Laerskool Vlakplaats / Vanderbijlpark distrik

Laerskool Vlakplaats
Vanderbijlpark distrik

LAERSKOOL VLAKPLAATS
20 km buite Vanderbijlpark, op die Vereeniging Potchefstroom-pad, afdraai Vlakplaats, staan die eensame skoolgeboutjie. Die Laerskool Vlakplaats bestaan nie meer nie, die gebou word tans gebruik aa ń boeregemeenskap saal.

PLAASSKOLE
Die Voortrekkerkinders het byna geen formele skoolopleiding gehad nie. Die ouers het self die kinders onderrig, veral Godsdiensonderrig en Die Bybel het die vernaamste plek verkry.
Daar was wel so hier en daar ń onderwyser wat saam met van die trekgeselskappe getrek het en gehelp het met die onderrig.
Die pioniers wat hulle gevestig het, het ook maar meestal self die onderrig van hulle kinders behartig en ook van rondreisende onderwysers gebruik gemaak.
Aangesien dit moeilik was weens lang afstande en finansiële stryd, kon ouers meestal nie hulle kinders na opvoedkundige inrigtings in die groter dorpe stuur nie.
Ouers het wel die waarde van goeie onderrig besef en sodoende ontstaan plaasskole wat die kinders in die distrik onderrig het.
Die waarde van plaasskole moet nooit onderskat word nie, dit het ń goeie grondslag gelê vir die kinders. Dit het ń goeie Christelike opvoeding verskaf.
Plaasskole het meestal ń sukkelbestaan gevoer, aanvanklik is skool bygewoon te voet, te perd, donkiekar of selfs later per fiets.
Talle struikelblokke het skole geteister,.lang afstande vanaf plase, paaie wat onbegaanbaar was in die reënseisoen, ouers wat eenvoudig nie skool kom bekostig nie en kinders wat ook behulpsaam moes wees op die plase

ABO
Tydens die Anglo-Boereoorlog het die onderwys feitlik heeltemal tot stilstand geruk.
In van die konsentrasiekampe het wel kampskole ontstaan. Die onderrigtaal was Engels.
Na die oorlog het die ouers weer saamgespan om privaatskooltjies en plaasskole te vestig. Alhoewel die ouers ontevrede was oor die onderrig in Engels, was hulle vegters vir Christelik Nasionale Onderwys (CNO).

LAERSKOOL VLAKPLAATS
Laerskool Vlakplaats begin Nov 1903 as ń privaatskool om die area te bedien met Mnr GP Viljee as die enigste onderwyser.
1907 word Laerskool Vlakplaats ń provinsiale skool, ń staatskool met Mnr Viljee as hoof. Die skool begin in 1907 in ń buitekamer met 18 leerlinge en 5 onderwysers. Graad 1 tot standerd 5.

MONUMENT VOOR SKOOL
31 Mei 1961, met Republiekwording rig Laerskool Vlakplaats hierdie monument /klipstapel op om die groot gebeurtenis te vier. Kinders wat in die skool was, het hulle name self op die klippe uitgkrap waarna dit vasgemessel is. Sommige van die name is nog steeds duidelik leesbaar soos bv díe van Francois van Zyl, graad 1, 1961.
Die monument moes en sou verskuif word na die nuwe groter skool, maar dit is toe nooit gedoen nie en is nog steeds voor die ou skoolgeboutjie. Gelukkig sien die plaaslike boerderygemeenskap mooi om na die geboue, terrein en Monumentjie.

1967 VIERING VAN 60 JAAR BESTAAN VAN LAERSKOOL VLAKPLAATS.
1907 TOT 1967.
Die skool beplan groot feeste vir die 60 jarige viering van Laerskool Vlakplaats. Ongelukkig sterf die geliefde skoolhoof Mnr JB Wolmarans in ń motorongeluk en die vieringe word uitgestel.
10 Mei 1968 gaan die vieringe voort onder leiding van die nuwe skoolhoof,. Mnr JA Kruger.
Konserte word gehou en selfs ń kunsuitstalling van die leerlinge en hulle ouers se werke.

