Laingsburg Vloed

Laingsburg

Wes-Kaap

Laingburg Vloed

25 Januarie 1981

Bydrae deur Audrey Bierman‎ op facebookblad  Reenval in SA, January 25, 2017

ONS ONTHOU

Ons herdenk vandag een van die grootste natuurrampe in die geskiedenis van Suid-Afrika. Sondag 25 Januarie 1981, toe die Buffelsrivier sy walle oorstroom en binne ‘n paar uur die grootste deel van Laingsburg weggevoer het.

Op 24 en 25 Januarie het besondere swaar reënval in die opvangsgebied van die Buffelsrivier, die Baviaansrivier en die Wilgenhoutrivier uitgesak. Tot so veel as 425mm reën het geval in skaars meer as 24 uur. Teen die middag van Sondag die 25e het die oorvol Buffelsrivier begin opdam vanweë die blokkasie van opdrifsels teen die rivierbrug. Ten spyte van waarskuwings en dringende versoeke, het heelwat mense nie geglo dat die water verder sal styg nie. Met die instroming van die ander twee riviere teen 14:00 die middag, het die watervlak skielik drasties gestyg en is die laagliggende dele van die dorp oorstroom. Om 18:00 daardie Sondagaand het die vloed sy hoogtepunt bereik toe sowat 8000 kw per meter drukking teen die rivierbrug voelbaar was.

Die opdrifsels van bome, bourommel en dooie diere teen die brug het veroorsaak dat die water opdam en talle mense het op die dakke van hulle huise geklim. Toe die gruiswalle weerskante van die brug wegkalf, het die water met ‘n geweldige spoed begin wegvloei na die Floriskraaldam en het 185 huise, ‘n ouetehuis, skoolkoshuis, 4 rondawels en 23 sakegeboue meegesleur.

En 140 mense. Uit een familie het 9 lede verdrink. 12 mense het oorleef en is uit die Floriskraaldam gered. 32 liggame is gevind, maar 72 mense se oorskot is tot hierdie dag nog nooit gevind nie.

Ek herdenk vandag die oorledenes, maar ek dink ook met dankbaarheid aan die talle mense wat ingespring en gehelp het waar hulle kon. Ek onthou ‘n kindervriendjie wat weg is. Ek onthou die ontsettende indruk wat dit gelaat het op ‘n 8jarige gemoed toe ek die Sondag na die vloed daar staan. Ek dink aan die weermag, polisie, nooddienste en ander wat gehelp het. En met respek dink ek aan die toewyding van ‘n dorp vol Karoomense wat hulle gemeenskap uit die modder gehaal en herbou het.

Daniel Lötter

Maak 'n opvolg-bydrae