Suid-Afrika se Duikbote / Maria van Riebeeck / Johanna van der Merwe / Emily Hobhouse

Suid-Afrika is die enigste Afrikaland wat duikbote besit en gebruik / South Africa is the only African country that has submarines

(By Kobie Ströh)

Die Suid-Afrikaanse Vloot het gedurende die vroeë sewentiger jare hulle eerste drie Daphne klas duikbote van Frankryk gekoop nl.

• SAS Maria van Riebeeck Maart 1969 te water gelaat (herdoop SAS Spear)

• SAS Emily Hobhouse (1970) (herdoop SAS Umkhonto)

• SAS Johanna van der Merwe (1970)(herdoop SAS Assegaai)

Dit was die eerste fase van die SAV se duikbootgeskiedenis. Aangekoop veral om kusgebied te verken en te verdedig in ‘n onstuimige tyd van die land se geskiedenis.

Al drie duikbote is later opgeknap. SAS Maria van Riebeeck. (in 1999 herdoop tot SAS Spear), SAS Emily Hobhouse (in 1999 herdoop tot SAS. Umkhonto/ Zoeloenaam vir Assegaai.) en SAS Johanna van der Merwe (in 1999 herdoop tot SAS Assegaai). Al 3 die nuwe name se betekenis is dieselfde .Die duikbote was toe vir opleidingsdoeleindes gebruik.

Al drie duikbote is tans uit diens gestel. Tegnologie verouderd en Frankryk, die oorspronklike vervaardiger van Daphne-klas-duikbote, vervaardig lank reeds nie meer onderdele vir die bote nie en het lankal sy laaste Daphne aan diens onttrek.

Waarom was die name van die eerste duikbote so omstrede? Twee is vernoem na buitelandse vroue waarvan een vurig gekant was teen oorlog en die derde herinner aan ‘n bloedige gebeurtenis in die verlede wat groot spanning in onseker tye veroorsaak het.

SA se eerste drie duikbote is genoem:

1) SAS Maria van Riebeeck (na die eggenote van Jan van Riebeeck, eerste Nederlandse kommandeur aan die Kaap).

Gebore MARIA DE LA QUELLERIE in Rotterdam 1629. Oorlede in Malakka in 1664. Vrou van Jan van Riebeeck, stigter van die nedersetting aan die Kaap die Goede Hoop.

“Die mees betekenisvolle direkte getuienis van haar persoonlikheid kom van ‘n Rooms-Katolieke priester, Nicolas Etienne, wat tien maande in die Kaap gebly het na ‘n skipbreuk. Hy verklaar dat sy een van die verstandigste vroue was wat hy ooit ontmoet het, wat die agting van almal wat haar geken het weggedra het en besondere waardigheid aan die dag gelê het. Sy het ook haar mening voorbehou wanneer hulle godsdienstige verskille bespreek het.”

Die enigste standbeeld van Maria de la Quellerie (deur die Nederlandse beeldhouer Dirk Wolbers), is geskenk deur die Nederlandse regering aan die Suid-Afrikaanse burgers tydens hulle 300ste bestaansjaar-vieringe. Die beeld is deur Prins Bernhard van die Nederlande op 2 Oktober 1954 voor die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Kaapstad, onthul. Hier het dit vir baie jare gestaan tot dit uiteindelik na die Heerengracht verskuif is, regoor die standbeeld van Jan van Riebeeck. Die eerste Suid-Afrikaanse duikboot wat in Maart 1969 te water gelaat is, is na Maria van Riebeeck vernoem.

2) SAS Emily Hobhouse (na die Engelse filantroop en maatskaplike werker in die Anglo-Boereoorlog);

Emily Hobhouse (1860–1926) Sy was ‘n vrou van Engeland wat vandag steeds as een van die grootste heldinne in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou word.

Uit : Geliefde verraaier deur Elsabe Brits kry ons die volgende beskrywing:

“Dit is ’n mite dat sy die Boere wou help,” “Emily Hobhouse was ’n vurige Britse patriot wat nie kant gekies het tydens die oorlog nie.”

Sy het nie Suid-Afrika toe gekom om kant te kies teen haar vaderland nie, maar omdat sy met haar hele wese teen oorlog gekant was.

“Sy het herhaaldelik gesê sy staan verwyderd van die oorlog en verag oorlog. Sy het Suid-Afrika toe gekom om die vroue en kinders wat as gevolg van die oorlog gely het, te help en het geen saak met mans gehad wat hulleself in ’n oorlog dompel nie.”