NUWE SKOOL PARKSIG
ń Nuwe skool word op Louisrus gebou om o.a. Laerskool Vlakplaats te vervang.
Laerskool Parksig begin in 1969 met 550 leerlinge en Mnr Kruger steeds as skoolhoof.
Laerskool Vlakplaats bestaan nie meer nie.

OUD-LEERLINGE ONTHOU:
Fanie Blignaut onthou dat die skoolhoof Mnr Wolmarans, op sy eie plaas gebly het en sommer vir die hele skool vrugte van sy plaas af gebring het.(1961)

Dana Kruger , seun van skoolhoof Kobus Kruger onthou die skool tussen die bloekombome. Rooi baksteengebou met ń rooi sinkdak.
Die skool het bestaan uit ń paar klaskamers 3n ń skoolsaaltjie van asbes.
Die klaskamers was geskei met ń houtafskorting wat oopgemaak kon word om een groot lokaal te vorm. Dit is gebruik as die skoolsaaltjie te klein was vir ń geleentheid.
Elke klas het ń klein koolstofie gehad om die kaalvoetkinders lekker warm te hou in die strawwe wintermaande.
In die winter het die kinders ook almal sop en broodjies gekry.
Die abblusieblokke, een vir seuns en een vir dogters was so 100 m weg van die skoolgeboue af onder die bloekombome.
In ń ou sinkgeboutjie was die snoepwinkeltjie.
Pouses het die seuns in die veld gaan speel. Die atletiekbaan was ń ovaalbaan wat gereeld deur die plaasboere met ń trekker en skraaper geskraap is.
Die plaasgemeenskap was nou betrokke by die skool.
Laerskool Vlakplaats het gereeld konserte gehou en jaarliks elke Desember ook ń kerskonsert aangebied met pragtige kerstonele. Die kersboom en kersvader met geskenkies vir elke kind was natuurlik die hoogtepunt.

Met heimwee onthou die oud-leerlinge kosbare tye in hierdie skool Laerskool Vlakplaats:

Die geskiedenis van Vlakplaats Laerskool (so omtrent 20Km wes van Vanderbijlpark) – Helgard Du Plessis

1.Agtergrond

Ek (Helgard Du Plessis) en nog twee van my skoolmaats Jurgens Fourie en Theunis Volschenk was in Vlakplaats Laerskool vanaf Gr 1 tot en met die einde van St. 5 in die skool. Dit was vanaf Jan 1962 tot einde 1968. Dit was ‘n plaasskool gevul met kinders afkomstig van die omliggende plase en die ouers was meestal boere van beroep. Wanneer die skool begin is, is vir my onbekend. Aan die einde van 1969 het die skooltjie ophou bestaan en die leerlinge wat nog daar was is so omtrent om die helfte na Vaalrivier Laerskool nader aan Vanderbijlpark en die ander helfte na Parksig Laerskool ook nader na Vanderbijlpark.

2.Uitleg van die skool

Die huidige foto’s van hoe die geboue nou lyk is omtrent hoe dit was toe die terrein nog as skool benut was. Die oostelike klaskamer het die Gr 1&2 gehuisves.Die kamer tweede van oos het die St. 1,2 & 3 gehuisves en die kamer naaste aan die kantoor wat heel wes was, het St. 4&5 gehuisves. Later is ‘n asbesmuur saal bygebou. Daarna was die ou Gr1 klas omgeskakel in ‘n biblioteek en in die saal het St.1,2&3 gesit.Die seuns en meisies toilette was op die ver suidekant van die terrein onder groot bloekombome en van die put soort. In Mei 1961 met die republiekwording van Suid Afrika het die skool ‘n klein monumentjie reg voor die skool gebou en die leerling wat toe in die skool was het elkeen ‘n plat klip gekry en moes hulle name uitgraveer op die klippe en dit is toe ingemessel in die monumentjie. Van die name is vandag nog leesbaar. Daar was ‘n rugbyveld met rugbypale wat van lang bloekompale gemaak was. Die veld was ook gebruik vir ander atletiekbedrywighede. Die grondpaadjie vanaf die hoofpad na die skool terrain is vir die naellope gebruik. Langs die skool was ‘n woonhuis waarin privaat mense gewoon het en ook kinders in die skool gehad het. Attie Claasen en sy syster wat polio gehad het en met krukke geloop het, Francis.

