Kinderlewe in Suid-Afrika Deel 39 / Die Groot Trek 1836 -1838 / Moordkoppie

Kinderlewe in Suid-Afrika

Deel 39

Die Groot Trek

1836 -1838

Moordkoppie

“Paul, boetie, ek hoor by pappa julle het Oom Piet Retief en sy 100 manne se beendere gekry. Hulle is sommer almal daar by Dingaan se stad vermoor.”

“Ja Sus Fientjie. Dingaan se manne het daar van Bloedrivier af mos weggevlug.

Ons het hulle agterna gesit.

Ons het hulle gevolg tot daar by Dingaan se kraal.

Ungungundlovo is sy kraal se naam.

Daar was niemand nie.

Dingaan het ook gevlug.

Hy het sy stat aan die brand gesteek. Daar was net afgebrande hutte.

Toe sien ons die Moordkoppie waar Dingaan vir oom Piet Retief- hulle vermoor het.

Dit was so hartseer.

Net daar waar Dingaan hulle vermoor het, het die manne se beendere gelê. Sommer so op ń hoop gegooi.

Die aasvoëls het die bene kaalgevreet.”

“Paul. Dit is vreeslik!

Kon julle darem sien watter beendere is Oom Piet Retief en ons manne sin?”

“Ja. Ons kon hulle uitken aan die klere wat hulle aangehad het.

Oom Piet Retief se bladsak met die koopbrief daarin was nog so oor sy skouer.”

“Wat is ń koopbrief?”

“Dit is die papier waarop Dingaan geteken het dat hy grond in Natal aan ons verkoop en gegee het.

Die bewys dat ons Natal in Natal mag kom woon en boer.”

“Het julle die bladsak saamgebring hier na ons laer toe?”

” O ja, ons het daardie bewys saamgebring.

Sussie, ons het daardie manne en oom Piet Retief mooi begrawe.

Eendag sal ons daar op Moordkoppie vir hulle ń monument gaan bou. Ons moet hulle onthou!”

“Ja hulle arme vrouens en kinders. Hulle kry swaar.

Is ons nou veilig? Is Dingaan nou weg?

Kan ons nou maar hier in Natal bly?”

“O nee ons sal nog versigtig moet wees.

Daar sal nooit vrede wees solank Dingaan en sy vegters nog hier iewers wegkruip nie.

Ons moet nog wagstaan en reg wees om onsself te verdedig.

Ons moet Dingaan eers vind en swaar straf.

Maar ons gaan hier in Natal bly.

Ons gaan hier begin boer.

God het ons gehelp.

As ons glo en vertrou sal God ons bly help.” Ks

Fiktiewe stories uit die geskiedenis vir my kleinkinders : Kobie Ströh

Foto’s en illustrasies: Geleen vanaf Internet

Maak 'n opvolg-bydrae