Steytlerville Oos Kaap Familiewapens Vallei van die vlae AG Visser Huis WW1 Lady de Waal Brug

Steytlerville

Oos-Kaap

WW1: Die Groot Oorlog. Gedenksteen ter ere aan diegene vanuit hierdie area wat in Die Groot Oorlog omgekom het. Die inwoners wat hierdie gedenksteen opgerig het, het gedink en geglo dat Die Groot Oorlog (WW1) die laaste oorlog sou wees, min wetende dat later ń nog groter menseslagting sou kom (WW11). Name van gesneuweldes tydens die Tweede Wêreldoorlog is later ook bygevoeg. Interessant in die area is nog steeds Dorflings te vinde en bietjie verder ook Van Deventers.

Hierdie gedenksteen staan op die hoek van Middletonstraat en weerskante is die hoofstraat. Die hoofstraat het 2 name, regs van die gedenksteen is dit Piet Retief en links van die gedenksteen is dit Sarel Cilliers. Twee trekleiers sodoende vereer.

Die gedenksteen is onlangs opgeknap deur een van die bure en inwoners van Steytlerville, Linda Henderson. Na vele pogings wou niemand, selfs nie die munisipaliteit , verantwoordeikheid aanvaar vir die opknapping nie. Linda het toe op eie koste self die monument laat afskuur en verf en herstel tot sy oorspronklike glorie. Linda dien tot voorbeeld vir almal in SA.

Fotos en inligting: Dankie Erna Buber-deVilliers Schutte

Familiewapens

ń Ongelooflike dorp met ń besonderse breë hoofstraat, wyd genoeg vir die ossewaens om in te kon draai. Vandag is daar ń middelmannetjie met bougainvillas en vlagpale met familiewapens van families betrokke by Steytlerville.

Weerskante lieflike ou huise Victoriaanse en Edwardiaanse styl met sinkdakke, loodglasvensters en groot stoepe wat grens aan die straat kompleet met broekie lace.

Snags die helderste sterre in die skoon oop hemel.

Steytlerville is een van min dorpe in SA waar daar geen drank verkoop kon word nie.

Ingang van dorp:

By ingang van die dorp is inligting van hierdie Vallei van vlae aangebring, maar het reeds onder vandale deurgeloop). Ook pragtige ou implimente en Muur van herinnering aan Groot Trek. 1838 –1938

In die hoofstraat van Steytlerville staan ń ry familiewapens op die middelmannetjie.

Die familiewapens is opgerig sedert 2003 en behoort aan die families wat hier gewoon het toe die dorp gestig is en wat tot die dorp se geskiedenis bygedra het.

Steytlerville is ń prentjiemooi klein dorpie in ń dorre vallei tussen die Groot Winterhoekberge, die Baviaanskloofberge en die Grootrivier berge.

 Hierdie pragtige Karoodorpie het onstaan in 1876 toe die NG Gemeente Steytlerville gestig is op die plaas Doorschpoort  Die kerk is daar gestig om te voorsien in die geestelike behoeftes van die plaaslike boere.Die dorp is ook vermoem na ds Abraham Isaac Steytler, die eerste predikant. Die eerste kerk is gebou in 1876 vir ongeveer 300 lidmate, maar is later vervang deur die kerk in Sarel Cillierstraat met sy Neo-Gotiese boustyl met sitplek vir 1200 sittende lidmate.

Gedurende die ABO is Steytlerville deur die Britte gebruik as buffer teen die Boere Kommandos.

Die hoofstraat in Steytlerville het 2 name. Weerskante van ń monument wat die Groot Oorlog herdenk. Na die een kant strek Sarel Cillierstraat en na die ander kant Piet Retiefstraat.

Bronne: SA vir Suid-Afrikaners M Renssen. Wikipedia. History of Steytlerville

Fotos: Gys Ströh snr April 2019

NG Kerk Steytlerville

Die dorp het sy naam en ontstaan te danke aan die stigting van die Kerk 10 Junie 1876. Die gemeente is vernoem na Ds. AI Steytler, leraar van die NG Gemeente Uitenhage. Die bedoeling was dat dit Steytlerwil moes wees omdat h soveel struikelblokke moes oorkom om hierdie gemeente te stig, maar met stigting was dit reeds geskryf as Steytlerville.

Die Uitenhage gemeente was ń geweldige groot gebied wat Baviaansberge ens ingesluit en die leraar moes buitedienste in distrik hou Juis tydens een van die jaarlikse tentdienste langs die Grootrivier is besluit om die plaas Doorschpoort aan te koop vanaf die regering. Dit was ń vrye regeringsplaas wat deur die trekboere gebruik is tydens droogtetye aangesien daar water en weiding rondom die Grootrivier was. Die plaas was ook bekend as Die goddelose Sodom.

By die stigting is besluit om ń tydelike kerk te bou om tentdienste te vervang.

5 Mei 1906 is die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê, inwyding 1907.Die argitek was Folkert Wilko Hesse. Hierdie kerk bied sitplek vir 1500 mense en is die grootste Gregoriaanse Styl kerk in die Suidelike Halfrond. ń Baie duur gebou, koste 15 000 pond.

Die Kerkraad was nou gemoeid met dorpsake soos erwe, water, dranklisensies, hotelle ens. Sodanig dat kommer uitgespreek is dat gemeentesake nie genoeg aandag geniet nie.

