Bedgraf / Aberdeen / Graaff Reinet

Bed graf

Graaff Reinet

Aberdeen

Willowmore

Hierdie is ñ tragiese ou Karoo Storie, ñ boodskap in die veld, ñ groot raaisel wat niemand nog definitief kon oplos nie.

Wie is hier begrawe? Wanneer?

Wat is die ware verhaal?

Dit sal vir altyd ñ raaisel bly.

VERLATE BEDGRAF LANGS DIE PAD

Sowat 30 km buite Graaff Reinet, op die Aberdeen-pad langs die pad, staan ñ eensame graf. Oorgroei en bedek met klippe. Geen aanduiding van naam of datum nie. Geen grafsteen nie.

Wat hierdie graf so merkwaardig maak is die ou gegote ysterbed wat bo-op die graf staangemaak is.

ñ Ou groot ysterkatel. (Dalk koper?)

Die oorgelewerde vertelling of legende lui as volg:

Sowat 200 jaar gelede het ñ ossewa oor die verlate Karoo vlaktes getrek, op pad na ñ ver bestemming. Die vrou was baie siek.

Hier het sy gesterf en hier het die verpletterde eggenoot haar soos die gebruik destyds was langs die pad begrawe en om die plek te merk en as herinnering het hy hulle huweliksbed op die graf staangemaak.

Terugkeer kon hy nie.

Hy was juis op pad Graaff Reinet toe om sy siek vrou na ñ dokter daar te neem.

Vreemd in die omgewing en ver van alles en almal af kon sy nie ñ behoorlike begrafnis kry nie en is sy net daar, vlak langs die pad begrawe. Moontlik was daar ander gesinslede ook wat saamgetrek het.

Die graf is al vir baie jare daar.

Weggesteek en doelbewus oorgroei om oë van vandale, aandenkingsjagters en stropers te ontduik.

Die graf is op privaatgrond en die plaasboer verwelkom nie vreemde besoekers wat deur sy drade klim en op sy grond oortree nie. Dit is immers sy skape se weidingskamp.

Dalk eendag ontdek iemand iewers in argiewe of briewe die oplossing vir hierdie raaisel.

Daar is reeds twyfel oor ouderdom van graf aangesien hierdie tipe beddens blykbaar eers in die laat 19de eeu gebruik was.

Dit verskraal dan die moontlikheid dat dit ñ Voortrekkergraf kan wees.

Moontlik die graf van ñ latere trekker of pionier.

Wie sal ooit weet?

Ondertussen: Loer maar weer as jy daar reis of jy die bedgraf kan gewaar.

Onthou die swaarkry en hartseer van voorouers.

Luister na die boodskap uit die veld.

Respek vir die enigste getuienis dat hulle eendag, lank lank gelede daar was.

Nuwe inligting vanaf Johan Meiring van Graaff-Reinet:

My oupa was Johannes Hendrik Meiring, gebore 1802.

My ouma was Eltina Catarina gebore de Lange. Hul eerste kind , Johannes Hendrik Meiring, was gebore in 1916.

Hy was 14 Jr oud toe ñ spinnekop hom onder aan sy linkeronderbeen gebyt het.

My ouma het die plek gedokter vir 3 dae op die plaas, die 4de dag het daar n rooi streep gevorm wat infeksie beteken.

My oupa het die bed waarop hy geslaap het op die ossewa gesit sodat sy verswakte seun daarop kon lê.

Op pad Dr toe in Graaff-Reinet het hul seun Johannes, my oom, daar gesterf.

My oupa het.die lyk toegedraai in sy beddegoed waarop hy gelê het en hom daar begrawe. Die graf is ongeveer 3 voet diep, my oupa het sy bed bo-op die graf geplaas vir ñ grafsteen. Die metaal van die bed is potyster en nie koper nie.

Die bed was gekoop by Montana meubels in Graaff-Reinet , die v d merwe familie, lankal oorlede.

My ouma het gereeld blomme op daai graf gaan sit. Dan was ek teenwoordig.

My ouma is in 1992 oorlede op 98 jr, sy het nooit ophou huil oor daardie kind van haar nie.

Dankie Johan Meiring.

Bronne: Facebook. Karoo Space. People news.

Foto’s: Geleen vanaf internet en Facebook. Dankie Jonker Fourie.

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae