Joubertspas / Hemel-op-Aarde / Lady Grey / Barkley Oos / Oos-Kaap

Joubertspas

Lady Grey / Barkley Oos

Oos-Kaap

Joubertspas is een van die hoogste passe in Suid-Afrika, 3de hoogste, 2349 m bo seevlak. Die pas is in die Witteberge, deel van die Drakensberg reeks, naby die Lesotho grens.

Hierdie steil en hoë pas met sy grondpad is in 1914 gebou deur 7 plaaslike boere en hulle helpers, almal van die omgewing. Die pas was gebou om vir hulle toegang te gee vanaf hulle plase na Lady Grey.

Bo in die pas is ñ steen opgerig met die name van die plaasboere nl. G Joubert en sy 4 seuns , DF Joubert, CD Joubert, G Joubert, JM Joubert, GF Stephenson en CW Cloete.

Volgens die inligtingsbord was die beraamde koste volgens die regering 6000 pond. Die boere en hulle helpers het hierdie pas gebou, sonder enige staatshulp, teen 1206 pond.

Joubertspas is amptelik geopen 17 Desember 1914. Die bord is opgerig 17 Desember 2014.

Joubertspas is vernoem na die 5 Joubert boere wat veral verantwoordelik was vir die bou van die pas.

Die pas verbind Lady Grey en Barkley Oos en word hoofsaaklik deur die plaaslike boere en avontuurlustige besoekers gebruik.

Joubertspas kan gevaarlik wees, veral in uiterste weersomstandighede. Reën en sneeu veroorsaak dikwels dat die pas gesluit word ter wille van veiligheid.

Die reis teen die pas op is asemrowend mooi. Strek vanaf plase en landerye op deur die Lammergeier Natuurreservaat.

Interessante beskrywende name en driwwe is te vinde op die pas nl Witfontein, Bloubosspruit, Die Quarry (1900 h.b.s.), Aasvoëlkranse, Ian se afgrond ( waar Ian en sy vriende afgestort het in sy ma se nuwe kar), Rooiplaat, Wilgespruit (2100 h.b.s.) , Perskedraai (waar klompie perskebome gegroei het, waarskynlik vroeëre reisigers wat gerus of uitgespan het en perskes daar geëet het ), Windpunt en Hemel op Aarde. By Rooiplaat het daar vir baie jare 2 werkers gewoon wat die pad netjies in stand gehou het.

Net voor Hemel op Aarde is Joubertspas se helling die steilste 1: 6 gradiënt.

Die stilhouplek by Hemel op Aarde bied ñ asemrowende uitsig op die prentjiemooi dorpie Lady Grey. Van daar daal die pad steil af na Lady Grey.

Wees versigtig vir die driwwe met hulle beskrywende name wat verhale vertel nl Skrikdrif, Karwegspoeldrif en Sumpdrif.

Die westelike hange is in die winter bedek met sneeu.

Die lug is heelwat “dunner” bo in die pas as onder in die valleie. Die gemiddelde temperatuur is ñ aangename 15 °C. Januarie is die warmste tyd, sowat 20°C en Junie die koudste teen 6°C. Desember is gewoonlik die natste maand met gemiddeld sowat 156 mm.

Die reisigers wat rustig, versigtig en waarderend hierdie pas aandurf word beloon met die mooiste uitsig, kranse in die basaltlae, bergstroompies, mooiste plante en natuurtonele.

Foto’s. Gre Edelkraut Maart 2023.

Maak 'n opvolg-bydrae