Salmon van As / Fusillering / ABO / Ou Tronk / Kloof Begraafplaas / Heidelberg / 23 Junie 1902

23 Junie 1902

Salmon van As gefusilleer

ABO na Vrede van Vereeniging

Heidelberg

Veldkornet Salmon van As is een van 3 Boere wat uitgesluit was uit die amnestiebepalings van die Vrede van Vereeniging 31 Mei 1902.

SALMON VAN AS
Solomon Gerhardus van As is op 2 Mei 1878 gebore. Sy pa was ‘n delwer in Kimberley  en het  daarna verhuis na Heidelberg, Transvaal, waar hy as messelaar in die boubedryf werksaam was.

Salmon was as jong man vermoedelik saam met sy pa in die boubedryf betrokke.

Salmon was verloof aan Cornelia Maria, Petronella Notje ( Nellie).

Met die uitbreek van die oorlog het hy en sy broer saam met sy pa op commando gegaan. Sy pa se gesondheid het egter ingegee en hy het by sy eggenote in die Heidelbergse konsentrasiekamp aangesluit  vanwaar hulle later na die Merebank Konsentrasiekamp by Durban oorgeplaas is. Na die oorlog het hulle teruggekeer na hulle afgebrande woning.

Salmon se jonger broer, Hendrik Sebastiaan, was 13 jaar oud toe hy op commando gegaan het. Vroeg 1902 is hy ernstig gewond, ‘n wond wat hom lewenslank kreupel gelaat het.

Sy suster, Sarah (getroud met Cornelius Jacobus Petrus Jooste) het gevlug uit Heidelberg en ‘n tyd lank saam met ‘n vrouekommando rondgeswerf. Sy is gevang en na die konsentrasiekamp op Kroonstad gestuur. 16 Desember 1901 is sy in die Merebank Konsentraseikamp oorlede.

ABO WITVLAG-INSIDENT

Salmon van As het met die uitbreek van die ABO aangesluit by die Heidelbergse Kommando, Zuikerboschrand-wyk onder assistant-veldkornet Dawid van der Westhuizen. Nadat Van der Westhuizen gesneuwel het, word Salmon as assistant-veldkornet verkies.

Pos deur John Roderick:

“In die omgewing van De Kuilen (September 1901) in die Oos-Transvaal het dit gedurende die oorlog toenemend gebeur dat klein Boere patrollies uit die bloute begin het om oor te gee.

Ondersoek het aan die lig gebring dat ń sekere Britse offisier Boerepatrollies genader het en met mooi praatjies laat oorgee het.

Op die 25ste September 1901 was asst.vk. Van As, Burger Louis Slabert en Piet du Toit uitgestuur om die saak te ondersoek.

Die groep het hul perde versteek en die Britse fort te voet genader.

Hul kon duidelik sien dat hul met verkykers dopgehou word en het ń ent van die fort af stil gaan staan.

Na ń tyd het ń Briste offisier, kapt.R. Miers die groep te perd genader.

Dit is nie duidelik wie van die twee partye ń wit vlag gedra het nie, maar dit is wel bekend dat daar ń wit vlag was.

Van As het Slabert opdrag gegee om die offisier te voet te nader en te hoor wat die man soek. Laasgenoemde het egter verby Slabert gery tot waar Van As en Du Toit gestaan het.

Kaptein Miers was onder die indruk dat die drie Boere kom oorgee en Van As was weer van gedagte dat hul die Brit gevang het wat die Burgers oorhaal om oor te gee.

ń Woordewisseling het ontstaan en Miers het na sy rewolwer gegryp.

Van As was egter vinniger en het die offisier, deur die hart, doodgeskiet.

Van As het later die dag die insident aan sy kommandant gerapporteer wat dit afgemaak het as ń oorlogsinsident.

VREDE VAN VEREENIGING

Gedurende die Vrede van Vereniging is drie Burgers uitgesluit van vrywaring.

Een van die drie Burgers was Salmon van As, wat aangekla was van moord.

Van As was op die 8ste Junie 1902 gearresteer en op die 17de Junie op Middelburg verhoor.

Dit is ń gegewe dat Burger Van As skuldig bevind was op grond van hoorsê getuienis van anderskleurige getuies.

In kort kan Van As se teregstelling as uiters omstrede beskou word, veral inagenome die feit dat alle hofdokumente verdwyn het.

Feit is ook dat die Britse regering geldelike vergoeding aan Salmon se ouers gebied het en apologie aangeteken het.

Daar is ook in soveel woorde erken dat van valse getuienis gebruik gemaak is.

Die verbitterde Van As egpaar en familie het die geldelike aanbod van die hand gewys en dit duidelik gemaak dat hul seun se lewe nie met geld gekoop kon word nie.”

FUSILLEERING

Na die Vrede van Vereeniging gee Van As hom oor. Hy word verhoor en die doodsvonnis word uitgelees op die Markplein.

Van As word gevonnis sonder enige ooggetuies of kans op appél.

Tydens die onbillike verhoor beweer die Britte dat Miers ongewapen was en Van As hom geskiet het ten spyte van ń wit vlag.

Op 23 Junie 1902 het  Salmon van As by die ou tronk in Heidelberg teen die agterste muur  voor ‘n vuurpeloton van 87 man gesterf. Hy het geweier om beblinddoek te word. Die koeëlgate is steeds sigbaar teen die muur van die ou tronk.

Salmon van As is sowat 600 treë buite die dorp in ń kombers toegerol en in ń vlak graf teen Suikerbosrand begrawe.

Veldkornet Hans Botha het later ń doringboompie op sy graf geplant.

HERBEGRAFNIS

Salmon van As is Oktober 1903 in die ou begraafplaas (Kloof Kerkhof) herbegrawe saam met Generaal CJ Spruyt en Generaal JC Kriegler.  

Op die 12de Maart 1983 is ń gedenksteen te ere van hom en sewe ander Burgers vanuit die Heidelberg omgewing opgerig.

Maak 'n opvolg-bydrae