Historiese Trekroete-tuin / Voortrekkermonument / Pretoria

TREKROETES LANGS DIE VOORTREKKERMONUMENT

In die vyftigerjare het die Onderwyskollege van Pretoria oos van die Voortrekkermonument, teen die koppie, ‘n reliëfkaart uitgelê van die 5 grootste hooftrekroetes in Suid-Afrika. Paadjies is uitgekap en met verskillende kleure klippe uitgelê. Replikas van Dingaanstad, Moordkoppie, Bloukrans, Kerkenberg en Thana Nchu is aangebring. Die vernaamste berge en riviere is ook aangedui.

Maart 1961 het Dr Nicol, Voorsitter van die Beheerraad, vir al die burgemeesters van die dorpe waar deur die Voortrekkers getrek het, gevra om sowat 20 plante uit hulle omgewing na die Voortrekkermonument te stuur om in die trekroete-tuin te plant om sodoende die tuin te versier. Plante het van heinde en verre per goederetrein in Pretoria aangekom . Aalwyne uit Upington, Broodbome uit Queenstown, vetplante vanaf Andries Pretorius se plaas was van die plante wat ontvang en suksesvol geplant is.

1967 is inheemse bome soos die Witstinkhout, karee, Witsering ens om die amfiteater aangeplant en ook aan die agterkant van Monumentkoppie.

Jare se verwaardlosing het die trekroete-tuin onversorgd gelaat en die kosbare en unieke vetplantversameling het toegegroei en die roetes was op plekke onbegaanbaar, die “riviertjies’ deur boomwortels gebreek, die paadjies opgebreek. Onkruid het oorgeneem en indringerbome het oorgeneem en selfs die walaermuur bedreig. Die bome was misvorm met dooie takke.

2021 is daadwerklike pogings aangewend om hierdie Historiese Trekroete-tuin weer te herstel.

Oorspronklike trekroetes is oopgegrawe en herstel, riviertjies herstel, onkruid verwyder, bome en bosse verwyder, indringerplante verwyder en oorspronklike plante opgespoor en weer geplant.

Naamborde en inligtingsborde is aangebring en voordurend word daar replikas van monumente oor die land gemaak en opgerig hier in die Trekroete-tuin,

Oktober 2021 is hierdie Trekroete-Tuin weer oopgestel en bekend gestel. Die idee is om ‘n fokuspunt te wees waar besoekers en veral kinders, die roetes kan volg, speel-speel.

Maak 'n opvolg-bydrae