthou, 110 jaar vantevore, wat ‘n hele Karoodorp in puin gelê het nie.

Anders as met Laingsburg, was dit nie die gevolg van ‘n rivier wat opgedam en sy walle oorstroom het nie.

Dit het ook nie helder oordag op ‘n rustige Sondagmiddag plaasgevind nie.

Die vloedramp van 27 Februarie 1871 was die gevolg van ‘n geweldige wolkbreuk wat in die aandure uitgesak het en Victoria Wes met die siedende water saamgevoer het.

Op daardie stadium het Victoria Wes maar sowat 1000 inwoners gehad.

Die NG Kerk, Quirk se hotel, die pasvoltooide Openbare Biblioteek en die tronkgebou was die grootste in die dorp. Daar was drie winkels en so ‘n stuk of sestig woonhuise op die oewer van die Brakrivier.

Dit was ‘n broeiende warm Maandag.

Teen skemeraand steek ‘n koel luggie op en begin donderwolkies opsteek. Die lugstrome styg blitsig en keer dat die kondenserende druppels uitsak. Gevolglik word ‘n massa water in die lug vasgevang. Toe dié wolke oor die bergreeks begin trek, word die opwaartse lugstrominge tydelik onderbreek en sak die wolkbreuk met enorme geweld uit.

Die enigste man wat agterkom dat daar probleme op pad is, is ‘n bejaarde boer wat te perd na sy bokkrale in die koppies, so 10 myl suidwes van die dorp, onderweg is. Hy besef summier dat die massa water wat voor hom uitsak met die horingdroë Brakrivier langs op pad is dorp toe. Sonder omhaal jaag hy na die naaste plaas, Patrysfontein van die Hugo’s, om te waarsku. Die plaas lê sowat 6 myl van die dorp af.

Teen die tyd dat die ou man op Patrysfontein kom, is die water reeds oor die werf en lê die woonhuis in puin. Die rousteenmure het eenvoudig inmekaar gesak. Die gesin was aan tafel toe hulle ‘n dreuning hoor. Voordat hulle weet wat hulle tref, stamp die watermassa die agterdeur oop en spoel al 7 gesinslede weg.

Frans Hugo, die vader van die gesin, slaag daarin om deur die watermassa te beur na ‘n hoogtetjie waar sy ossewa staan. Blitsig draai hy die wa se briek aan en klouter bo-op. In die donkerte gewaar hy die gedaante van sy jongste seun en kry hom aan sy kruisbande beet.

Die ander 5 lede van die gesin verdrink almal. Hulle liggame is later die dag ondertoe langs die rivier ontdek.

Die ou veewagter en sy vrou verdrink ook dié nag.

Van Patrysfontein het net die wa oorgebly.

Die eerste huis in die dorp wat getref word, is die huis van die kleremaakster. Die jong Rainie Dodds was net besig om haar trourok aan te pas toe die muur van die kamer agter hulle weggevoer word deur die watermassa. Die dak van die huis stort inmekaar en pen die twee vroue vas. Die bejaarde kleremaakster verdrink, maar Rainie word tussen die stene en balke vasgekeer. Sy kon nooit weer loop nie en is ‘n jaar of twee daarna oorlede as gevolg van haar beserings.

In Quirk se Hotel is die jongmense van die dorp besig om te dans. Hulle hoor nie die vloedwater aankom nie. Die volgende oomblik bars die saal se deure oop en die watermassa stroom na binne. Van die 22 mense op die dansparty oorleef slegs een.

Hiervandaan stroom ‘n wal water van meer as 5 voet hoog die hoofstraat af.

Die rousteenmure van die dorpshuisies sak inmekaar en stort neer op talle mense wat in hulle beddens lê en slaap. Die meeste van hulle verdrink voordat hulle behoorlik wakker kan word.

Omdat die een kant van die hoofstraat hoër is as die ander kant, is die skade aan die geboue daar minder.

Die huis en winkel van Ferguson het ‘n hoë stoep gehad wat net bokant die watervlak gebly het. Hier het Ferguson lampe en kerse opgesteek en toue oor die straat gegooi om mense nader te trek. Op dié manier kon hy Rainie Dodds se moeder en nog 6 mense na veiligheid help. Ook Laws, die bankbestuurder ,en sy vrou vind skuiling op Ferguson se stoep.

