Kaapsehoop / Duiwels Kantoor / Kaapsche Hoop / Wilde perde

Kaapsehoop

Duiwels Kantoor

Kaapsche Hoop

Wilde perde

KAAPSEHOOP

Bekoorlike klein dorpie met ryke geskiedenis, ongewone rotsformasies en ouwêreldse geboue so aan die rand van die eskarp wat meer as 1000 meter na benede tuimel in die De Kaap Vallei in.

Die unieke rotsformasies by die ingang van die dorp, is oorblyfsels na jarelange erosie en word bereken as 2500 miljoen jaar oud.

Die naam Kaapsehoop is afkomstig van die Nederlandse woord Kaapsche Hoop, maar die dorpie was aanvanklik ń goudmyndorpie bekend as Duiwels Kantoor.

Die Afrikaanssprekende boere het die “Contour” in die naam van die berg “Contour Mountain” verander na die Afrikaande woord Kantoor.

Hierdie area was moeilik begaanbaar, veral on tye van swaar reën. Die paaie verander in papperye en moerasse en die mis wat gereeld opsteek maak toegang baie moeilik. Waens het gereeld hier in die modder vasgeval, gebreek of omgeval. Die boere het na die pad verwys as: ” de weg over de duivels contour plaat.”, menende dat dit die pad is oor die baie moeilike berg. Later het die naam Duiwel in gebruik geraak, die dorpie bekend as Duiwels Kantoor.

GOUD

Bernard Chomse vind die eerste spoelgoud op die plaas Berlin, langs Kaapsehoop).

Hy was nie die heel eerste wat goud hier ontdek het nie, raaiselagtige tekens is in hierdie area gevind dat ander ouer, antieke beskawings ook hier goud gevind het. Prospekteerders het o.a. klein hoeveelhede goudklontjies bymekaar begrawe, soos in ń stootplekkie gevind.

Aanvanklik het die ontdekking van die goud hier nie veel aandag gekry nie, maar toe die nuus versprei het goudsoekers van oral oor opgedaag en die goudstormloop begin.

Die plaas Berlin word tot ń openbare delwery verklaar.

Langsaan ontstaan die myndorpie, Duiwels Kantoor.

Toe die naam in Pretoria by Regering opgegee word, was die godsdienstige groepe in hulle midde heftig daarteen dat ń dorp na die duiwel vernoem moes word.

ń Kommissie bestaande uit Generaal Piet Joubert, MW Pretorius, CJ Joubert en goudkommisaris van Pelgrimsrust, CF Hoolboom, word gestuur om kwessie te ondersoek.

Tydens hulle besoek, staan hulle op die rand van die eskarp (bekend as Kantoorberg) en kyk af in die vallei, na die diep groewe en slote wat erosie aan die voet in die rooi grond ingekerf het.

MW Pretorius merk op: Hier het ons Tafelberg en die rooi slote daaronder verteenwoordig die huisies van Kaapstad.

Hy hernoem Duiwels Kantoor as Kaapsche Hoop, die vallei De Kaap en die rivier die Kaaprivier.

1882 is spoelgoud ontdek in ń klein spruitjie wat deur die dorp vloei.

Die oorspronklike dorpsuitleg word herroep en ń gedeelte word vir gouddelwers uitgehou. Dit het egter maar ń karige opbrengs gelewer.

Lewe was wild en wetteloos soos maar in elke myndorpie. Gure karakters vanoor die hele wêreld trek agter die moontlike fortuin aan.

Gehuggies en tente verskaf blyplek. Misdaad, rowery, onderlinge gevegte, drankgebruik en selfs moord vier hoogty.

Dit was moeilik om wet en orde te handhaaf.

Geboue word opgesit as staatsgeboue en huise gebou vir staatsamptenare.Die dorpie groei.

1889 word ń telegraafkantoor geopen wat Kaapsche Hoop met die Middelburg-Barbertonlyn verbind.

1898 word ń Poskantoor geopen.

1899 word ń staatskool geopen. Tweemanskool met twee klaskamers.

1929 word die skool gesluit toe die myn ń skool open.

Die ou skoolklaskamers word in 1960 platgeslaan.

Die goudopbrengs in Pelgrimsrust en Barberton was lonender as by Kaapsche Hoop en delwers skuif aan.

1886 word goud aan die Witwatersrand ontdek, die delwers verlaat die dorp agter die “groot” goud aan en die dorpie word feitlik verlate.

ABO

September 1900 neem die Britte Kaapsche Hoop oor. Hulle vind die Boerevegters het net 2 ure voor Britte se aankoms die dorp verlaat.

Die Britte vestig nie hier ń kamp nie, net ń seinpunt op die eskarp, net suid van Kaapsche Hoop.

Daar was geen geveg in of om Kaapsche Hoop nie.

WILDE PERDE

Die “wilde” perde is nie wild in die ware sin van die woord nie, eerder vrylopende perde wat in area is en rustig deur die dorp Kaapsehoop stap.

Die oorsprong van hierdie troppe perde lê ook in die ABO, afstammelinge van perde wat gebruik is tydens daardie tyd en wat ook in die oorlog gebruik is.

Die Boere van die Boksburg Kommando onder bevel van Kommandant Muller het die Britse Kamp, die Helvetia Camp van die 1st Liverpool Regiment aangeval.

Die Boere het perde in Dullstroom area bymekaar gemaak en hulle deur die Britse linies gejaag.

In die donkerte het chaos ontstaan toe die Boere hulle aanval, 13 Britte sterf en hulle moet terugtrek Machadodorp toe.

Die Liverpool Regiment se perde het saam met die ander perde na die suidelike eskarp weggehardloop. Net 20 perde kon hulle weer vang.

Die res het verdwyn in die bosse en plantasies. Hulle het daar op die plaas Berlin gebly en “wild” geword.

Vandag is hierdie perde ń aantrekkingskrag vir toeriste en stap vrylik deur Kaapsehoop.

Bronne : Internet. Kaapsche Hoop. Village in the Mist deur Hans Bornman

Foto’s: Kaapsche Hoop Hans Bornman Gys Ströh snr Mei 2022

Maak 'n opvolg-bydrae