Kruger Huis Pretoria

Kruger Huis

Pretoria

Ditsong Kruger Museum

Kerkstraat

KRUGERHUIS

Die Krugerhuis is die huis in Pretoria waarin Paul Kruger en sy vrou , Gezina Kruger, gewoon het tydens sy ampstyd as President van die ZAR.

Paul Kruger woon in hierdie huis van 1884 tot 1900 toe hy Pretoria moes verlaat het voor die Britse opmars.

Die sieklike Mev Kruger het agtergebly en daar bly woon tot sy in die huis gesterf het 20.7.1901

FG Eloff, skoonseun van Paul Kruger erf die huis. Volgens ander bronne het hy die huis gekoop voor Paul Kruger oorlede is en het Eloff die huis in sy seuntjie, Dirk Postma Eloff, se naam geregistreer.

Eers is die huis gebruik as ń Britse menasie.

Tydens Eloff se verblyf oorsee word die huis sonder sy medewete as losieshuis gebruik, The Presidency. (1912).

1920 tot 1932 word die huis gebruik as ń kraaminrigting deur die Moedersbond ( Bond van Afrikaanse Moeders). Heelwat veranderinge word aangebring aan die woning. Lopende water word aangelê. (Voorheen is van ń put op die erf gebruik gemaak vir drinkwater en waswater).Vandag is die porseleinwasbad wat as bababad gebruik is nog in die kombuis. Die hoofslaapkamer waar Paul Kruger en Tant Gezina geslaap het, was gebruik as ń operasiesaal.

1925 word die huis deur die Unie van SA aangekoop en planne begin om huis as museum in te rig.

10 Oktober 1934 word die Kruger Museum geopen.

1936 word die Kruger Huis as nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

DIE GEBOU

Die Paul Kruger Huis is ontwerp deur die argitek Tom Claridge en gebou deur die bekende sakeman AH Nellmapius. Die sement waarmee die huis gebou is, is met melk aangemaak om dit sterker te maak aangesien die beskikbare sement van swak gehalte was.

Paul Kruger trek Julie 1884 in die huis in.

Die huis is een van die eerste huise in Pretoria wat elektrisiteit gehad het.

Die huis is ń eenvoudige, langwerpige gebou met verskillende style.

Voor is ń lang breë stoep teen die straat waar Paul Kruger elke oggend gesit het, soms besoekers ontvang het en waar gewag is om die president te spreek.

Weerskante van die ingang waak 2 marmerleeus, ñ verjaarsdaggeskenk vanaf die mynmagnaat Barnie Barnato op 10 Oktober 1896.

KRUGER MUSEUM

Die woning is so oorspronklik moontlik probeer behou met oorspronklike meubels van Paul Kruger of dan aangevul met meubels uit daardie tydperk.

Tapyte, gordyne en muurpapier is soortgelyk aan die oorspronklike.

Ongelukkig is daar groot waterskade aangerig tydens ń ongeluk waar ń voertuig ń brandkraan in die straat omgery het. Dringende restourasiewerk is hier nodig.

Ontvangskamers

Aan die voorkant is 2 ontvangskamers:

Mev Kruger se ontvangskamer waar sy gaste ontvang het en naaldwerk gedoen het en Pres Paul Kruger se ontvangskamer waar hy die manne ontvang het. Hierdie kamer is soggens vir huisgodsdiens gebruik en almal in die huis moes dit bywoon. Selfs die ZAR Polisiewagte moes op die stoep kom staan en luister. Die huisorrel is ook dan bespeel. Daarna moes die vroue na res van huis gaan.

Kantoor

Die voorste kantoor was vir die President se Privaatsekretaris.

1891 is hier ń foon geïnstalleer, een van die eerstes in Pretoria.

Tydens die ABO is hier ook ń telegraaflyn aangelê.

Die agterste kantoor was díe van President Paul Kruger.

Slaapkamers

In die hoofslaapkamer is nog die massiewe groot mahoniehout klerekas en kluis. Mev Kruger het nooit die kamer verlaat voor sy ten volle gekleed was nie.

Die spaarkamers(3) was vir kuiergaste en besoekers aangesien meeste van Paul Kruger se kinders reeds getroud was toe hulle die huis betrek het.

Eetkamer

Elke dag is gekookte middagete as hoofmaal hier om die tafel genuttig. Elke ete is begin met ń gebed en seën is gevra vir volk en vaderland.

Kombuis en spens

Meeste kookwerk is buite gedoen.

Die koelkas in die kombuis het elke week ń yslike blok ys gekry wat per fiets afgelewer is.

BUITESALE

Buitesale is later by die museum aangebou om die groot versameling en aandenkings en skenkings van oor die land en die wêreld te huisves.

ZAR Saal

In die ingangsportaal staan die kopbeeld van Paul Kruger wat oorspronklik op sy graf geplaas was. Om dit teen vandale te beskerm word dit hier bewaar

.In díe saal is persoonlike besittings van Paul Kruger, huldeblyke en bewyse van simpatie vanoor die wêreld.

Die staatskoets en die Van Wyk ossewa van stinkhout, ń geskenk aan Paul Kruger ook in hierdie versameling.

Interessant is die rol met die handtekeninge ter ondersteuning , onderteken deur 29 000 seuns uit Amerika. ń Seun, James F Smith het hierdie aan Mev Kruger oorhandig.

BANNELING SAAL

Uitstalling gewy aan Pres Paul Kruger se reis na Europa.

Sy helde ontvangs in Frankryk en Nederland.

Sy afsterwe in Switzerland 14.7.1904 en Staatsbegrafnis 16.12.1904.

PRESIDENT PAUL KRUGER SE TREINWA

Agter in die erf is die amptelike treinwa van die ZAR wat deur die President gebruik is vir amptelike besoeke.

Tydens die ABO was dit tydelik President Paul Kruger se verblyfplek en het hy ook hiermee gereis na Lourenço Marques waarvandaan hy in ballingskap vertrek het.

1894 is hierdie wa bestel deur die NZASM ( Nederlandshe Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatskappij) vanaf maatskappy JJ Bijness, Duitsland.

1894 -1900 was hierdie gebruik as mobiele Volksraadsetel.

1952 het die SAS (Suid-Afrikaanse Spoorweë) hierdie wa aan die Krugerhuis geskenk.

Paul Kruger wat buite op voorpunt van die wa staan, was ń bekende gesig. Ks

Bronne: Internet. Toer Oktober 2021. Ditsong Kruger Museum, ń Besoek aan Oom Paul se woning.

Fotos: Gys Ströh snr Oktober 2021

Maak 'n opvolg-bydrae