Hugenote Monument Franschhoek

Hugenote Monument

Franschhoek

Graaff-Reinet

Franse Hugenote  April 1688.

Die eerste Hugenote kom in die Kaap aan. Hul was aan boord die skip, die “Voorschoten” gewees. Hierdie skip wat reeds op die 31ste Desember 1687 uit Delfthaven vertrek het was maar die een van sewe skepe in totaal wat Hugenote na die Kaap sou bring.  Hierdie eerste groep van 22 mense was as gevolg van ‘n sterk suid-oos wind gedwing om in Saldanhabaai anker te gooi. Simon van der Stel, die Kaapse goewerneur het dadelik die kotter “Jupiter” met vars water en voedsel gestuur, en ook sommer die Hugenote saamgebring.

Later sou nog ses ander skepe op verskillende tye volg. Hul koms na die Kaap het nie net die burgerlike bevolking laat groei nie, maar ook stukrag aan die Calvinistiese geloof gegee.

Die Hugenote het Frankryk verlaat omrede die herroeping van die Edik van Nantes.Hierdie herroeping het gelei tot meedoënlose vervolging en vernietiging van kerke en eiendom van die wat die Calfinistiese godsdiens aangehang het.

Hierdie mense was vanselfsprekend brandarm, maar het deur volharding in die geloof en harde werk vooruit geboer. Hul was gevestig in die vallei van dieDrakenstein, langs Bergrivier. Met verloop van tyd het hierdie gebied bekend geword as “Franche Hoek”, die teenswoordige Franschhoek.

Vandag kan etlike families in Suid-Afrika hul oorsprong terugvoer na die koms van die Hugenote. Minstens twee belangrike Voortrekker leiers, naamlik Piet Retief en Sarel Celliers was afstammelinge van die Hugenote. Ander bekendes sluit onder meer in, genls. Cronje, Joubert, Danie Theron, genl. Dan Pienaar, dr. D. F. Malan, Jopie Fourie en die digter Jan F. E. Celliers.

*****

 Hugenote Monument

Franschhoek

Die Hugenote Monument is op 17 April 1948 ingewy.

Die besoekers aan die monument kom dadelik onder die indruk van die sterk vrouefiguur wat op ñ aardbol staan, die vier 13 meter hoë pilare wat die lugboë hoog in die lug hou, die kruis, die hoë son en die watervywer op die voorgrond. Al die aspekte van die monument stem elkeen tot stille oorpeinsing en waardering. Die afsonderlike eenhede het egter elkeen ñ simboliese betekenis…

Die vrouefiguur ” … Is die verpersoonliking van die gees van die Franse Hugenote, meer bepaald die gees van godsdiens – en gewetensvryheid wat so lank ingekerker was, maar hom eindelik aan die bande van geloofsonderdrukking ontworstel het ten gevolge van die inspirasie van die Heilige Skrif. Dit word deur die Bybel in haar regterhand en die verbreekte ketting in haar linkerhand aangetoon. Tweedens simboliseer die vrouefiguur die lug, in geestelike sin, van dir vrygeworde Hugenotegees in Suid-Afrika. Sy staan bo-op die aardbol in Frankryk, besig om die mantel van onderdrukking wat haar gevange gehou het af te werp en weg te sweef oor die aardbol na die verre suide waar sy ñ nuwe en vrye tuiste hoop te vind….”

Die drie lugboë is ñ sinnebeeld van die goddelike Drie-Eenheid. Die goue son is ñ teken van die Son van Geregtigheid. Die kruis is ñ sinnebeeld van die Christelike Geloof. Die watervywer bevorder rustige bespieëling van die siel. Die suilery is simbolies van ongestoorde gemoedsrus en sielevrede na veel stryd en woeling.

Die vrouefiguur is deur dr. Coert Steynberg van Pretoria voltooi en die struktuur van die bouwerk is van die argitek, mnr. J. C. Jongens, afkomstig, terwyl die firma J. R. McKillop van Kaapstad die monument opgerig het.

Uittreksel uit: Ons vir jou Suid-Afrika. F. J. N. Harman.

Laat 'n boodskap