Talana Museum en Erfenis Park / Dundee / KwaZulu Natal / Slag van Talana

Talana Museum en Erfenis Park

Dundee

KZN

Hierdie interessante museum op geskiedkundige terrein met 23 geboue propvol geskiedenis is beslis ń besoek werd.

In hierdie rustige stil plattelandse omgewing het groot woelinge in die geskiedenis plaasgevind.

Boer, Brit, Zoeloe en Indiër se ryke geskiedenis en kulture, militêr sowel as kultuur word hier verteenwoordig en ook die feit dat hierdie een van die hoof steenkoolneerslae in die land is.

Die geskiedenis van Dundee en die ontwikkeling van industrieë in die area kry ook aandag.

Terrein is die van die Talana slagveld , 20 Oktober 1899 aan die voet van die Talana heuwel.

Die Zoeloe naam Talana beteken rak, ń rak waar kosbaarhede gestoor word. ń Heel toepaslike naam in die kol om die groot verskeidenheid uitstallings te beskryf.

Talana museum is begin in 1979 aanvanklik ter ere van die Anglo-Zoeloe oorlog.

In 1983 is museum verskuif na die geskiedkundige terrein.

Hier is grafte, ñ Muur van Herinnering ter ere aan alle oorloë. ‘n Kultuurtuin met plante wat baie gebruike gehad het, veral tradisionele geneeskunde.

Hier vind ons uitstallings van uitsonderlike Zoeloe kralewerk, glasuitstalling van handgemaakte glas tot einde van 19de eeu, glas van oor die wêreld, kosbare boeke, fotos, voertuie, gereedskap, Dundee geskiedenis, stadslewe, plaaslewe, huishoudelike artikels ens.

Oorlogstye tussen Boer en Brit en Zoeloe word verteenwoordig met uitstallings van wapens, uniforms, gebruiksartikels ens.

Mynbou uitstalling is indrukwekkend. SA se eerste steenkoolmyn is hier geopen en uitstalling sluit toerusting in, stel take en omstandighede van werkers voor, selfs arbeidsake word aandag aan gegee.

Hou maar paar ure opsy vir besoek aan hierdie terrein.

Besoek Desember 2018.Fotos Gysbertus Johannes Ströh

Danie Botes Facebook:

Talana Museum, Slagveld en Erfenis Park

Talana Museum, drie kilometer buite Dundee op die Vryheid-pad, is nie net’n bewaarplek van ou en stowwerige oorblyfsels, antieke oorblyfsels en vergeling foto’s nie.

Die naam Talana is in 1982 gestig om saam te val met die Eeufees van Dundee, en beteken “die rak waar kosbare artikels gehou word

”Dundee, is vernoem deur Peter Smith, wat uit ‘n klein dorpie naby Dundee, Skotland kom.

Die slag van Talana het op Vrydag 20 Oktober 1899 oor hierdie rustige grasperke plaasgevind.

Die stoepe van die Smith-kothuis en Talana-huis is tydens die geveg as ‘n Britse wondversoringsplek gebruik.

Die plantasies van bloekombome word behou omdat dit deur die Britse troepe as bedekking gebruik is.

Dit is ‘n unieke museum, want dit is die enigste in Suid-Afrika op ‘n slagveld, waar die geboue uit die tyd van die konflik nog bestaan.

Ons bied egter baie meer as net die slagveld en militêre geskiedenis.

Die museum, wat op ongeveer 40 hektaar van ‘n parkagtige grond geleë is, bevat uitgebreide versamelings met betrekking tot die ryk geskiedenis van steenkoolmynbou, glaswerke, landbou, kulturele diversiteit en natuurlik die buitengewone militêre erfenis van die gebied. Die uitgebreide argief versamelings bied buitengewone materiaal vir soeke na u familiegeskiedenis, die veldslae in die omgewing en inligting oor die stad en die boeregemeenskap.

