DIE 21-SLEUTEL / Sleutel Mondigwording / 21ste

DIE 21-SLEUTEL

Baie van ons, veral die ouer garde, onthou daardie groot sleutel wat plegtig op jou 21ste verjaarsdag aan jou oorhandig is.

Gewoonlik het hierdie verjaarsdag met ‘n groot partytjie gepaard gegaan en met baie geskenke.

Die groot sleutel was gewoonlik ‘n silwer sleutel, gemonteer op ‘n houtblokkie met jou naam pronkerig onder op die hout gegraveer.

Hierdie gewoonte of tradisie het so stadigaan en ongemerk begin uitsterf en vandag is dit nog net ‘n ou ornament in ‘n vertoonkassie of iewers in ‘n laai weggebêre.

WAAR KOM HIERDIE TRADISIE OF GEWOONTE VANDAAN?

Die tradisie van ‘n groot viering of mylpaal op 21 jaar is deur die jare deur baie lande en volke gevolg.

21 jaar is beskou as volle volwasse. Die 21-jarige persoon is nou geen kind meer nie, voortaan self verantwoordelik vir sy of haar eie dade en optrede.

Die tradisie kan teruggevoer word na die Riddertye waar ‘n manlike persoon op 21 jaar na verskeie rituele as Ridder verklaar is. Hierdie tradisie het mettertyd oorgegaan na alle 21-jariges.

Hierdie Engelse tradisie is oorgedra deur die kolonialiste die wêreld oor en het veral in die Britse gebiede soos Suid-Afrika en Australië ook ‘n tradisie geword.

In Suid-Afrika het selfs die Moslem-, Indiër- en Bruingemeenskap hierdie tradisie oorgeneem.

Die kind word nou grootmens, mag selfs voortaan wettig rook en drink.

Die 21-jarige kon nou wettig grond koop, ‘n testament opstel en in ‘n verkiesing stem.

DIE 21-SLEUTEL

Om hierdie groot gebeurtenis in ‘n kind of dan nou ‘n jong volwassene se lewe te vier is die groot sleutel deur die ouers aan die 21-jarige oorhandig.

Die ouers gee die 21-sleutel as geskenk om aan hulle kind te sê: WELKOM IN DIE VOLWASSE WÊRELD!

Die sleutel stel ‘n voordeursleutel voor wat die deur open na volwassenheid.

Die deur na die toekoms word oopgesluit.

Die sleutel sluit ook die deur na die gesin se huis oop en is simbolies daarvoor dat die kind nou sy of haar eie keuses kan maak om enige tyd in die gesinshuis in te kom of uit te gaan. Die ouerhuis se deur staan altyd vir hulle kind oop en kan ter enige tyd oopgesluit word.

Die sleutel bied aan die jong vowassene die Vryheid om eie Keuses te maak, maar met die Verantwoordelikheid van ‘n Volwassene.

DIE EINDE VAN ‘n BAIE BETEKENISVOLLE TRADISIE

In Suid-Afrika het hierdie besonderse mylpaal in ‘n jong volwassene se lewe stadigaan minder belangrik geword.

1969 het alles verander toe stemreg aan 18-jariges toegeken is. Skielik het 18 die belangrike datum geword. Die 18-jariges het nou baie vryhede en geleenthede gekry, dikwels sonder die besef en begrip van die gepaardgaande verantwoordelikhede.

Die pragtige simboliese oorhandiging van ‘n 21-sleutel het outyds geword en uitgesterf.

So ook het die groot viering van ‘n 21ste verjaarsdag die simboliek verloor as die belangrike en verantwoordelike gebeurtenis van die oorgang van ‘n kind na ‘n volwassene.

Die 21ste verjaarsdag word nog steeds met groot vreugdevure gevier, maar ongelukkig het die ryk simboliek daarvan verlore geraak.

Samesteller: Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae