Kerkplein Pretoria / Ou Raadsaal

Kerkplein Pretoria

Ou Raadsaal

Die Sandrivierkonvensie is 1852 onderteken waarvolgens Brittanje die soewereiniteit van die Transvaal erken.

Z.A.R 1853 het die Voortrekkerstaat die naam Zuid-Afrikaansche Republiek gekry (Z.A.R.).

1857 is ń nuwe grondwet vir die Z.A.R. aanvaar, 1858 is die Vierkleur as vlag aanvaar en ń wapen met die leuse Eendract maakt macht.

Van 1849 af het die Transvaalse Volksraad elke 4 maande op verskillende plekke vergader soos bv. Potchefstroom, Lydenburg en Rustenburg.

PRETORIA

1855 is die dorp Pretoria gestig en 1856 is die eerste maal ń volksvergadering hier gehou en na vele versoeke agv sy sentrale ligging is Pretoria aangewys as setel van die regering.

1860 is hierdie besluit finaal goedgekeur, die regering het nou ń vaste adres gehad.

Die huis van Pres MW Pretorius op die Kerkplein (waar Paleis van Justisie tans staan) is as vergaderplek (1857) gebruik en later vanaf 1860 die skoolgebou langs Pres Pretorius se huis tot 1866 toe Pretoria sy eie goewermentsgeboutjie gekry het.

Die eerste Volksraadgebou was ń langwerpige L-vormige grasdakgeboutjie met tuitgewels en ń afdak. Die gebou was maar nederig en het gou te klein geword en tekens van verval begin toon en planne is beraam om ń nuwe gebou op te rig.

1886 het die ontdekking van goud die finansiële posisie van die regering sodanig verbeter dat ń nuwe gebou opgerig kon word.

1888 is die ou geboutjie gesloop.

DIE NUWE RAADSAAL

Sytze Wopkes Wierda, gebore in Friesland, kom in 1887 na die Z.A.R. as Hoof van die Departement Publieke Werke en sy eerste groot werk is die bou van ń nuwe regeringsgebou.

Hy ontwerp die Raadsaal in ń Renaissance-styl, later ń tipiese Z.A.R.-styl.

Die Raadsaal is dus die oudste gebou op Kerkplein.

1888 is begin met die bouwerk nadat die European-hotel ook gesloop moes word .

Die bouwerk is gedoen deur JJ Kirkness wat op die Orkney-eilande gebore is.

Boumateriaal was baie skaars. Hout is vanaf Noorweë na die Orkney-eilande vervoer waar Kirkness se timmerman skoonpa dit voorberei het, daarna per skip na Durban, per spoor na Charlestown, die sooorwegterminus en dan daarvandaan per wa na Pretoria. Die sandsteen is naby Pyramidstasie noord van Pretoria verkry.Leiklip vir fondasie vanaf Hammanskraal.Bakstene is gebrand by Kirkness se steenmakery by Groenkloof. Metaaldakteëls uit Skotland.

Horlosie en klokke uit Duitsland.

1889 lê Pres Paul Kruger die hoeksteen.

1890 vergader die Volksraad reeds in die half voltooide gebou.

Die Volksraad het in ń hoefystervorm om die Voorsitterstoel gesit, soos in Europese parlemente.

Wierda word versoek om die aanvanklike tweeverdieping gebou te verander na drie verdiepings.

1891 is die bouwerk voltooi.

1890 is ń kontrak vir telefone gesluit.

1893 is elektrisiteit aangelê.

Die meubels is van okkerneuthout en vanaf Londen bestel, die fyn kerfwerk teken van meesterlike vakmanskap.

Selfs op die Voorsitterstoel is die Z.A.R wapen uitgekerf.

Die Raadsaal was die eerste gebou met beeldhouwerk, vreemd vir die publiek, maar die begin van ń tradisie.

Die vrouebeeld op die toring laat Paul Kruger baie spot verduur omdat hulle sê dat sy Koningin Victoria voorstel tot Wierda tussenbeide tree en verduidelik dat sy vryheid simboliseer. Pres Paul Kruger was ook glad nie daarmee tevrede dat sy sonder hoofbedekking was nie, vroue mag nie in openbaar verskyn sonder ń hoofbedekking nie, en toe is ń helm vervaardig wat later met klinknaels vasgesit is.

Toringuurwerk wat die tyd halfuurliks volgens Nederlandse en Afrikaanse metode aangee is in 1893 aangebring.

Op elke een van die 4 klokke is ń spreuk gegrafeer

.Op die voorgewel van die Raadsaal is die wapen van die Z.A.R., wat uit klip gekap is deur Anton van Wouw , aangebring in 1891.

Na die Britse besetting in 1901 is die sandsteen waaruit die Z.A.R. wapen gekap is, gelyk gekap en die Britse wapen daarop aangebring.

1954 is die Z.A.R. wapen weer op die voorgewel aangebring en die Britse wapen wat uit die sandsteen van die Z.A.R wapen gebeitel is word bewaar.

Die binnemure en plafonne was ryklik versier en beskilder in aardse kleure. Die Britte het alles toegeverf in 1900.

In 1990 is gepoog om die oorspronklike kleure en versierings te herstel tydens restourasie proses.

Binne die Ou Raadsaal slaan die hoë plafonne, die indrukwekkende trappe, die kandelare, die besonderse deure met glaspaneeltjies en die vensters en selfs die ysterhekke die besoeker se asem weg.

Die trapreëling en paaltjies van gepoleerde okkerneuthout en bronsbeelde wat trappe versier is indrukwekkend.

Die matte met die Z.A.R letters daarop in ryk kleure getuig van ń welvarende tydperk.

Paul Kruger se kantoor met die leeukoppe uitgekerf op die stoelleunings is nog netjies agter glaspanele, so ook die kantoor van die Staatsekretaris.

In Pres Paul Kruger se kantoor is meetapparate (ykmate) wat destyds gebruik is om gewig en volumes te bepaal.

Interessante voorwerpe uit die tyd van die Z.A.R soos ń koper kwispedoor, versierde kluise, horlosies en geelkoper brandkrane gee ń kykie in die verlede.

In een van die gange is metaalpenne in die vloer aangebring waarvolgens landmeterkettings in daardie tyd gestandaardiseer is.

Buite aan sykant van gebou is kopermerker wat hoogte bo seespieël aangedui het.

Kerkpleinkant is die hake waaraan perde destyds vasgemaak is nog te sien.

Kosbare kunswerke word in die Ou Raadsaal bewaar

.Kommer heers oor tekens van verval in gebou wat tydens ons besoek 2019 sigbaar was. KS.

Fotos: Gys Ströh snr 2019Bronne Internet. Die Ou Raadsaal deur Elize Labuschagne.

Maak 'n opvolg-bydrae