Stoelmonument Middelburg Kaap. H Lotter. P Wolfaardt. ABO. Burgermonument. Begraafplaas

Stoelmonument
Middelburg
Oos-Kaap

Johannes Cornelius Jacobus Lötter  ( Hans Lötter )

Pieter Jacobus Wolfaardt

Gefusileer

ABO

Net buite Middelburg (Oos-Kaap) op die R398 op pad na Richmond is ñ bordjie : Die Stoelmonument. Bietjie weggesteek, langs ñ peperboom, teen die hang van die Ouberg koppie is hierdie monument. Gebou uit doleriet klippe met 3 marmerklippe, een met ñ afdruk van ñ riempiestoel daarop gegrafeer, een met bewoording ” Ter ere aan Komm. J Lötter en P J Wolfaardt wat alhier gefusileer is 12/10/1901 en 15/10/1901 respektiewelik.” , en ñ kleiner derde steen bo-aan wat lees ” Wat beteken hierdie klippe vir julle? Joh4:5″

Johannes Cornelius Jacobus Lötter (Hans) en sy adjudant Luit. Petrus Jacobus Wolfaardt het hier voor ñ vuurpeloton gesterf tydens die ABO.
Die 2 boereoffisiere is deur Kol Henry Schobel gevange geneem by Bouwers Hoek. Die inwoners van Middelburg het opdrag ontvang om op Middelburg se kerkplein bymekaar te kom waar die doodsvonnis voorgelees is. Die 2 is toe geneem na die plek waar die monument huidig staan en daar aan ñ stoel vasgemaak en geskiet.

Kommandant J C J Lötter (26jaar) van Colesberg het as gewone burger by die kommando van Komm Kritzinger aangesluit. Sy dapperheid en leierskap het hom gou die rang van kommandant besorg en saam met G Scheepers het hulle die Britse magte baie moeilikheid gegee in Kaapland. Hy was gevang en as Kaapse Rebel aangekla asook aangekla vir moord, afranseling van lojaliste , roof, diefstal en die vernietiging van infrastruktuur. 27 September is hy op Graaff Reinet verhoor en skuldig bevind. Hy was tot op die einde rustig en kalm.( John Roderick)

Bydrae deur John Roderick:
15 Oktober 1901.
Luitenant Pieter Jacobus Wolfaardt (32) op hierdie dag voor ‘n vuurpeloton gesterf te Middelburg.

Pieter was nie ‘n man vir stilsit nie. Sy dapperheid het dikwels aan roekeloosheid gegrens. Hy was as Kaapse rebel aan moord en poging tot moord skuldig bevind.
Dit is ‘n feit dat hy tydens ‘n geveg etlike Britse soldate tromp-op doodgeskiet het,
en op etlike ander gevuur het. Slegs nadat hy self gewond was, en die bloed oor sy gesig gestroom het is hy tot oorgawe gedwing.

Die doodsvonnis was oor hom, sowel as Lótter op die 11de Oktober te Middelburg uitgespreek. Sy vrou het hom in die tronk besoek. In die sel het sy begin huil, en het hy haar getroos. Hy het haar die versekering gegee dat alles met hom wel is, en dat hy gereed is om te gaan.

Hy was geblinddoek en op ‘n stoel vasgemaak.
Sy laaste woorde was gewees,
“Veilig in Jesus se arms”.

Op Middelburg staan ‘n stoel-monument, opgerig ter ere van hom en Lótter.
Die bewoording daarop lees, “Wat beteken hierdie klip vir julle?”

Bron: Internet. Middelburg inwoner en historiese kenner Hennie Coetzee en John Roderick
Fotos: Internet. John Roderick. Dankie Handri Vorster wat vir ons 2018 fotos gaan neem het.

Bydrae deur Morné van Rooyen : (FAK)

Lötter is daaraan skuldig bevind dat hy as Kaapse burger gerebelleer het en is veroordeel om gehang te word; tog is die vonnis nie aan hom meegedeel nie.Die doodsvonnis word voor die Gereformeerde kerk op Middelburg, Kaap, oor die Kaapse rebelle P.J. Wolvaardt en kmdt. J.C. Lötter uitgespreek. Die Gereformeerde kerk staan nog, maar die NG kerk (wat links daarvan sigbaar is) is gesloop nadat sy toring in duie gestort het.

Kmdt. Johannes Cornelius (Hans) Lötter (gebore Bouwersfontein, distrik Somerset-Oos, 15 Januarie 1875) was ’n Boereverkenner, kommandant en Kaapse rebel tydens die Tweede Vryheidsoorlog

Hy was onrustig van geaardheid en van jongs af lief vir reis. Nadat hy vanaf 1896 ’n aantal jare in die Oranje-Vrystaat deurgebring het, het hy in 1899 teruggekeer na die Kaapkolonie, waar hy op Noupoort ’n klein handelsonderneming begin het.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899 het Lötter hom oor Middelburg, Kaap, na Colesberg begeef en in November daar as gewone burger by die Boeremagte aangesluit. Hy is gewond tydens ’n skermutseling tussen Bloemfontein en Kroonstad.

