Jopie Fourie – Pretoria

Brits

Jopie Fourie Monument

Aan die voet van die Magaliesberge op die plaas Wildebeesthoek. Op die R513, pad tussen Pretoria-Noord en Brits/Hartebeespoort.
Gedenknaald van graniet, 5 meter hoog in vorm van suil op voetstuk. Ou ZAR wapen op voetstuk gegraveer, verduideliking van gebeure en name van mede-gevangenes op die sykante.
Opgerig ter ere van Kommandant Jopie Fourie (Josef Johannes Fourie) wat gefusilleer is weens sy deelname aan die Rebellie van 1914. Die enigste rebel wat gefusilleer is, die res is beboet of gevangenskap opgelê.
Jopie Fourie is gebore 1878 op die plaas Wildebeesthoek distrik Pretoria. Hy het deelgeneem aan ABO waartydens hy bokant knie gewond is, wat hom mank gelaat het. Na die oorlog het hy die beleid van genl. Louis Botha ondersteun. Later het hy egter sy gewig by die rebelle ingegooi toe hulle gewapende protes aangevoer het teen owerheid se planne om Duits-Suidwes te verower.
Op 16 Des 1914 word hy en 46 ander rebelle na hewige geveg op plaas Nooitgedacht gevange geneem deur oormag. Na ñ haastige afgejaagde krygshof word Jopie Fourie gevonnis en Sondagoggend 20 Des 1914 om 5uur sterf hy voor vuurpeleton.
16 Des 1934 word Jopie Fourie Monument onthul op plaas Nooitgedacht waar hy en mede rebelle 20 jaar tevore gevange geneem is.
1964 , 50 jaar na sy dood, word die monument verskuif uit tuislandgebied na sy geboorteplaas Wildebeesthoek.

Volgende interessante stuk is gepos deur Barrie Vermeulen:
Jopie Fourie: Daar gaan ’n man verby

Jopie Fourie (1878-1914), leier van die 1914-Rebellie teen die premier Louis Botha, is op 16 Desember 1914 in die omgewing van Rustenburg gevange geneem. Vandag, 100 jaar gelede, is Fourie weens hoogverraad ter dood veroordeel. Hy was die enigste deelnemer aan dié rebellie wat op hierdie wyse die hoogste prys betaal het, skryf J.B. ROUX.

Almal hou van ’n rebel. Daar is iets romanties daaraan om stroomop te wees en aan jouself getrou te bly. Tot die dood toe.

In Bart Nel, Van Melle se roman oor die 1914-Rebellie, sê die hoofkarakter (nadat hy alles verloor het wat vir hom kosbaar was): “My kry hulle nooit.(. . .) Ek was Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.”

Die Rebellie was ’n ingrypende (en aangrypende) hoofstuk in die Afrikaner-geskiedenis, maar dit word effektief doodgeswyg: Daar word nie regtig oor die Rebellie gepraat en geskryf nie. Dalk omdat ons nie herinner wil word aan ’n tyd toe volksgenote mekaar sonder meer doodgeskiet het nie?

Jopie Fourie is die één persoonlikheid wat dié “doodswyg” oorleef het en steeds as volksheld beskou word. Maar verdien hy dié status?

Hoekom het Jan. F.E. Celliers juis oor hom een van die onvergeetlikste gedigte in Afrikaans geskryf? Wat maak Jopie Fourie anders?

Fourie is op 17 Augustus 1879 op die plaas Wildebeesthoek naby Pretoria gebore.

As jong seun was Fourie ’n rakker wat hom eerder met plaasavonture as met skoolwerk besig gehou het.

Hy het sy hoërskoolopleiding aan Grey Kollege in Bloemfontein en later in Stellenbosch voltooi en het in sport, veral rugby, uitgeblink.

Anglo-Boereoorlog

Hy was, as sewentienjarige, betrokke by die onderdrukking van die Jameson-inval. In die Anglo-Boereoorlog was hy ’n verkenner en transportryer en generaal Piet Joubert se vertroueling.

Fourie is gewond en krygsgevange geneem en het hom ná die oorlog berus by die besluit van Afrikanerleiers om in vrede met hul Engelse landgenote te leef.

Al het hy nooit ’n loopbaan in die politiek oorweeg nie, was hy ’n aktiewe ondersteuner van generaal Louis Botha (later eerste minister).

Fourie het hom ook, aanvanklik teensinnig, as offisier by die Unie-Verdedigingsmag aangesluit.

Hy was ’n boerseun tot in sy murg: hardwerkend en godvresend, oorlogsheld, beginselvas, regverdig, getroue seun, broer en eggenoot. ’n Man wat ’n bars kon kyk en respek afgedwing het.

