Amazing Grace Chapel / Kliprivier / Meyerton

Amazing Grace Chapel

Kliprivier

Meyerton

Pragtige klein kerkie waar elke jaar ń diens gehou word om Wapenstilstandsdag WWI 11.11.1918 te herdenk . Ook bekend as Poppiedag of Armistice Day.

Die idee vir ń eie klein kerkie het ontstaan in 2011.

Die Du Toit gesin (Roxy, André en hul 2 dogters Michelle en Nicole) wou ń kerkie bou vir hulle bejaarde ouers. ń Plekkie waar hulle rustig in stilte op hulle tyd kon gaan sit, alleen kan verkeer met God.

Die klein kerkie kon dan ook gebruik word vir dienste, troues, dope en begrafnisse.

2010 is daar begin met die bou van die kerkie.

Almal was baie opgewonde, veral die 2 dogters. Michelle droom van ń troue in ń woud, sy geklee kaalvoet in ń lang vloeiende rok. Sy sal haar kinders doop in die kerkie, maar trou buite in die bos. Langs die kerkie plant hulle ń hele klomp bome aan vir daardie woud.

Maart 2011 word Michelle siek en na paar maande van hoop en wanhoop sterf sy 17/10/2011.

Tydens haar siekte maak Moeder Roxy ń groot loodglasvenster vir die kerkie : ń Smeekgebed, ń Dankgebed en ń Belofte. Die hele gemeenskap en omgewing staan saam, bid saam, hoop saam, treur saam.

Tydens ń kerkdiens in Brackenhurst word Amazing Grace gesing. Dit gryp Roxy aan die hart en sy besluit op die kapel se naam as Amazing Grace Chapel.

Die bouwerk aan die kerkie ruk tot stilstand na Michelle se dood.

Einde 2012 besluit die gesin om wel die kerkie te voltooi. Ter nagedagtenis aan Michelle wat so opgewonde was oor die kerkie.

Die kerkie word voltooi en gebruik vir ń hele paar troues, dope en Carols by Candle light.

2017 besluit die gesin om hulde aan die Grensoorlog se soldate te bring. Hulle, hulle familie en vrouens se opoffering om te veg vir hul land. Wapenstilstandsdag of Armistice Day sal gebruik word om hulle ook te onthou. Hulle plaas ń groot klip vir elke soldaat, polisieman, vlootman, man en vrou wat hul deel bygedra het. Vir diegene wat gesterf het, diegene wat oorleef het en almal wat geraak is deur oorloë en diens ter wille van vryheid en geloof.

2018 bou hulle ń muur van herinnering vir soldate wat geveg en gesterf het, ook díe wat later oorlede is aan siekte of ñ ongeluk.

Slotte met hulle name op word vasgesluit.

2012 skenk Roxy se pa ń klok aan die kerkie, ń regte kerkklok. Ongelukkig sterf hy net daarna, nog voor klok geïnstalleer is. Tydens sy begrafnis word hierdie klok gelui wat agter op ń Land Cruiser gelaai is.

Aanvanklik het die kerkie se deure te alle tye oopgestaan vir enige een om rustig te gaan wees. Ongelukkig het diewe toegeslaan en die voordeur sowel as die sydeure afgesteel. Tans word die deure gesluit agter veiligheidshekke.

Die besonderse loodglasvensters vertel elke een ń storie en dra ń boodskap oor ;

1.Groot venster. ń Smeekgebed.

2. Sleutels na die poorte van die hemel

3. God is die Alpha en Omega

4. Koning en kruis waar Sy Seun gesterf het vir ons sondes

5. Jou beker sal altyd oorloop as dit met die Heilige Gees gevul is

6. Opgedra aan 3 sterk vroue in Roxy se lewe. Haar ma en 2 dogters

7. Die ster van Dawid

8. Jy het God nodig as anker in jou lewe, anders dobber jy net rond en beland op droeë sand.

9. Getrouheid

10. Vredesduif sodat almal wat binne kom met vrede gevul mag wees

11. Simbool vir Jesus : Chi Rho

12. Opgedra aan Roxy se tannie (ma se oudste suster), oorlede 2009. Sy was baie lief vir Iris blomme. Iris is ook ń simbool van die kruis. Die duif ń simbool van Jesus wat opstyg hemel toe waar ons almal weer eendag saam sal kan wees.

Amazing Grace Chapel is ń besonderse kerkie, met ń besonderse storie.ń Besonderse plek met baie herinneringe in die familie se gedagtes.

Hulle spreek die hoop uit dat hierdie kerkie elke een wat dit besoek spesiaal sal laat voel, rustigheid en berusting sal bring in die teenwoordigheid van God.

Elke jaar met die Poppiedag se diens en herinneringe kom almal tot die besef van dankbaarheid.

Dankbaar teenoor die wat voor ons was, dankbaar vir die voorreg om te kan aanbid, dankbaar dat ons op Hom kan vertrou vir die toekoms. Ks

Fotos: Roxy di Toit 2020. Gys Ströh snr 2018, 2019, 2020, 2021

Maak 'n opvolg-bydrae