Volgens Brits word Hobhouse ontneem van die persoon wat sy werklik was deur haar te verromantiseer as iemand wat aan die Boere se kant was.

Haar simpatie het slegs by die vroue en kinders gelê. Wat haar betref, kon die mans hulleself maar uitwis as hulle wou oorlog maak. Vir die mans wat in die konsentrasiekampe was, het sy nooit iets gegee nie, “want hulle het hulleself daar geplaas,” sê Brits.

Terwyl die naam Emily Hobhouse vir die meeste Suid-Afrikaners bekend is vanweë die groot rol wat sy tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het om die lot van vroue en kinders in die konsentrasiekampe te verlig, is sy vandag feitlik totaal onbekend in haar eie land, waar bitter min mense van haar bestaan weet.

In Suid-Afrika was Emily so bekend dat die selfs ’n duikboot na haar vernoem is – iets wat vir Hobhouse volgens Brits tot in haar wese met afgryse sou vervul het omdat sy so sterk gekant was teen enige vorm van oorlog.

“Emily sou woedend gewees het as sy geweet het ’n duikboot word na haar vernoem.

Selfs die nuwe naam SAS Umkhontu (Betekenis Assegaai) sou haar met afgryse vervul het.

3) SAS Johanna van der Merwe (na ‘n jong Voortrekkermeisie wat ‘n aanval op haar groep oorleef het)

Op 27 Augustus 1971 is die SAV se derde duikboot SAS Johanna van der Merwe, te Lorient in diens gestel.

Haar naam was Johanna van der Merwe en vir die meeste mense beteken dié naam vandag nie veel nie, maar as 12-jarige meisie wat die Groot Moord by Bloukrans in 1838 oorleef het, is Johanna van der Merwe en ander soos sy, helde wie se verhale onthou moet word.

Een van die grootste nagmerries in die geskiedenis van Suid Afrika het plaasgevind 16 Februarie 1838 by Moordspruit en Bloukrans. Houtgeruste burgers het verspreid van mekaar in hulle waens gewag vir die terugkeer van Piet Retief en sy manne wat met Dingaan gaan onderhandel het vir grond om hulle te vestig. Hulle is onverhoeds oorval deur duisende Zoeloes en voor die voet bloedig vermoor.

Die 12 jarige Johanna het geslaag om te ontvlug tydens die aanval op die Van der Merwe laer en het na die Prinsloo laer gevlug maar ongelukkig is hulle daar ook oorval.

Betta de Beer, Johanna en ‘n Prinsloo meisie het in ‘n doringboom geskuil, maar is met ligdag verraai deur druppende bloed uit die boom. Twee Zoeloes wat onder die boom deurgeloop het, het toe herhaalde assegaai steke na dogters en vrou in boom gesteek en Betta de Beer aan haar hare uit die boom gepluk. Tevrede dat almal dood is, het hulle die moordtoneel verlaat.

Johanna is die oggend ná die Groot Moord gevind waar sy onder die lyke van ander kinders geskuil het.(Ongeveer 20 lyke) Sy self het 24 assegaaisteke opgedoen. Die sirkelende aasvoëls het redders na haar toe gelei. Johanna was tot en met haar dood mank as gevolg van die aanval en is as ware heldin onthou. Een van die gedenkwaens van die 1937-trek is na haar vernoem en later selfs ʼn duikboot van die Suid-Afrikaanse vloot.

Johanna is in Mei 1888 oorlede, ná ʼn lang en vol lewe.

Naams verandering: Die nuwe regering het in 1999 dit goedgedink om die naam ongevoelig te verander na Assegaai.

Bewaring van Duikboot: Nadat SAS Johanna van der Merwe / SAS Assegaai die Suid-Afrikaanse vloot tussen 1971 en 2003 gedien het is die duikboot finaal uit diens gestel.

Daar is versoek dat die duikboot bewaar moet word as deel van die ryke vloot geskiedenis. Hierdie versoek is goedgekeur op 22 Desember 2010 en die duikboot is oopgestel vir toere. In die eerste drie jaar as ‘n museum het 40, 000 besoekers haar besoek.

Bronne: Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia Dawid van Lill Wikipedia, Geliefde verraaier deur Elsabe Brits, Internet: Posted by Paul Joubert on Friday, September 4, 2015 Under: Ken jy jou land? , Kraal Uitgewers, Simonstad Info

Maak 'n opvolg-bydrae