Slag van Silkaatsnek / 11 Julie 1900 / ABO / Magaliesberg / Hartbeespoortdamarea / Noordwes

Slag van Silkaatsnek

11 Julie 1900

ABO

Magaliesberg

Hartbeespoortdam area

Pos deur AfriForum Uitgewers (Julie 2020):

Op 11 Junie 1900 het die Slag van Silkaatsnek gedurende die Anglo-Boereoorlog naby die teenswoordige Hartebeespoortdam in Noordwes plaasgevind.

Dié prominente veldslag is een van vele wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Magaliesbergreeks plaasgevind het.

Silkaatsnek is deur beide die Boere en die Britte van groot strategiese belang geag.

Die Boeremagte, onder leiding van generaal Koos de la Rey, het dié dag ’n oorwinning oor kommandant H.R. Roberts se Britse mag behaal.

Tussen 19 en 24 Britte is dood in die veldslag, terwyl nagenoeg 200 gewond is.

Aan Boerekant het ses man gesneuwel en agt is gewond.

In sy boek “Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902” (Kraal Uitgewers), skryf Pieter de Jager onder meer soos volg oor dié veldslag: “Die Slag van Silkaatsnek het op 11 Julie 1900 plaasgevind. Genl. J.H. de la Rey het die grens van die Rustenburg-distrik op 9 Julie bereik, waarna hy op Jericho, ’n sendingstasie sowat 42 km vanaf Silkaatsnek, op inligting van sy verkenners gewag het. Volgens hulle berigte het die Britte teen die tyd reeds al die deurgange oor die Magaliesberg beset. Teen dagbreek op 11 Julie 1900 steek De la Rey die Britse magte onder vuur met Otto von Lossberg se kanonne. Die Boere op die hoë posisies aan die oostekant van Silkaatsnek slaag daarin om die Britte te verdryf. De la Rey trek om die Britse stellings, sy burgers bestorm die kanonne en pen die Britse magte vas. Teen sononder hys die Britte die wit vlag. ’n Poging tot ontsetting van die Britte te Silkaatsnek misluk. Die hele Britse mag val in De la Rey se hande. Afgesien van 189 krygsgevangenes, buit hy talle perde en lê beslag op twee kanonne, ’n groot hoeveelheid ammunisie en talle gewere. De la Rey se oorwinning het die moreel van die burgers in Wes-Transvaal sodanig versterk dat talle wat reeds wapen neergelê het, weer by die kommando’s aangesluit het. “

Die historikus Elria Wessels merk oor die gebeurtenis op: ‘Die geesdrif vir die stryd vlam weer hoog.’”

“Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902” is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks en is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Skets: Dié skets van Silkaatsnek in die Magaliesberge is deur ’n Britse soldaat, ene Erskine, gemaak en gedateer 16 Januarie 1901; Foto: Genl. Koos de la Rey)

(AfriForum Uitgewers 2020)

Maak 'n opvolg-bydrae