Twee hofsake is ook gemaak teen sakeondernemings wat drank binne dorpsgrense verkoop het, een in 1893 en ander in 1950. Beide sake gewen deur Kerkraad. Eers in 1946 het Kerkraad dorpsake aan stadsraad oorgegee.

Huidig is die kerkgebou nog in gebruik alhoewel lidmaat getalle klein is. Gebou is netjies opgepas en versorg. Nogal ń vingerwysing vir stedelike gemeentes met hul groter getalle lidmate.

Inligting: Internet. Kerkgeskiedenis

Lady de Waal Brug

Die oudste brug in hierdie area.

By die ingang van die dorp staan hierdie pragtige ou enkellaan staalbrug. In onbruik, vervang deur ń betonbrug. Slegs voetgangers en nuuskieriges kruis huidig die brug.

Die Lady de Waal Brug is in 1911/1912 gebou oor die Grootrivier en is ingewy Oktober 1913 deur die eerste Administrateur van die Unie van SA, Sir Frederick de Waal. Die brug is vernoem na sy vrou, Lady Sara de Waal.

1916 het hierdie brug in ń vloed weggespoel en is herbou.

1921 het die brug weer weggespoel en is weer herbou. Hierdie keer 9 voet hoër, ń enkellaan staalbokbrug.

1974 is hierdie brug vervang deur ń dubbellaan betonbrug.

Die ou brug het gebly as deel van die ryk geskiedenis van Steytlerville.

Ondenkbaar dat daardie droë loop die Grootrivier kan wees/word.

Karroo Theatrical Hotel

Net buite die dorp is hierdie Art Deco Hotel, gebou ongeveer 1943. Eksklusiewe hotel wat ń fantasie wêreld bied met kabaret vertonings so saam met die etes. Ongelukkig verlate tydens ons besoek.

AG Visser huis

Pragtige Victoriaanse styl huis met spits sinkdak, veranda’s en heerlike koel stoepe in die hoofstraat. Huis is tot nasionale monument verklaar.

Die huis is in privaatbesit en as jy aanklop, staan jy verstom oor die hartlike en vriendelike ontvangs. Netjies opgepas, meubels uit ń ander era, alles die privaat eiendom van die eienaar. Alhoewel alles netjies en goed versorg is, is hulp met restourasie werk dringend nodig.

AG Visser, mediese dokter, digter en musikant het hier in Steytlerville gewoon 1909 tot 1916.

Andries Gerhardus Visser is 1 Maart 1878 gebore in die distrik Fraserburg. Die droogte het sy ouers van hulle plaas in Carnavon gedryf en tydens hulle soeke na weiveld is AG Visser gebore op die plaas Zuurfontein, in ń tent onder ń groot ou saffraanboom. Hy gaan skool in die Hugenote-Gedenkskool Daljosafat. Op 18 word hy onderwyser. Tydens en na ABO studeer hy medies in Edinburg (1901-1906).

Na sy terugkeer vestig hy hom as arts in Steytlerville. (1909-1916)

Hy was ń knap dokter.

Hy raak aktief betrokke by die Afrikaanse taal.

Een van die bekendste en geliefste digters, ń volksdigter.

Sy liefde vir die natuur, musiek, sy taal en sy medemens is sprekend.

Hy was ń sanger en het homself begelei. Hy het die kerkkoor afgerig en het dikwels tydens die erediens gou uitgeglip om ń pasiënt te gaan sien en gou weer ingeglip, betyds vir die volgende sangoptrede.

April 1912 lewer hy 2 orrelsolos tydens ń musiekprogram in die NG Kerk.

1913 sy eerste huwelik met Lettie Conradie (Aletta Francina Conradie), ñ onderwyseres.

Hul eerste kind, Andries, is hier in Steytlerville gebore 24.2.1915

Lettie sterf in 1920 aan komplikasie tydens hulle 3de kind se geboorte. Sy is die Laetitia in AG Visser se verse.

AG Visser was dokter in Carnavon 1907-1909, In Steytlerville 1909-1916 en in Heidelberg 1916-1929.

10 Junie 1929 sterf hy in sy huis in Heidelberg aan ń hartaanval.

Royal Hotel

Hierdie historiese hotel, gebou 1897, bied lafenis vir enige reisiger. Gasvryheid en diens en oersoonlike aandag is die wagwoord hier. Oudhede vorm deel van die hotel. Op die koel stoep kan die dorpie waargeneem word met ń yskoue koeldrank in die hand.

Vallei van die vlae: Vlag Geskiedenis

Reeds op pad na die dorp word mens begroet deur die mooiste vlag geskiedenis geverf op die rotse.

Aan die westekant van Steytlerville op die R329 rigting Janssenville pryk die besonderse vlae wat op die rotse geskilder is. Die ou Suid-Afrikaanse vlag, die nuwe Suid-Afrikaanse vlag en veel vroeër vlae van geskiedkundige belang. Die meesterstukke is die werk van ń plaaslike boer wat met sy kunswerke begin het lankvoor die nuwe regering in 1994 aan bewind gekom het.

Bronne: SA vir Suid-Afrikaners M Renssen. Fotos: Gys Ströh snr April 2019

Maak 'n opvolg-bydrae