Skipskop

Skipskop : Lirieke David Kramer

Skipskop Lirieke – David Kramer

Pak op, pak op!

Sit jou goedjies op jou kop.
Môre gaan ons weg,
ver van hier weg.
Skipskop, Skipskop,
wanner hou die dinge op?
Swaarkry lê net voor,
die Blouberge oor.
Overberg se mens is ek gebore
op dié plek, Skipskop,
nes my pa, en sy pa ook.
Hier deur die duine
loop ons se spore.
Hier op die beach,
hier langs die see is ek gedoop.

Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders,
en die wolke
en die winde wat hier waai?
Verkoop jou bootjie,
pak op jou goedjies,
en sê maar “So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”Die linkerhand
of die regterhand?
Watse kant lê die plek,
Misverstand?
Asseblief, Meneer,
ag, sê tog weer,
is dit die pad
wat ons moet môre vat?
‘n Stukkie lê hier
en ‘n stukkie lê daar,
die stukkies van my lewe
hulle lê baie deurmekaar.
Tel op vir Shorty,
en tel op vir Pop.
Gaan haal vir Apie
en hou daai kindjie dop!

Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders,
die wolke
en die winde wat hier waai?
Pak op jou goedjies
en verkoop jou bootjie,
en sê maar “So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”

Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders
die wolke
en die winde wat hier waai?
Verkoop jou bootjie
pak op jou goedjies,
en sê maar “Skipskop, so long –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”

“So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.’

SKIPSKOP (Inligting saamgestel deur Stoffie van Dyk, Facebook)

Waarom is Skipskop gesluit?

In 1981 het Krygkor (nou Denel) ‘n projek begin waar hulle ‘n missiel toetsfasiliteit iewers langs die Suid-Afrikaanse kus wou oprig.

Die gebied waarop uiteindelik besluit is, het gestrek net oos van Waenhuiskrans tot teenaan De Hoop en weer net oos van De Hoop tot by Kaap Infanta. Die westelike helfde van hierdie area sou Skipskop insluit. In Desember 1983 het die Kabinet besluit dat daar met die projek voortgegaan kon word. Onderhandelinge is met grondeienaars begin en inwoners van die gebied is skriftelik in kennis gestel dat die projek sou voortgaan.

In April 1984 het die OTB met hulle eerste konstruksiewerk begin.

Die terrein wes van Waenhuiskrans waar die dorpie Skipskop geleë was, vorm nou deel van die Overberg-toetsbaan, Krygkor se missieltoetsgrond by De Hoop.

In 1984 is die dorpie Skipskop in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap, asook omliggende plase, oorgeneem aangesien hy dit as ’n deel van die Overberg-toetsbaan wou hê.

Teen 1960 het die bevolking op 125 mense gestaan wat ‘n bestaan gemaak het as vissers en bestaansboere.

In 1984 is die dorpie en omliggende plase onteien en ontruim, oorgeneem. en is in 1985 deur die regering verskuif – baie na Kassiesbaai by Waenhuiskrans, ander na Bredasdorp en Struisbaai toe – om plek te maak vir die missielprojek.

Volgens die Surplus People Project, wat gedwonge verskuiwings in Suid-Afrika bestudeer het, was die meeste van Skipskop se inwoners nasate van drenkelinge van ‘n skip wat in 1860 in die omgewing op die rotse geloop het.

Die kwessie van die verskuiwing het in die 1980’s redelik dekking in die pers ontvang. Skipskop het bekendheid verwerf deur die gelyknamige liedjie van David Kramer.

Verskeie groot skepe het hier gestrand. Die bekendste was die Maid of the Thames in 1848 en die Willem de Zwijger in 1899.

Skipskop se naam is afgelei van Skip se kop. ‘n Skip, die “Maid of the Thames” wat daar in 1848 gestrand het, se boeg het vir ‘n lang tyd bokant die water uitgesteek.

Visvywers het ‘n belangerike rol in die lewe van die inwoners van Skipskop gespeel. Plat klippe is gebreek en dan in krale gepak. In die verste punt van die vywer was ‘n sluis wat gelig kon word. Die vywers is ook viskrale genoem. Die vis het met hoogwater in die vywers ingeswem en is dan met laagwater daar vasgekeer en deur inwoners verwyder.

Die meeste vakansiegangers op Skipskop was mense wat jaarliks daarheen teruggekom het. Hulle was dikwels boere van Robertson, Ashton, Stormsvlei of Bonnievale. Hulle het na Skipskop gekom vir die viswaters, eerder as die strand.

Skipskop het ‘n kampeerterrein gehad, maar die kampery was nooit baie formeel nie. Die meeste mense het in tente gewoon. Agter die winkel was ‘n watertenk met ‘n kraan en kouewaterstorte vir die kampeerders.

Daar was ook huisies wat aan vakansiegangers verhuur is. Baie meer danse is gewoonlik gedurende vakansietyd op Skipskop gehou.

Gedurende die laaste jaar voor Skipskop gesluit is, het die inwoners en die mense wat gereeld daar gekom het, ‘n hele paar funksies in die danssaaltjie gereël om van die plek afskeid te neem.

Omdat almal geweet het dat die Kersfees van 1984 Skipskop se laaste Kersfees sou wees, het daar daardie jaar baie vakansiegangers na Skipskop gekom.

In Maart 1985 het die laaste mense uit Skipskop weggetrek.

Maak 'n opvolg-bydrae