Mevrou Jacobson, die vrou van die posmeester, gryp die matras van ‘n verebed en sit haar drie kinders bo-op. Dié verevlot dryf stroom af en spoel buite die dorp teen die wal van die Brakrivier vas. Daar klim die drie kleingoed droogvoets af en sit bibberend en wag totdat hulle moeder hulle kan kry.

Langs die Jacobsons woon die Kossuths. Mevrou Kossuth staan in haar voorhuis terwyl die mure om haar ineen stort. Uit nood kruip sy later in die kaggel in en hou haar kind van ses met uitgestrekte arms bokant haar kop in die skoorsteen op terwyl die water om haar neus spoel. Sy staan 3 ure so voordat sy gered kon word!

Tussen die bale wol, dierekarkasse, rytuie en dakplate word ook die bejaarde tante Smit meegesleur. Die water spoel haar teen ‘n karwiel vas wat in die grond geplant is om ‘n raamwerk vir ‘n rankplant te vorm. Haar been glip tussen die speke deur en breek in die knie, maar ten minste is sy geanker en sy oorleef ook die oorstroming.

Haar bure, ook twee bejaardes, staan die hele nag op ‘n kliptafel in die agterplaas en vasklou aan die takke van ‘n groot ou moerbeiboom.

Een van die helde van die nag was Johannes Buyskes, die drywer van die poskoets. Hy was op pad na die dorp toe die hele ramp voor sy oë plaasvind. Buyskes span dadelik uit, maak sy perde aan die koets vas en sit te voet af dorp toe. Dit is so donker dat hy sy pad met ‘n stok moet voel, maar hy red daardie nag soveel mense dat die vroue van Victoria Wes later ‘n ketting van hulle eie hare vleg as bewys van dank.

Net onderkant die dorp is die plaas van oubaas Devenish. Sy trots is die pragtige opvangdam wat hy gebou het met soliede gestapelde klip om die wal te versterk. Teen dagbreek is Davenish se hele plaas met damwal en al gelyk met die aarde! Devenish verloor 1600 merinoskape en 5 veewagters kom ook om.

In die dorp self is meer as dertig huise platgevee.

Die landdroskantoor is oorstroom en die amptelike dokumentasie alles weggespoel, sodat daar nog nooit ‘n betroubare rekord opgestel kon word van die dodetal nie.

Teen dagbreek is die vloed afgeloop en word elke rytuig ingespan om die liggame van die slagoffers van die rivierwal af aan te ry na die Biblioteek, wat inderhaas in ‘n lykshuis omskep word.

Uit die distrik kom die boere met waens en voorraad om te help.

Sommige van die slagoffers is dadelik herkenbaar. Ander is so verniel deur die opdrifsels en die skerp klippe op die bodem van die rivier, dat hulle aan hulle klere en juwele uitgeken moet word.

In sommige gevalle neem oorlewendes dit op hulle om familielede in enkelgrafte te begrawe, maar uiteindelik besluit die Kerkraad om die meeste van die slagoffers in een massagraf te begrawe.

Dié tragiese begrafnis word gelei deur drie predikante en vind plaas om 10:00 op die oggend van 1 Maart.

Daar is geen betroubare rekord van hoeveel mense dood is nie.

Die destydse bevolkingsregisters het nie die Bruin inwoners van die dorp opgeteken nie, waarvan tientalle nooit weer gevind is nie.

In die biblioteek is 63 liggame gereed gemaak vir die begrafnis.

Die Beaufort West Courier beskryf die ramp: “…Victoria Wes is in puin gelê met die een verhaal van ellende en grieselige avonture op die ander…”

In die Cape Argus word gesê: “…In menseheugenis was daar nog nie so ‘n ramp in hierdie land nie. Die groot brand by Knysna en die bars van Beaufort Wes se dam is gering daarnaas.”

Na die vloedramp is ‘n groot keerwal in die somer van 1872 gebou waar die rivier deur die dorp loop.

Die gang van jare het weer groot reën gebring en ligte aardskuddings en wolkbreuke. Maar nooit weer ‘n nag soos daardie Februarienag in 1871 toe ‘n hele gemeenskap in rou gedompel is en die helfte van ‘n Karoodorp nie weer dieselfde son sou sien opkom, wat net ‘n uur of wat tevore oor hom ondergegaan het nie.

Daniel Lötter 1 Maart 2017″Fotos: https://www.karoo-southafrica.com/…/history-of…/

Maak 'n opvolg-bydrae