3.Die bedrywighede van die leerlinge

Benewens die normale leeraktiwiteite wat daagliks daar plaasgevind het, het ons ook aan sport en rugby deelgeneem, maar ons het gekompeteer met die ander klein plaasskole van die omgewing bv. Bronkhorstfontein Laerskool wat verder wes na Potchefstroom se kant toe was. Die leerlinge het ook toneelopvoerings aan deelgeneem en die ouers vermaak met die opvoerings wat van tyd tot tyd aangebied is. Al die leerlinge het kaalvoet skoolgegaan en wanneer belangrike mense bv. Die Inspekteur van Onderwys gekom het, het die Skoolhoof ons gevra om dan skoene aan te trek. Meeste het dan in elk geval kaalvoet opgedaag want min het skoene besit. Vrydae na 2de pouse het almal in die saaltjie bymekaargekom vir films kyk. Die St.5 seuns moes die petrol aangedrewe kragopwekker aan die gang kry vir elektrisiteit vir die filmprojektor.Die Skoolhoof, mnr J.A. Wolmarans, was ‘n deeltydse boer in die omgewing en het gedurende die somer vrugtetyd met ‘n vragmotor skool toe gekom en vrugte vir al die kinders uitgedeel. Mnr. Wolmarans het elke Vrydagoggend by elke klas langs gegaan en die kinders oor die maaltafels uitgevra en gestraf as hulle dit nie goed genoeg geken het nie.

4.Die onderwyspersoneel van die skool

Die skoolhoof, mnr. J.A. Wolmarans, was Hoof tot in die tweede helfte van 1967 toe hy skielik dood was in ‘n motorongeluk. Hy was op pad na ‘n skoolvergadering skemeraand toe hy agter in ‘n plaastrekker wat sonder ligte gery het, vasgery het. ‘n Sekere mnr. Kruger het by hom oorgeneem tot die skooltjie ophou bestaan het. Die Gr.1 onderwyseres was mev. Swamers, wat baie bekwaam was met die kleintjies en sy was die legende van die skool. Vermoed sy het afgetree toe die skool sluit. Die Gr.2 tot St.3 was by mev .Van Aswegen wat later met ‘n boer van die omgewing getroud is (mnr. Brits, seun van ‘n vooraanstaande boer, mnr Hendrik Brits van die omgewing). Van tyd tot tyd was daar ook aflospersoneel wat kom uithelp het as die leerlingtalle toegeneem het. Die Skoolhoof het klas gegee vir die St.4&5 en het ook die kantoor en administrasie van die skool behartig. Somtyds, as die leerlingtal meer as 70 kinders gegroei het, was daar dan ‘n sekretaresse wat kom uithelp het met die administratiewe werk.

5.Outeur

Helgard Du Plessis op 8 September 2021

Laerskool Vlakplaats – ‘n stukkie egte menswees ervaring met ‘n lewenslange inslag – ( Jurgens Fourie – Theunis Volschenk)

