Arniston / Waenhuiskrans / Kassiesbaai / Die Arniston Strand

Arniston/Waenhuiskrans

Kassiesbaai

Vissersdorpies met kenmerkende witgekalkte huisies met grasdakke wat so sy aan sy lê. Die dorpies is reeds erken as Nasionale Monumente.

ARNISTON / WAENHUISKRANS

Die dorp met 2 name.

Amptelik bekend as Waenhuiskrans n.a.v. die reuse groot grot in die kalkagtige rotse langs die strand. Die grot is glo groot genoeg vir ñ wa en osse om in te kon draai.

Die ander naam Arniston het in gebruik geraak nadat die Britse Troepeskip HMS Arniston in 1815 hier gestrand het. Die skip Arniston was onderweg vanaf Ceylon na Engeland. Aan boord was o.a. 100 gewonde Britse soldate wat huiswaarts gekeer het. Die sterk stormwinde het die Arniston laat wegdryf vanaf die vloot. Die Arniston het koers verloor. Die kaptein het foutiewelik bereken dat hul reeds by Kaap Agulhas was en het koers gevat na St Helena.

Toe die bemanning die fout agterkom het hul desperaat probeer om koers te verander, maar ongelukkig het die Agulhas rif se rotse die skip aan flarde geruk. 372 manne dood. Slegs 6 kon die kus bereik en ñ paar dae later is hulle tussen die duine gevind deur ñ plaasseun, Jan Swart van die plaas Elandsvallij.

Die gewonde soldate is toe per wa na Kaapstad geneem vanwaar hulle teruggekeer het na Engeland. Die uitgespoelde verdrinktes is daar teen die duine begrawe.

Col Giels wat aan boord was se weduwee het in 1817 daar ñ klein monumentjie opgerig vir haar man en 4 seuns wat in die tragedie gesterf het.

Na die tragiese stranding van die Arniston is bakens opgerig as waarskuwing en die oprig van die Kaap Agulhas vuurtoring is ook deur die Arniston beïnvloed.

In die volksmond het die naam Arniston sowel as Waenhuiskrans inslag gevind en tans word beide name gebruik.

Arniston / Waenhuiskrans is reeds in 1922 as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

Op die laaste foto’s kan kan ñ aantal grafte teen ñ duin gesien word, wat besig is om inmekaar te stort.

KASSIESBAAI

Kassiesbaai is ñ klein vissersgemeenskappie wat waarskynlik reeds in 1820 hier gevestig was.

Die naam is afkomstig van die houtkratte en paraffienkissies wat gereeld hier uitgespoel het. Die vroeëre vissermanne het dit as boumatriaal gebruik. Die kissies het hulle opmekaar gestapel en met klei gepleister en so hulle huisies gebou.

Kassiesbaai is in 1986 in geheel as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Daar is so 80 kenmerkende vissershuisies.

Die Gedenkplaat lees as volg:

Kassiesbaai

Vissersgemeenskap waarskynlik in 1820 hulle hier op kroongrond gevestig, 5 jaar na die stranding van die Arniston. Nadat dit agtereenvolgens in besit van die Swart en Pratt familie was, is die nedersetting en tien morg grond in 1987 aan die Waenhuiskrans Vissersgemeenskap oorgedra.

In 1970 toe die gemeenskap deur die groepgebiedwet bedreig is, is die dorpie gered en daarna deur die Bewaar Arniston komitee gerestoureer. Kassiesbaai is deel van die min oorblywende tradisionele vissersdorpies in die volksboustyl wat vroeër volop in die Suidwes-Kaap was.

1966

Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede.

Hierdie dorpies is ñ werkende vissersgemeenskap en behoort aan die gemeenskap. As jy daar gebore is, is jy geregtig op ñ lappie grond om jou huisie op te bou.

Bron: Internet

Foto’s: Dankie Johan Uys ( Matthys Johannes Uys ) Marelize Vermeulen .

Maak 'n opvolg-bydrae