Riena Reinet pop / Graaff-Reinet poppe / Laubscher poppe

Riena Reinet pop. Graaff-Reinet poppe / Laubscher poppe

Die Storie van die Afrikaanse pop.

Bydrae deur Kobie Ströh namens die GGSA Vaaldriehoektak

1916, die Eerste Wêreldoorlog se wrede voetspore kom loop selfs oor Suid-Afrika en invoere van goedere raak feitlik onmoontlik. Speelgoed, soos die duur ingevoerde gesofistikeerde poppe wat elke dogtertjie se hart begeer, is net mooi nêrens te kry nie.

In Donkinstraat 16, Graaff-Reinet, woon die kunssinnige Anne Laubscher (later Kühn) , haar pa, Jurie Laubscher , en haar ma, twee talentvolle en praktiese mense. Anne kon die gedagte nie verdra dat haar moeder se susterskind, die 6 jarige Marie Smit , so hartseer is omdat haar wens vir ‘n mooi pop vir Kersfees total onvervulbaar is nie en besluit daar en dan om self vir Marie so ‘n besonderse pop te maak. Die hele gesin het hand bygesit met hierdie poging. Anne het die kop, lyfie en ledemate uit ongebleikte linne gesny, haar ma het dit aanmekaar gestik en haar pa het ‘n plan beraam om die arms en bene te laat skarnier. Die mollige armpies en beentjies word in ligte rooi inkwater gekleur, die pop word met saagsels opgestop en toe het Anne die mooiste spesiale gesiggie geverf op die ronde koppie met die pylnate onder die kennetjie. Anne se pa het uit leer twee skoentjies met perlemoenknopies en enkelbandjies gemaak en haar ma het die mooiste uitrusting vir die pop o.a ‘n hoepelrokkie met valletjies, kappies en ‘n voorskootjie, gemaak.

Klein Marie was in ekstase oor die spesiale en mooie pop met haar engelgesiggie en kort voor lank het die nuus soos ‘n veldbrand versprei deur Graaff-Reinet en bestellings vir poppe stroom in. Die Laubscher huis woel en werskaf om voor te bly.

Werk was baie skaars en spoedig was daar 50 blanke meisies aan die werk, ou manne het help opstop en seuntjies het na skool kom help om die lyfies in ligrooi water te doop. Die poppe was meeste so 38cm lank met arms en bene wat kan draai, klere en skoene wat aan en uitgetrek kan word, nekkies wat sterk bly en dan kon die poppe ook self mooi sit. Metttertyd is die saagsels vervang met kurk en toe die kurk skaars begin raak is daar ‘n tyd lank fyn gemaalde mieliestronke saam met saagsels gemeng en gebruik as stopsels. Kunstige meisies het gehelp om die koppe en gesiggies en die haartjies mooi te verf. Tweehonderd poppe word per week gemaak, elke deeltjie met die hand vervaardig. Jurie Laubscher rig ‘n geboutjie spesiaal op met ‘n duidelike bord op die gewel: GRAAFF-REINET POPPENFABRIEK.

So het ‘n hele fabriek , Graaff-Reinet Poppen Fabriek, begin met die maak van een pop en duisende poppe is gemaak om baie kinderhartjies te verbly. Anna Laubscher trou met Willie Kuhne (1916) en verhuis na SWA , maar Jurie Laubscher gaan voort met die maak van die poppe. Verskillende groottes poppe word nou gemaak waarvan “Twiedels” die heel ou klein poppie was en die lapgesiggies word nou uit gips gevorm waaroor lap styf getrek was. Die fabriek moes na ‘n groter perseel skuif en die naam op die uithangbord was nou : DOLL FACTORY. LAUBSCHER POPPEN FABRIEK.

Toe word Jurie Laubscher se poppe deur plaaslike besighede in Graaf-Reinet geboikot nadat hy ‘n Gideon Scheepers Monument in sy tuin opgerig het, maar na die aanstelling van die Duitse Mnr Ubel, ‘n uitstekende boekhouer floreer sy besigheid en bestellings stroom in, selfs vanuit SWA, Rhodesië en Kenia.

Ongelukkig het inspekteurs die besigheid vir die poppefabriek begin moeilik maak met allerhande eise en dreigemente van te lae lone, onvoldoende ruskamers en kinderarbeid en ander mense begin ook poppe maak van beslis nie dieselfde gehalte nie. Na die oorlog raak poppe ook weer volop in die winkels. 1927 sluit Jurie Laubscher die poppefabriek en die rye naaimasjiene word stil.

Die dogtertjies kon nie meer drome droom van ‘n Reinet pop met ‘n engelgesiggie nie.

Van die ouer poppe is gemerk agter in die nek : Miss A Laubscher/ Graaff-Reinet. Geen twee lyk dieselfde nie, elke een is individueel geverf. Min poppe het die speel en tyd oorleef, maar vandag is hierdie skaars poppe‘n gesogte item by versamelaars al is dit hoe gehawend.

Vandag pryk daar ‘n hele paar Laubscher poppe in ‘n vertoonkas in Reinethuis op Graaff-Reinet . Elke een ‘n meesterstuk op sy eie.

Bron: Boekie verkrygbaar by die Graaff-Reinet Museum , Reinet Huis ( Riena Reinet. Die Storie van die Afrikaanse Pop ( Sarie Marais 15.2.1967), Graaff-Reinet pop is deel van ons kultuurskat deur W O Kuhne, Graaff-Reinet doll started as a Christmas present by Victoria Harper.

Fotos: Internet en Gysbertus Ströh April 2019

Maak 'n opvolg-bydrae