So stap daar een somersoggend so om en by 1961 weer ‘n nuwe groepie kaalvoet kinders ‘n nuwe hoofstuk in hulle mensword binne. Dit klink so gepas om kaalvoet te sê, maar dit is inderwaarheid te lank terug om regtig te onthou. Ek onthou wel Sondagmiddag se aanry by Rietspruit Algemene Handelaar om nuwe skoene na die vakansie te kry, voor die week se skool weer begin. Mohammed, ‘n ware besigheids man en ‘n vriend in nood soos min vir die boeregemeenskap het dan die winkel se agterdeur oopgemaak en heelwat plaaskinders is daar uit met n nuwe stel skoene om dit in die volgende weke in te loop, nerf af te skop, of dit iewers deur die dag te verloor. Ek onthou ‘n paar van my skoene se tonge het in ketties beland waarmee ons pouses teiken geskiet het in die oop veld langs die atletiek baan, of was dit die rugby veld.

Die instap waarna bo verwys word is maar net ‘n generiese beskrywing. Sommige groot-oog graad eentjies hol vooruit, ander stap bedees saam met ouers, ouer boeties en of sussies en ‘n paar word al remmende saamgetrek die nuwe lewens avontuur in. Daar sou in beginsel ‘n paar trane ook gewees het. Of dit ouer of kinder trane was is nou nie meer ter sprake nie. Maar al die graad eentjies was grootoog, en net hulle het geweet waarom.

Min van ons het die inpak van die 7 jaar wat voorlê op die vars, onskuldige wil ons glo, jong psiges voorsien. Dit was egter die ideale ervaringsveld wat die grondslag vir ons lewens vorentoe gelê het. Nuwe ervarings was volop, ons skoolhoof was ‘n insigvolle en unieke hoof, leermeester, geestelike opvoeder en avonturier.

Ek kan nie veel van die eerste jare se leerplan onthou nie, maar onthou tog ons opvoeding was op n manier besonders, elke dag was daar iets nuuts om na uit te sien. Ek hou steeds daarvan om dit aan die klein plaas-skool paradigma en die styl wat deur die hoof, ouergroep en die skooltjie se leierskap daar gestel was, toe te skryf.

Ek kan nie onthou of ons ooit “pak” gekry het nie, maar gegewe die tydperk en die kultuur van daardie jare sou ek tog dink dit was moontlik. Ek weet wel as dit daar was, sou dit toepaslik en n integrale deel van die internalisering van norms en waardes gewees het.

Soos met alles is daar tog die geheue beelde wat by-bly, vir watter rede ookal. Daar was jaarlikse konserte en dit bring my by die enigste tong in die kies herinnering uit daardie jare. Ek was iewers vir die koor gekies, waarom weet ek nie want ek was n vissie in die koor. Vissies moes saam met die ander kinders staan, maar mag nie ‘n geluid gemaak het nie. Maar dalk is dit nie werklik die rede waarom ek nog steeds nie eers in die kerk sing nie. Die liefde vir musiek het egter nooit in die slag gebly nie.

Ek onthou nog die middae na skool in die werkskamer op die plaas besig om ‘n soms skewe krieketkolf uit hout te saag, om die volgende dag pouse-krieket mee te speel, ook die epiese stoei wedsrtyde in sportperiodes. Vaardigheid was maar skraps, maar daar was geen tekort aan plaaskind energie en entosiasme nie. Ek onthou die keer toe ek uitgevang was terwyl ek saam met ons latere hoof, Mr Kruger as ek eg onthou, se seun en ‘n klompie brawe seuns die perskeboom in die tuin van die huis op die skoolgronde sonder toestemming besoek het.

Die biblioteek was vir ‘n laerskool goed toegerus en dit is waar my eerste belangstelling in lees en die soeke na die onbekende begin het. Die Suid Afrikaanse skrywer Frits Deelman, uit daardie biblioteek, het dan ook my eerste belangstelling in die onderwater wêreld geprikkel en baie jare later tot n bykans lewenslange deelname aan alle fasette van scuba duik aanleiding gegee.

