Vereening / Mynongeluk by Central Mine 1905

Vereening 1905: Mynongeluk by Central Mine 1905

(Bydrae deur Kobie Ströh)

1900. Vereeniging was nog ‘n klein dorpie. Byna die helfte van die inwoners het in die steenkoolmyn (Central Mine) gewerk.

Vroeg 1905 het daar ‘n groot krisis in Vereeniging ontstaan toe die steenkoolrif by die Jubilee skag aan die westekant van die Central Mine doodgeloop het en alle ondergrondse werk daar gestaak is. Mettertyd het die dak van die myn daar ingestort en daardie deel van die myn was vergete tot Mei 1905.

13 Mei 1905 was daar ñ spontane ontploffing in hierdie verlate deel van die myn en gevaarlike gasse het gou versprei na die res van die Central Mine.

Heelwat werkers was oorval, blank sowel as swart. Alle bedrywighede in die myn is gestaak vir die dag.

Die oggend na die ontploffing is die mynbestuurder en 5 senior beamptes ondergronds om te gaan ondersoek instel.

In die flou lig van hulle veiligheidslampies het hulle die donkerte aangedurf terwyl hulle sakdoeke voor hulle neuse gehou het.

Dwarrelende gas het hulle onverwags oorval en een vir een het hulle inmekaargestort en gesterf.

Vrywillige reddingswerkers het desperaat probeer help in die digte rook maar hierdie heldedaad het net nog meer lewensverlies tot gevolg gehad.

Tien (10) witmense en sewe (7) swart mense se lyke is uiteindelik na die oppervlak toe gebring.

Interessant, die myn het bly brand tot 1917, byna ‘n dekade lank.

In 1917 was die Vaalrivier in vloed, die walle het oorstroom en water het in die verlate myn (Central Mine) ingestroom.

Die water het ook in die brandende Jubilee seksie ingestroom.

Die opbou van stoom ondergronds het ‘n reuse ontploffing tot gevolg gehad en byna die hele myn het ontplof en inmekaar gestort. Stoom het hoog in die lug opgeskiet uit die ou myn uit.

Vandag is daar net ‘n baie diep blou gat vol water, opgestote grondbanke en half weggewerkte mynhope as stille getuienis van die eens florende myn en die ramp wat daar plaasgevind het.

Die “Blou gat” was in die verlede ‘n gewilde plek om te besoek en die dorp se seuns het hier lekker visgevang. Waaghalse het ook met hulle viertrekvoertuie en motorfietse die steil hellings aangedurf.

Ongelukkig is hierdie verlate area nou ‘n baie onveilige plek om te besoek.

Kriminele elemente het sedertdien hier oorgeneem. (2022)

Gedenksteen

In die ou Vereeniging begraafplaas, die Vereeniging Konsentrasiekamp Begraafplaas, is ‘n gedenksteen opgerig ter nagedagtenis aan diegene wat in die mynongeluk gesterf het.

Maak 'n opvolg-bydrae