Die restaurant Miners Rest en Museum Shop verdien die reputasie vir uitstekende etes en aandenkings.

Inligting – Battlefield Route Foto;s: Danie Botes

SLAG VAN TALANA

Slag van Talana: Begraafplaas

20 Oktober 1899. Eerste groot botsing van ABO, tweede Vryheidsoorlog.

Die Britte, 4000 man sterk onder bevel van Genl William Penn Symons het houtgerus en vol vertroue kamp ingerig op Dundee. Hulle het die heuwels buite Dundee onbewaak gelaat.

Die Boere se planne was om hierdie Britte te verras met ń aanval uit die ooste.

Genl Meyer, uit die noorde Erasmus en uit die weste Wielbach. Meyer moes voor dagbreek Talana berg beset en Erasmus Impatiberg van waar hulle dan die Britse kamp met kanonne kon aanval.

Na ñ moordendende nagmars meestal in gietende reën het Genl Lukas Meyer se manne Talana berg bereik. Toe die son deurbreek, het hulle ń pragtige uitsig op die Britse kamp gehad, maar die mis was nog dig oor Impatiberg en Meyer kon nie sien of Erasmus en sy burgers al in posisie was nie.

Presies om 10 voor 6 val die eerste skoot en gewaar die Britte met skok die Boere op Talanaberg. Groot paniek en pandemonium bars in Britse kamp los toe bombardement van Talana berg af losbars.

Geen skoot van Impatiberg af nie want Erasmus en sy manne was nog ongeveer ń uur van Impati af.

Tot Meyer se onsteltenis merk hulle dat al hulle bomme nie ontplof nie, waarskynlik was die grond te sag na al die reën.

Die Britte het gou orde herstel en vuur begin beantwoord.

Vir die meeste Boere was dit hulle eerste kennismaking as teiken van vyandige vuur en talle het paniekerig op vlug geslaan.

Genl Symons het toe berg aangeval met ń groot mag.

Die groot geveg begin toe die Britte die berg begin bestyg want Boere was baie akkurate skuts en die enigste skuilplek was ń klein bloekombos aan die voet van die berg.

Die Britte is onwillig om die beskutting van die bos te verlaat en in sy poging om sy manne aan te voer, word Genl Symons noodlottig gewond en neem 2de in bevel, Genl James Yule bevel oor en bombardeer Talana, min wetende dat manne naby top Britte was.

Meyer besef dat Erasmus nie in posisie is nie en beveel sy manne om terug te val.

Half twee die middag het die kakies in gietende reën Talanaberg ingeneem.

Talana was ń Britse oorwinning, maar teen ñ geweldige prys: 10 offisiere dood( ingesluit Genl Symons), 31 man dood, 185 gewond en 220 gevang of vermis. Aan Boerekant is 23 dood, 66 gewond en 20 vermis.

Genl Symons se graf kan hier besoek word asook ander grafte.

Bron: Internet en Oorlog-Beeld Jackie Grobler

Fotos. Gysbertus Johannes Ströh

MUUR VAN VREDE EN VERSOENING

Talana Museum en Erfenispark

Muur van Vrede en Versoening

Hierdie muur is opgerig en onthul in 1999 deur Rapportryer Korps van Dundee en geborg deur die plaaslike Indiërgemeenskap.

Hierdie muur bring alle oorloë en SA se betrokkenheid daarby in herinnering. Oorloë waarby Boer, Brit, Zoeloes, Indiërs betrokke was. Wêreldoorloë en selfs die Grensoorloog.

Die woorde op die muur spreek absoluut tot die leser:

“Rapportryerkorps van Dundee verteenwoordigend van die Afrikaner reik ń hand van welwillendheid, versoening en samewerking uit na alle bevolkingsgroepe en volkere van die wêreld tot voordeel van RSA. Mag die inwoners van die land nooit weer oorlog as ń vorm van aggressie en onderdrukking ervaar nie. “

Maak 'n opvolg-bydrae