Ons word almal voortdurend aan nuwe ervaringe, nuwe vriende en soms, om balans te handhaaf, aan minder goeie vriende blootgestel. Die somtotaal daarvan dra gesamentlik tot ‘n mindere of meerdere mate by tot wie ons is. Ek verkies egter om te glo die onderbou vanuit Laerskool Vlakplaats in daardie vroeëre vormings jare, het ‘n besondere grondslag aan ons groepie wat bevoorreg genoeg was om daar te wees, voorsien

Sommige van ons dag een groepie het later net nooit weer van mekaar gehoor nie, sommige bly in gedagte beelde lewendig deur die nuus wat ons van ander oor hulle ontvang, maar daar is ook die bevoorregtes tussen ons wat steeds vriende uit daardie jare het. Dit gee betekenis aan die begrip lewenslange vriende, daar binne ou Vlakplaats se terrein gevorm.

LAERSKOOL VLAKPLAATS ( Jurgens Fourie – Theunis Volschenk )

Dit het in 1961 begin, dink ek. Dit is ook al darem so paar jaar terug wat ek my eerste skooljaar daar begin het. Gelukkig het my ouer broer darem die jaar voor my al begin. Kan nie onthou of ek met die bus skooltoe is die eerste dag en of my pa ons gevat het nie.

Wat ek wel onthou van daardie eerste dag was die klas van mevrou Spamers of is die nou Swamers. In elk geval een van my mede graad eens sal ek onthou, ek noem hom maar Nico. Toe die klaskamer se deur toegaan was dit net te veel. Hy storm die deur en om uit te kom maar die deur wil nie oop nie. Juffrou speel ook saam en kan glad nie die deur oop kry nie. Nico wou uit, wonder waarheen hy sou gaan maar juffrou was beslis nie lus om te gaan soek nie. Dit was die eerste dag.

Die laaste dag kan ek ook onthou, juffrou Swamers het ons st 5 vaarwel gesê in n toespraak. Wat ek onthou is haar woorder, ‘’bly kind so lank jy kan’’ . Nie iets wat ‘n groot meneer st 5 wil hoor of verstaan nie. Die verstaan kom eers baie jare later as die verantwoordelikhede op die skouers kom druk.

In die sewe jaar daar het baie gebeur, met n avontuureur van n skoolhoof Mnr Wolmerans. Hy was nog ‘n ware groot wild jagter wat elke winter sy jeep of so iets op ‘n Bedford gelaai het en noorde toe is. Waar hulle gejag het weet ek nie. Hy het wel terug gekom met film wat met n hand kamera geneem is. Nie fotos nie, n regte film wat hy trots vir ons gewys het.

Sy een storie, wat nie op film was nie was baie snaaks. Hy met met saam met ‘n lang Engelsman gejag die keer. Die Engelsman sien toe so oor ‘n klein heuwel ‘n trop leeus lê, skaars ‘n paar tree weg. Hy so toe in so ‘n paniek stem ‘lions’ en die hoor toe ook. Die Engelsman was in beheer van die kamera wat met ‘n slinger gewerk het. Pandemonium en paniek soos die jagters wegkom en in ‘n boom in. Na die tyd vra Mnr Wolmenrans die Engelsman of hy die stormloop op film gekry het. Nee sê hy die slinger is weg. As jy die slinger verkeerde rigting draai dan draai hy uit. Tragies dat hy toe in motor ongeluk dood is naby die huis.

Sport was daar nie veel nie. Ons het pouses so bietjie bok, bok staan styf gespeel en hokkie met stokke gespeel. Wegkruiper onder die groot laning bloekombome waar die put toilette ook was. Die lewe was eenvoudig en dae het verby gevlieg. Die hoogtepunt was as dit baie gereën het en die bruggie by klein rietspruit was onder water en die bus kon nie oor nie.

Bronne: Facebook. Plaaslike boere. Oud-leerlinge. Dankie aan elke een.
Foto’s: Gys Ströh snr. en Dana Kruger. Facebook. Dana Kruger (Argief Foto’s)
Gys Ströh snr Augustus 2021

Maak 'n opvolg-bydrae