Braamfontein Begraafplaas / Besonderse boom / Gedenkboom 1920

Braamfontein Begraafplaas

Besonderse Boom

Gedenkboom

Braamfontein begraafplaas spog met die mooiste boomlanings, wat ń rustige atmosfeer skep.

Digby die ingang na die kapel in die Braamfontein Begraafplaas groei ń besonderse gedenkboom.

Die boom is geplant in 1920 en het deur die jare vertak en ń besonderse vorm aangeneem.

Meer as 100 jaar is hierdie boom ń stille getuie van ontwikkeling, groei, tragedies en groot suksesse.

Die talle blomme, kransies en kissies waarin as gebêre is/was, getuig van die waardering wat naasbestaandes het vir so ń besonderse boom. Baie as is al om en onder die menige stamme gestrooi en baie trane het al die wortels gevoed.

Die boom se geleerde naam is Dicotyledon of Phytolacca Dioica. Dit is ń tipe magnolia boom.

Bekend as ń Ombu.

ń Ombu-boom word beskryf as ń boom met ń sambreelvorm en baie stamme wat die idee gee dat dit ń reuse struik is.

Hierdie immergroen boom is uitheems en afkomstig vanuit Suid-Amerika.

Die sap van die boom is giftig. Dit maak die boom redelik immuun teen peste en goggas. Die hout van die stamme is sag en sponsagtig, gelukkig beskerm die giftige sap die stamme teen knaagdiere wat moontlik die boom kon skade aandoen.

Ons kan net hoop dat hierdie spesiale oupa van ń boom nog 100 jaar sal oorleef.

Bloekombome

Interessant is dat daar ook ń hele bloekombos in die Braamfontein Begraafplaas was. Een gedeelte of blok was oorgroei met bloekombome. Spesifiek in die gedeelte waar swart mense ter ruste gelê is. By verdere ondersoek is gevind dat dit tradisioneel die gebruik was onder daardie swart mense om bloekomtakke bo-oor die kis van afgestorwene te plaas, blykbaar ter wille van die lieflike reuk van die bloekomblare. Dit was hierdie takke wat begin wortel skiet het en die gevolg was ń hele bos bloekombome. Sedertdien is heelwat verwyder om die grafterrein te herstel.

https://www.facebook.com/groups/372725536482372/permalink/1486391941782387/

Bronne: Internet

Foto’s: Gys Ströh snr Maart 2022

Maak 'n opvolg-bydrae