Oudtshoorn / Gedenksteen / Een Ebenhaezer / Du Plessis / 1908

Oudtshoorn

Gedenksteen

Een Ebenhaezer

Hiertoe heeft de Heere

Ons geholpen

Lof en Dank zij Zijn

Dierbare Naam toegebracht.

SC du Plessis

Hierdie gedenksteen is ongeveer 7 km buite Oudtshoorn op die N12 (rigting De Rust).

Langs die pad on die draai by die brug oor die spoorlyn.

GEBEURE:

Gebeure volgens Sue de Waart in Oudtshoorn Courant 1973: (vanaf Reinderd Visser)

Ek het hierdie inligtingstuk oor die gedenksteen van iemand op Oudtshoorn ontvang:

“In 1908 was die 13-jarige Maynie du Plessis saam met haar ma, Jacomina, en haar pa, Sareltjie, op pad dorp toe vir die naweek in hul Tuishuis in Russtraat. (Haar pa was in daardie stadium ‘n ouderling in die Moederkerk.)

Die werklike rede vir hierdie ongeluk was die feit dat haar pa op die betrokke dag sy horlosie een uur vroeër as die regte tyd gestel het. In daardie dae met min treine het almal die presiese tyd geweet wat die trein op bepaalde plekke sou wees. Hy het nog teenoor sy vrou opgemerk dat die trein nog nie eens by die Hazenjacht-spoorweghalte was toe hulle die Stolsvlakte-kruising oorgesteek het nie.

Intussen was die trein op hulle, maar met die wind wat in die rigting van die aankomende trein gewaai het, die grondpaaie en geen rubberbande op die wiele nie, was die mense nie bewus van die dreigende gevaar nie. Die perde het dit egter aangevoel, en pleks daarvan om die treinspoor oor te steek, het hulle na links weggedraai. Die gevolg was dat die trein die agterste houtrak van die perdekar waarop die voer was, getref en afgeruk het. Die perdekar het daarna op net een wiel gery. Haar ma het eerste afgeval, gevolg deur haar pa.

Maynie, wat op die agterste sitplek gesit het, het kop gehou. Sy het vorentoe geklim, die leisels wat los gehang het, gevat en daarin geslaag om die perde tot stilstand te bring. Teen hierdie tyd het die trein ook stilgehou. Oupa Sareltjie se stalkneg (“groom”) moes met die trein van Hazenjacht na Oudtshoorn ry en hy was gelukkig op hierdie trein en kon hy hulle te hulp snel.

Wat hulle nie geweet het nie, is dat haar twee broers, Jan en Pieter, op vinniger perde op pad was dorp toe. Hulle het dieselfde tyd wat die ongeluk plaasgevind het, op die toneel opgedaag. Teen hierdie tyd was haar ma bewusteloos en is sy op die landauer van Mnr. Serfontein, wat daar naby gewoon het, gelaai.

Haar pa het op sy perdekar geklim, die stalkneg langs hom met Maynie terug op die agterste sitplek waar sy gesit het, en die reis na Oudtshoorn voortgesit. Al wat haar pa oorgekom het, was dat sy snyersbaadjie ‘n skeur opgedoen het.

By hul aankoms by sy tuishuis vyf myl verder, het hy weens skok flou geword. Dr. Truter is ontbied en haar ma is vir die hele week in die bed gesit.

Haar broer moes meer voorraad van die plaas gaan haal om hulle vir die hele week te hou. Hy moes ook haar ouer suster, Cora, saambring om te kom help omsien na hulle.

So het ‘n ongeluk geëindig wat ‘n tragiese einde kon gehad het.

Ter herinnering aan die voorval het haar pa ‘n gedenksteen opgerig uit dankbaarheid teenoor sy “geliefde hemelse Vader se reddende genade.”

Foto’s en inligting: Pieter Olckers, Reinderd Visser, Sarel du Plessis (agterkleinseun),

Oudtshoorn Courant

Die sakhorlosie is nog steeds in Sarel Du Plessis (agterkleinseun) se besit en die opstal op plaas is tans Thabile Lodge)

Maak 'n opvolg-bydrae