Krugerhof / Waterval Onder / Mpumalanga

Krugerhof

Waterval Onder

Hierdie dorpie het eers as Waterval Beneden bekend gestaan, en is later verander na Waterval Onder.

Dit verwys na die ligging van die dorp aan die onderkant van die Elandsrivier Waterval.

Waterval Onder was ń belangrike stasie langs die Oosterlijn spoor vanaf Pretoria na Delagoabaai (Lourenço Marques). Die spoorlyn bereik Waterval Onder in Januarie 1894.

Dit was ń baie moeilike terrein om ń spoorlyn te bou.

Die helling was steil en die kranse vorm ń natuurlike hindernis.

Met spesiale enjin, wiele en ratte is treine opgesleep of gerem na en vanaf Waterval Boven.

Die helling was baie steil, so klim van 208 m oor 7, 5 km.

Later is die spoor verander, nuwe tonnel gebou (1970’s) wat die helling verander het na 208 m oor sowat 14 km wat die rit makliker en veiliger gemaak het.

Die stasie bestaan tans nie meer nie.

HOOFSTAD VAN DIE ZAR

Na die val van Pretoria in Britse hande tydens die ABO was Waterval Onder vir ń kort tydjie die hoofstad van die ZAR waar alle besluite geneem is.

PAUL KRUGER

Met die Britte in opmars na Pretoria, het President Paul Kruger en sy amptenare Pretoria met ń spesiale trein verlaat.

Hulle was tydelik in Machadodorp gevestig, maar na ń maand het hulle die ou President Paul Kruger verskuif na Waterval Onder. In Machadodorp was dit te koud vir die bejaarde President en sy gesondheid het gekwel.

30 Junie 1900 skuif hulle Paul Kruger af na die Elandsvallei, na Waterval Onder, waar die klimaat beter en bietjie warmer in die winter was vir die President.

Daar woon hy in een van die hotelletjie se geboue.

Die hotel , Ye Wayside Inn, was gebou in 1879 deur ń Fransman, Emile Mathis, terwyl die res van die amptenare van die ZAR regering in Machadodorp agterbly.

Daagliks het hierdie Uitvoerende Raad per trein gereis na Waterval Onder om verslag te lewer en besluite te neem.

Die area was bekend aan Paul Kruger aangesien hy dikwels hier kom jag het.

Emile Mathis het moeite gedoen om die President tuis te laat voel.

Hier het President Paul Kruger gewoon vam 30 Junie tot 26 Augustus 1900.

President Steyn van die Vrystaat het ook hier kom besoek aflê om oorlogsake te bespreek.

Hiervandaan is Paul Kruger weer per trein na Nelspruit geneem waar hy tydjie lank in die trein gewoon het.

Die Uitvoerende Raad het besluit om Pres Paul Kruger na Europa te stuur ter wille van sy veiligheid en hoë ouderdom. Daar in Europa kan hy dan steun werf vir die Boeresaak en moontlik hulp verkry.

20 Oktober 1900 vertrek Paul Kruger per skip, die Gelderland, uit Delagoabaai na Nederland om nooit weer lewend terug te keer nie.

KRUGERHOF

Pres Paul Kruger se laaste woonplek in SA, sy blyplek in Waterval Onder bly behoue.

Die gebou is opgerig in die 1890’s.

1949 rig die Nasionale Monument Komitee ń plaat daar op.

1962 word die gebou as Nasionale Monument verklaar en ingerig as ń museum.

Die gebou is bykans nog in oorspronklike vorm.

Gebou van stene, houtrame en sink. Sinkdak, houtvloere en houtplafonne.

Daar is geen binnedeure nie, alle vertrekke het buitedeure wat op die stoep uitloop, die stoep wat reg rondom die huis strek.

Foto’s en inligtingsborde skets die lewe van Paul Kruger.

Bronne: Brosjure. Gids tot die ABO in Oos-Transvaal deur Gert en Erika vd Westhuizen. Kaapsche Hoop deur Hans Bornman

Foto’s: Gys Ströh snr Mei 2022

Maak 'n opvolg-bydrae