Die Unie van Suid-Arika is met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog deur Brittanje gevra om Namibië – destyds bekend as Duits-Suidwes-Afrika – te beset.

Vir baie Afrikaners was dit ’n bitter pil: Duitsland het die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog bygestaan en baie Afrikaners het Duitse familie gehad.

Die wonde van die Anglo-Boereoorlog was rou en armoede en droogte het ’n vrugbare teelaarde vir opstand geskep.

Baie Afrikaners het die wapen teen hul eie regering opgeneem.

Fourie was een van die voorbokke, maar die rebellie is onderdruk en baie rebelle is gevangenisstraf en/of boetes opgelê wat later grootliks versag is.

Josef Johannes Fourie is op 20 Desember 1914, presies honderd jaar gelede, in die Sentrale Gevangenis in Pretoria deur ’n vuurpeloton doodgeskiet, die enigste rebel wat gefusilleer is. Generaal Jan Smuts, minister van verdediging, wou volstrek nie toegee aan oproepe om Fourie te begenadig nie.

Ná sy dood was Fourie ’n martelaar. Smuts het vir sy ongenaakbaarheid betaal deurdat Fourie se dood ’n groot rol in die verkiesing van 1948 gespeel het toe Smuts se Suid-Afrikaanse Party deur die Nasionale Party verslaan is.

Volksheld

Volgens Nigel Fox, skrywer van A Bullet in the Back, ’n roman oor die dood van generaal Koos De la Rey en die rebellie, is Fourie se hoë profiel juis die gevolg van die tweestryd tussen die SAP en Nasionale Party.

“Vir die Nasionale Party was Fourie ’n bittereinder en sy dood ’n nasionale tragedie. Maar anders as sy mede-rebelle, het Fourie nie uit die Verdedingsmag bedank en sy uniform uitgetrek toe hy hom by die rebellie aangesluit het nie. Hy is daarom deur ’n krygshof verhoor, skuldig bevind aan verraad en ter dood veroordeel, terwyl die ander rebelle in ’n ‘gewone’ hof verhoor is.”

Fourie het verder die internasionale reëls van oorlogvoering oortree deurdat hy ’n wit armband gedra het om die regeringsmagte om die bos te lei: die regeringsmagte het wit armbande gedra om hulle van die rebelle te onderskei.

Of Jan Smuts Fourie se aansluiting by die rebelle as ’n persoonlike belediging ervaar en of hy, met sy regsagtergrond, bloot vasbeslote was om by die letter van die wet te hou, is nie seker nie.

Uit ’n regsoogpunt het Smuts korrek opgetree deur Fourie te laat doodskiet, maar sy weiering om Fourie se vonnis te versag was ’n politieke fout.

Fourie se status as volksheld is verder verdag deurdat hy, al was hy en sy kommando na bewering verantwoordelik vir ’n derde van die ongevalle wat die regeringsmagte in die Transvaal gely het, nie ’n verskil aan die uitkoms van die rebellie sou kon maak nie: toe Fourie en sy kommando op 16 Desember op die plaas Nooitgedacht aangekeer is, was hulle die laaste groep rebelle wat steeds aktief was.

Hy het bloot die onafwendbare uitgestel deur te volhard. Daarby is die feit dat hy in Afrikanergeheues as held verewig is, eerder te danke aan Nasionale Party-propaganda as aan spontane heldeverering.

Maar daar kan geen ander verklaring wees vir Fourie se optrede as dat hy gedoen het wat hy waaragtig geglo het reg was nie. Hy was wel amper onvergeeflik arrogant en het gespog dat hy en sy manskappe Pretoria op 16 Desember (“Dingaansdag”) sou binneval. Toe hy die hoofstad wel op dié datum binnery, was dit as ’n gevangene.

Teregstelling

Die oggend van sy teregstelling moes Fourie op ’n stoel sit terwyl tien soldate op hom aangelê het. Hy was geblinddoek.

Sy wens was dat hy nie in die gesig geskiet moes word nie, maar eerder in sy “groot Afrikanerhart”.

’n Sirkel is met wit kryt op sy hemp getrek, presies waar sy hart sou wees. Dit sou later blyk dat nie een van die koeëls die teiken getref het nie: sy dood is veroorsaak deur ’n koeël deur sy keel. Sy laaste gedagte was dalk, wie weet, iets soos: Ek was Jopie Fourie van toe af . . .

■ J.B. Roux is ’n vryskutjoernalis van Riebeek-Wes.

 

Maak 'n opvolg-bydrae