Ná sy herstel het hy as rapportryer opgetree en in die hande van die Britte geval, maar op pad na Bloemfontein ontsnap, steeds in besit van sy rapport.

Op 15 Desember 1900, ’n maand voor sy 26ste verjaardag, het Lötter onder genl. P.H. Kritzinger oor die Oranjerivier die Kaapkolonie binnegeval. Genls. C.R. de Wet en J.B.M. Hertzog, wat in dieselfde periode die Kaap ingeval het, is spoedig gedwing om terug te trek, maar Kritzinger het langer uitgehou.

Gevegte bedags en terugtrek snags het ’n daaglikse roetine geword. Deur die toeloop van talle Kapenaars het die kommando mettertyd aangegroei en is Lötter as kommandant aangewys.

Maar eindelik is hulle gedwing om na die Vrystaat terug te val, van waar Lötter met sy kommando in Mei 1901 uitgestuur is in die rigting van Tarkastad.

Ná aansluiting by Kritzinger het hulle op 2 Junie 1901 Jamestown verower. Met die Britte op hul hakke het Lötter na Middelburg getrek.

Lt.kol. H.J. Scobell het op 4 September 1901 verneem dat ’n groep Boere, 129 man sterk, hulle in ’n plaashuis 65 km wes van Cradock skuilgehou het.

Terwyl hulle in ’n skuur teen die reën skuiling gesoek het, het die Britte hulle daardie nag (5 September 1901) verras. Ná ’n hewige geveg waarin Lötter in die kop gewond, 14 man gedood en nog 46 gewond is, het hy hom oorgegee.

Hy is na Graaff-Reinet geneem waar hy drie weke later deur ’n krygshof verhoor is op ’n aanklag van hoogverraad, moord en roof. Die groot twisvraag tydens Lötter se verhoor was of hy ’n Kapenaar was en of hy vroeër Vrystaatse burgerskap ontvang het.

Hy het die getuienis verwerp dat hy op die Colesbergse kieserslys was aangesien dit nie sy voornaam Cornelius ingesluit het nie. Ook het die leersak wat die bewyse bevat het dat hy ’n Vrystaatse burger was en deur die landdros van Bloemfontein onderteken is, tydens sy oorgawe verlore gegaan.

As die enigste Afrikaanse predikant op Middelburg, Kaap, tydens die Driejarige Oorlog, het ds. Stephanus Postma, een van ds. Dirk Postma se vyf predikantseuns, die hele gemeenskap geestelike versorg en die Kaapse rebelle wat tereggestel is, op die dood voorberei. Hy is vroeg in 1904 in die ouderdom van 39 jaar ná ’n smartlike lyding aan ’n maagkwaal (moontlik kanker) oorlede.

’n Aangetroude familielid het getuig dat Lötter in 1896 na die Vrystaat verhuis het in die verwagting dat die Jameson-inval ook die Vrystaat sou betrek. Daarna het hy as plaasvoorman vir ’n sekere Meyer gewerk en dikwels die Kolonie besoek om perde te verhandel. In 1899 was hy terug in die Kaapkolonie.

Lötter is daaraan skuldig bevind dat hy as Kaapse burger gerebelleer het en is veroordeel om gehang te word; tog is die vonnis nie aan hom meegedeel nie.

Eers nadat hy na Middelburg geneem is, het hy die vonnis op hierdie dag op die markplein aangehoor. Dit het verskil van die Graaff-Reinetse vonnis, deurdat hy voor ’n vuurpeloton sou sterf.

Ds. Stephanus Postma (1865–1904) het as enigste predikant op Middelburg tydens die oorlogsjare as Lötter en ander rebelle se geestelik versorger opgetree. Hy is gereeld deur die militêre owerheid ondervra, maar het deurgaans korrek opgetree en ’n ewewigtige en positiewe rol gespeel.

Verswak deur honger en weens ’n hartkwaal, het Lötter by die aanhoor van sy vonnis flou geword. Nadat vriende hom besoek en hy sy korrespondensie afgehandel het, het hy die dood kalm afgewag. ’n Rukkie later is hy buite die dorp tereggestel.

ABO Rebelle

Stoelmonument

Burgermonument

Gedenksteen in Middelburg begraafplaas

Die Stoelmonument is een van die bekendste monumente.

In die Middelburg begraafplaas vind ons ook ń Monument waar Marais, Lötter en Wolfaardt begrawe is.

