Kinderlewe in Suid-Afrika
Deel 41
Die Groot Trek
1836 -1838
Die lokval in die Wit Mfolozi vallei
“Boetie Paul, waar kry julle al hierdie vee wat julle saamgebring het?
Dit lyk dan soos ons eie diere.”
“Ja Sus Fientjie. Jy is reg. Dit is ons eie diere wat die Zoeloes gesteel het.”
“Nou waar kry julle die diere dan? “
“Fientjie, dit is ń interessante storie.
Ons het mos vir Dingaan gaan soek.
Hy het sy stat afgebrand en hy en sy krygers het iewers gaan wegkruip.”
“En het julle hom toe gekry?”
“Nee ons kon Dingaan nie opspoor nie.
Maar ons het ń Zoeloe gevang wat gesê het sy naam is Bongoza.
Hy het vir ons vertel dat Dingaan ver noord oor die rivier gevlug het.
Hy sê toe hy weet waar Dingaan ons vee weggesteek het, die gesteelde beeste.
Hy sal ons gaan wys, hulle is onder in die vallei van die Wit-Mfolozi.”
” Paul, het julle hom geglo?”
“Oom Andries was baie onrustig daaroor.
Ons weet mos Dingaan kruip iewers weg en ons kan die Zoeloes nie vertrou nie.
Bongazi gaan ons dalk in ń hinderlaag in lei.
Hulle is mos baie goed daarmee om mense om die bos te lei.”
“Het julle toe maar besluit om hom nie te glo nie?”
“Nee Fientjie. Ons het daardie vee nodig om te kan boer.
Oom Andries het vir ons laat kamp opslaan hoog teen rand van die vallei
.Ons kon mooi daaronder in die vallei sien.”
“Was die vee toe daar?”
“Ja, sowaar. Daar het groot troppe vee daar onder in die vallei rustig gewei en gevreet.”
“En die Zoeloes? Was hulle ook daar?”
“Daar was geen teken van Zoeloes nie. Net die diere.
Na paar dae het ons besluit om tog vir Bongoza toe te laat om ons af te lei in die vallei in. Hy ken die paadjies.
Oom Andries Pretorius het in die laer agtergebly met paar manne, hy was mos gewond.
Oom Karel Landman was in bevel.
Alexander Biggar het ook ń klompie inheemse manne gebring om te help.”
“Paul, het jy ook saamgegaan?”
“Ja, die pad af was moeilik, baie steil met digte bosse aan die kante.
Die perde het baie gesukkel. Dit het baie stadig gegaan.
Maar toe ons by die eerste beeste kom, het hordes Zoeloe vegters skielik opgespring.
Hulle het al die tyd tussen die beeste weggekruip, vermom met beesvelle oor hulle skouers.
Hulle het van bo-af nes beeste gelyk.
Skielik was daar vegtende Zoeloes orals om ons.”
“Sulke skelms.
So Bongoza het julle sowaar in ń lokval ingelei? ”
“Ja, en skielik is Bingoza weg. Iewers gaan wegkruip.
Ons het besef ons is in groot gevaar.
Omdraai is moeilik want die perde gaan sukkel om weer daar bo uit te kom.
Orals om ons is gevaarlike Zoeloes.
Oom Karel besluit toe ons kan nie omdraai nie. Dit sal te gevaarlik wees.
Ons moet vorentoe jaag met ons perde, al in die vallei af.
Dit het die Zoeloes verras.
Hulle het verwag dat ons sal probeer terugjaag kamp toe, nie dat ons vorentoe sal jaag nie.
Hulle het agter ons orals teen die skuinstes gewag vir ons, maar nie verder in die vallei af nie.”
“Het Oom Karel Landman se plan gewerk.”
” Die plan het gewerk, maar dit was nie maklik nie.
Veg-veg het ons gejaag tot by die Wit-Mfolozi rivier.
Die Zoeloes het agter ons aangehardloop en ander wat weggekruip het, het ons probeer keer.
Ons vee het egter ons reuk herken en agter ons aangestorm en die Zoeloes deurmekaar gemaak. Hulle het tot van die Zoeloes platgetrap.
By die rivier het ons gou met ons perde deurgeswem na die ander kant toe, die vee agterna.
Ongelukkig is 6 van ons manne daar doodgesteek.
Alexander Biggar wat ons kom help het , is ook daar doodgemaak.
Gelukkig kon ons die kamp veilig bereik.
5000 vee het agter ons aangekom. ”
“Ek is bly julle is veilig terug hier by ons kamp langs die Drakensberge.
God help ons werklik.
Ons het darem al vreeslike dinge hier in Natal beleef. en sonder God se genade sou nie een van ons ons bly leef het nie. “
Fiktiewe stories uit die geskiedenis vir my kleinkinders : Kobie Ströh
Foto’s en illustrasies: Geleen vanaf Internet