Frans Jooste Monument Ammunisiewa ontplof. Tussen Vredefort en Parys

Frans Jooste Monument

ABO

Ammunisiewa ontplof. Frans Jooste se graf.

Tussen Vredefort en Parys

26 Augustus 1900

Na die geveg by Frederikstad keer Christiaan de Wet en genl Philip Botha terug na die Vrystaat en vind dat al die driwwe geblokkeer is deur die Britte. Naby Parys op die plaas Witbank slaag hulle wel om die Vaalrivier te kruis, maar loop hulle suid van Parys vas in hewige vuur van die Britte.

By die Boere is ń wa met 4 bokse vol dinamiet onder beheer van 2 broers, Hans en Frans Jooste vanaf Bethlehem distrik. Die wa beweeg stadig en trek die meeste van die Britse vuur. Naby ń koppie besef die 2 broers dat die wa ń teiken is en dat hulle sal moet vlug vir hulle lewens en begin hardloop.

So 50 meter van die wa af draai Frans terug om sy baadjie op die wa te gaan haal. In die Hoëveldse winter is ń baadjie kosbaar en noodsaaklik. Juis toe word die wa vol getref en ń hewige slag volg. ń Geweldige ontploffing volg, die slag word tot by Liebenbergskoppie gehoor en laat ń groot krater wat na meer as 100 jaar steeds sigbaar is.

Frans is op slag dood, sy liggaam in stukke geruk, slegs een hand en ń deel van sy voet is herkenbaar. Een van die osse is ook op slag dood en ń ander erg beseerde os raak op loop met stukke oorblyfsels van die wa. Die res van die 16 osse hardloop weg en is later op ń naburige plaas gevind.

Frans Jooste se oorblyfsels word begrawe in die krater wat die ontploffing gelaat het. ń Monument is daar opgerig.

Twee maande later is die oorlewende broer Hans Jooste gevange geneem en na St Helena verban. Na die oorlog het hy teruggekeer na Bethlehem.

1974 het Die Voortrekkers ñ monument daar opgerig. Saam met hulle offisier Ben Nel het die 12 jarige seuns klippe van die koppie af gedra om die monument te bou. Die klippe was deel van ń ou Matabele kraal wat steeds nog daar sigbaar is. Die seuns het daar uitgekamp terwyl hulle besig was met die bouwerk.

26 Oktober 1974 onthul Die Voortrekkers die monument. Die storie van Frans Jooste is in die monument toegemessel ter wille van bewaring van die inligting.

Die monument is op ń plaas waar toestemming en toegang vooraf gereël moet word. Inligting is by Boepensie Plaas Stal daar naby verkrygbaar.

Bron: Boer en Brit. Parys Info. Parys Museum.

Fotos: Februarie 2019. Dankie Gysbertus Johannes Ströh, Monumentjagter.

Maak 'n opvolg-bydrae