Sasolburg Geskiedenis / Fakkelbrand

27 Augustus 1954

Sasolburg word geproklameer.

Sasolburg is ń dorp in die Noordelike Vrystaat wat sy ontstaan te danke het aan die petro-chemiese industrie nl Sasol.

Sasolburg is deel van die Vaaldriehoek en is bekend vir sy skoorstene, vlamme, rook en chemiese reuk.

1954 toe Sasolburg geproklameer is het daar reeds 3097 blankes en 4995 swartes gewoon en was al reeds ń miernes van bedrywighede.

Die dorp is uitgelê op plase soos Grootfontein, Zevensfontein, Kleinfontein, Geduld, Willowgrove ens.

Deeglike ondersoek is vooraf gedoen vir geskikte ligging en faktore soos klimaat, helling, heersende winde, toegangsroetes en die Vaalrivier is in ag geneem.

Aanvanklik is ligging langs die Vaalrivier oorweeg maar mis in die winter en muskiete in die somer het aanleiding gegee dat dorp verder weg beplan is.

Die aankoop en ontwikkeling van Abrahamsrust aan die oewer van die Vaalrivier is vir ontspanning van Sasoliete gedoen.

Sasolburg het eintlik al reeds in 1952 ontstaan.

Die doel was om huisvesting te verskaf aan Sasol se personeel.

Aanvanklik is daar van ń pont gebruuk gemaak om die Vaalrivier te kruis, later ń tydelike brug wat weer later vervang is met die Baddrifbrug.

Daar was geen winkels nie en om voorrade aan te koop was ń uittog Vereeniging of Vanderbijlpark toe. Geen elektriese geriewe in huise, baie min water beskikbaar. Drinkwater was baie skaars. Badwater nog skaarser.

Stof en sand was orals. Daar was net mielielande, klein groepies bome en volop sand tot teen die Vaalrivier. Vasval in die sand was heel gewone gesig in area. Augustus maand met sy stofstorms was enige huisvrou se nagmerrie, sand het by elke gaatjie ingesypel. Soggens was jou kop op die kussing afgebeeld. Halfklaar huise en gebou en getimmer was kenmerkend. Duisende bome is aangeplant om hierdie stof te probeer verminder.

Mense het vriende gemaak, oor en weer gekuier en hulp aangebied.

Die ou Afrikanertradisie om nuwe intrekkers met kommetjie sop en broodjies te verwelkom is met groot hartlikheid in Sasolburg gedoen.

Gerugte van giftige gasse het dikwels die rondte gedoen en inwoners onrustig en sommiges paniekerig gemaak.

Die eerste winkel is in 1953 geopen en daarna het ontwikkeling vinnig plaasgevind.

ń Kenmerk van die vroeë Sasolburg is die gereelde stroom mense van oorsee wat daar kom vestig het. Die Dene was eerste. Hoewel die inwoners alles in hulle vermoë gedoen het om hulle gerieflik en gelukkig te maak was die aanpassing wat die immigrante moes maak groot en moeilik. Soos een van die Dene in 1952 gesê het: ” I arrived at ze place at night and saw nuzzing. Next morning there was still nuzzing to be seen but I could see it better”.

Die naam Sasolburg is gekies nadat verskeie voorstelle oorweeg is.

Sasolburg is ń voorbeeld van dorpsbeplanning wat deeglik gedoen is volgens “moderne” beginsels van stadsbeplanning. Strate is met draaie beplan, met bome weerskante, groen stroke met bome waar geen voertuie toegelaat is nie, parke en skole so beplan dat kinders nie hoofstrate hoef te kruis nie.

Inwoners is aangemoedig om tuine te vestig. Sasolburg is as tuindorp beplan met ń magdom bome. 72 000 bome is aangeplant, 12 000 akkerbome (26 verskillende variëteite), selfs meer as die bekende stad van akkerbome (Stellenbosch)

Vandag is Sasolburg ń lushof van bome. (Sien fotos, neem net in ag tipiese vaal hoëveldse vaal winter en hoë vlak van lugbesoedeling).

Sasolburg is vir 15 jaar agtereenvolgens aangewys as die mooiste dorp in die Vrystaat. (Laaste in 1994).

Selfs die administrateurs trofee verskeie kere ontvang vir die netjieste en bes versorgde dorp.

Ongelukkig het situasie verander soos in res van land en kan agteruitgang bespeur word. Die eens gewilde Hoëveldse tuin is verwaardloos en ontaard in moeras. Groenstroke raak gewild onder misdadigers. ens.

Maar Sasolburg bly maar ń oase in ń vaal deel van die land.

Bronne:Wikipedia. Sasol 1950-1975 Johannes Meintjies.

Fotos: Gysbertus Johannes Ströh Augustus 2019. Internet. Samesteller : Kobie Ströh

FAKKELBRAND

18 Mei 1990

Hoërskool Sasolburg

Fakkelbrand

Elke jaar of tweejaarliks vir 21 jaar lank het Hoërskool Sasolburg karnaval gehou.

Vlotte is gebou en ń optog van leerlinge is dan deur die sakesentrum van Sasolburg gebou.

Elke jaar was daar ń ander tema.

ń Fakkelloop was deel van hierdie feesvieringe. 1990

18 Mei 1990 is ń reuse fakkelloop beplan. Leerlinge het blikkies en stokke skool toe geneem en elke een het sy eie fakkel gebou. Die aand het 800 leerlinge in ń parkeertertein bymekaar gekom vir die optog. Die skoolorkes het vooraan geloop.

Skielik het pandemonium uitgebreek.

Party van die fakkels is te vol gemaak en het ook gelek. Warm parafien het op van die kinders se hande geval en in ñ oomblik van paniek het hulle die fakkels weggegooi, sommige beland bo-op ander kinders en steek hul aan die brand. Angsbevange paniekerige kinders gooi hul fakkels weg en die hele parkeerterrein lyk soos ń vlammesee. Kinders rol op grond om vlamme te blus, onderwysers skop fakkels weg, veral weg vanaf die karre. Leerlinge se hare vat vlam en sintetiese materiaal smelt in hulle lyfies in.

Die brandweer is binne minute daar om hulp te verleen en hospitale, dokters, mediese personeel en selfs die veearts spring in om hulp te verleen. Die weermag laai houers vol ys af by die hospitaal. 103 mense brand in hierdie voorval, 38 ernstig beseer.

Jare lank daarna moes sommige leerlinge nog operasies ondergaan. Die letsels sal lewenslank op die beseerdes bly. Die trauma en skok is in die geheue van die kinders en almal betrokke ingeprent en van die slagoffers kan tot vandag toe nie die reuk van parafien verdra nie.

By die skool word ñ klok wat in Holland gegiet is ingerig om hulle te herinner aan hierdie aaklige dag in die skool se geskiedenis. Daarna is die klok gelui om spesiale geleenthede aan te dui. Of die klok nog steeds in gebruik is, is onseker. Blykbaar is klok gesteel.

Bronne en fotos: Internet, veral Facebook, herinneringe van leerlinge. Vaalweekblad 55 jaar. 1964-2019

Klok by Hoërskool Sasolburg Mei 2024

Die Klok word nog steeds gelui met groot gebeurtenisse (Dankie Pieter Kriel vir die foto’s)

Maak 'n opvolg-bydrae