12 Oktober 1902 is Kommandant Johannes Cornelius Lötter net buite Middelburg teen die rant van Ouberg gefusileer, geblinddoek en op ń stoel vasgebind.

Frederick Abraham Marais (Frikkie) is gehang op die Markplein 10 Julue 1901. Sy lyk is na die lokasie geneem, 2 sakke kalk daaroor gegooi en gelyk gemaak met grond sodat dit nie gevind sou word nie. Een van die 5 man wat hulle gevolg het, vermoedelik die predikant, het ń been van ń dier (dybeen van ń bees) daar opgetel en ongesiens daar geplant om weer later graf te vind. 4 Maart 1906 is sy oorskot saam met díe van Lötter en Wolfaardt in die begraafplaas herbegrawe.

15 Oktober 1901 is Luitenant Pieter Jacobus Wolfaardt ook geblinddoek, op ń stoel vasgemaak en voor vuurpeleton gefusileer. Hy is saam met sy kommandant gevange geneem , op dieselfde plek gefusileer en met herbegrafnis in dieselfde kis begrawe. 1906 is Gedenksteen daar opgerig.

Hulle name verskyn ook op die Burgermonument in die Burgemeesterstuin.

1903 is die oorskot opgegrawe van die burgers van Kommandant Lötter de kommando wat gesneuwel het in die skuur (5.9.1901) toe hy gevange geneem is. Oorskot van 13 man wat in vlak graf van sowat 8 duim begrawe is en wat met klippe bedek was, is opgegrawe en in 4 kiste geplaas en herbegrawe.

Stoelmonument

1949 is hierdie monument opgerig op die presiese plek van fusilering, presies 48 jaar later.

http://monument-sa.co.za/stoelmonument-middelburg-hans-lot…/

Bron:   Middelburg Hede en Verlede deur HB Coetzee

Fotos: Gys Ströh snr Januarie 2020

Inperking is nie ń nuwe gedagte nie.

” Middelburg Karoo gedurende die ABO

Die ABO het in 1899 uitgebreek, maar die Kaapkolonie het eers ń jaar later betrokke geraak.

Op Desember 1900 is Middelburg Distrik onder krygswet geplaas. Troepe het binne ń week aangekom om die dorp teen moontlike aanvalle van Boeremagte te beskerm.”

” Augustus 1901 was die distrik van Middelburg in oproer. Ongeveer 170 van die plaaslike inwoners het by verskillende Kommando’s aangesluit.”

Blokhuise

” Teen die middel van Juliemaand 1901 het die Britte begin met ń blokhuislinie al langs die Oranje, van Aliwal-Noord na Bethulie en vandaar langs die spoor deur Stormberg en Rosmead, Naauwpoort, De Aar en Kimberley. Hierdie werk is met verbasende snelheid uitgevoer. In 15 dae is 241 myl (385 km) met blokhuise voorsien, 1600 treë van mekaar met draadversperrings, alarmgewere en myne.”

Inperking

” Geen nuus wat nie gesensor was mog oorvertel word nie. Ten einde beheer oor elke inwoner van ń distrik te hê waar Boeremagte gereeld aangedoen het, is ń vorm met name en beskrywings van elke inwoner van sodanige huis op die deur aangebring en enigiemand anders wat daar gevind word is gearresteer, so ook as iemand afwesig was wanneer daar ń Britse patrollie aandoen, is sodanige persoon summier as rebel beskou.”

“Boere wat onder verdenking was, is na die dorp laat kom om daar te woon totdat die kommando’s weg was, hulle kon selfs na ń ander dorp gestuur word vér van krygsverrigtinge af, hy moes dan vir sy eie kostes betaal en behoeftiges is op die publiek se koste gehuisves.”

Hulle was dan die “ongewenstes”(undesirables) genoem, slegs daarvan verdink dat hulle met die Boeremagte “gesimpatiseer” het. Op Port Alfred oa het die ongewenstes van elke dorp waar moontlik saam ń huis bewoon, so was daar ń Middelburg-huis, Graaff-Reinet-huis ens.

Rebelle

ń Hele aantal van die inwoners van die dorp kry persoonlik kennis om stiptelik op ń sekere tyd op die markplein teenwoordig te wees, die veroordeelde word na die toneel gebring, omring deur soldate, die vonnis word afgelees deur die kommandant en deur ń tolk, die veroordeelde word weggelei, en die skare kry verlof om uiteen te gaan.

Vir ń teregstelling op die galg word die publiek weer op dieselfde manier betrek om alles van begin tot einde by te woon, so het dit gebeur op Middelburg, Cradock, Somerset-Oos en Burgersdorp.”

Uittreksels uit:

Middelburg Hede en Verlede deur HB Coetzee

Laat 'n boodskap