Pretoria Dieretuin. Sammy Marks fontein. Pretoria

Pretoria Dieretuin. Sammy Marks fontein. Pretoria

Na die ABO het die Britse owerhede geweier dat Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein opgerig word. Sammy Marks het ñ fontein geskenk wat toe in 1905 op Kerkplein opgerig is en wat toe in 1910 verskuif is na die Pretoria Dieretuin toe.

Sammy Marks was ’n Russiese Jood wat in 1881 via Brittanje na Suid-Afrika gekom het.

Met harde werk en heelwat sakevernuf het hy een van die rykste mense in die toentertydse Transvaalse Republiek geword.

Sy geld (en sy persoonlikheid) het hom in die sfeer van die destydse staatspresident laat beweeg en hy en Paul Kruger het groot vriende geword.

Een van die redes daarvoor was glo dat hulle ’n nederige agtergrond en ’n bepaalde spitsvondigheid gemeen gehad het; die voordelige verhouding tussen staat en sakewêreld het waarskynlik ook ’n bydrae gelewer.

Op ’n keer het Marks die president ’n geskenk gegee, ’n fontein wat in die middel van Kerkplein in Pretoria opgerig is.

Mettertyd moes dit plek maak vir die pragbeeld van Anton van Wouw van Paul Kruger self, met die vier gewapende burgers aan sy voet.

Die fontein is verskuif en staan nou in die voëlpark in die dieretuin in Pretoria.

Marks het drie van hierdie sierlike, gegote ysterfonteine uit Brittanje bestel. Die eerste is aan Paul Kruger gegee en die tweede is tydens die Eerste Wêreldoorlog gesmelt vir wapentuig.

Niemand weet blykbaar wat van fontein nommer drie geword het nie.

Dis ’n mooi fontein, en het, soos Paul Kruger sy vier burgers met hul geweers het, vier vroue aan die vier hoeke.

Elkeen versinnebeeld ’n bepaalde aspek van ons menswees; in hul hande die simbole van die vier dinge wat ons tradisioneel tot passie kan beweeg, tot trane kan ontroer: ’n Passer ter wille van die wetenskap; ’n kwas vir die kuns; ’n penneveer vir die letterkunde en ’n harp vir die musiek.

Maak 'n opvolg-bydrae