Slagtersnek-Rebellie (1815 -1816) 9 Maart 1816 Slagtersnekmonument Somerset-Oos

Slagtersnek-Rebellie (1815 -1816)

9 Maart 1816

Slagtersnekmonument 100 jaar ná rebellie onthul

Somerset-Oos

Oos-Kaap

Cathy Potgieter  (Facebook Monumente, Gedenktekens 2018)

Slagtersnek Monument.

Die Slagtersnek-rebellie verwys na ‘n boer in die Oos-Kaap, Johannes Bezuidenhout, se kortstondige opstand teen die Britse bewind in die tydperk 1815–1816. Dit word ook as een van die redes vir die ontstaan van die Groot Trek beskou. Die naam Slagtersnek, waar die rebelle gevang is, is ontleen aan die Britse handelaars van Grahamstad wat hier bymekaar gekom het om die boere in die omgewing se slagdiere te koop.

Op ‘n plaas naby wat vandag as Somerset-Oos bekend is, het Frederik Bezuidenhout ‘n Khoikhoi-werker met die naam van Booi van diefstal verdink en sy loon teruggehou. Booi het Bezuidenhout gaan verkla van aanranding by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout het twee keer geweier om voor die hof te verskyn en hy is in absentia tot een maand gevangenisstraf op 5 Oktober 1815 gevonnis. Die Britse regering wou graag hul gesag oor die boere in die verre oosgrens vertoon, en het ‘n mag van 12 Khoi-Khoi soldate, destyds Pandoere genoem, met ‘n blanke offisier op 16 Oktober 1815 na Bezuidenhout se plaas gestuur om hom in hegtenis te neem.

Bezuidenhout het hom verset en is deur een van die Khoi-Khoi soldate in ‘n skuiling tussen rotse op sy plaas doodgeskiet. Op sy begrafnis het sy broer Johannes Bezuidenhout wraak gesweer en saam met ‘n groep vriende het hy ‘n opstand teen die Britse regering in die Kaap beplan. Hulle wou die Britse regering en die Khoi-Khoi uit die Oos-Kaap verdryf. Hulle het die Xhosa hoofman Gaika (ook Ngqika genoem) vir hulp genader en aangebied dat hy die hele Zuurveld as betaling sou ontvang. Gaika het nie belang gestel nie.

Hendrik Prinsloo is kort daarna deur ‘n mag van 70, wat 40 Engelse soldate en 30 kommando lede ingesluit het, in hegtenis geneem. Die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset en ander boere in die omgewing gevra om by die opstand aan te sluit. Die rebelle het op 18 November 1815 aan die Britse mag by Slagtersnek oorgegee. Johannes Bezuidenhout het hom teen inhegtenisname verset en is ook doodgeskiet. ‘n Paar het verder oos na die Xhosas se land gevlug. Die ander is in hegtenis geneem en voor die hof gedaag.

32 rebelle is uit die Oos-Kaap verban en ses van die rebelle leiers word op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel op ‘n klag van hoogverraad. Een, Willem Krugel, word later deur die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset, begenadig. Op 9 Maart 1816 word Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Bothma in die openbaar gehang.

‘n Groot skare het gesien hoe die luike onder die mans weggehaal word en vier van die vyf galgtoue breek. Omstanders het gesmeek dat die mans begenadig moet word aangesien God die laksman wou teregwys, maar die Engelse offisier het bloot beveel dat die mans weer gehang moes word.

Die Bezuidenhouts het volkshelde geword en die gebruik van die Hottentot Pandoere om Bezuidenhout te skiet, het haatdraendheid by baie van die boere aan die Oosgrens teenoor die Britse bewind aan die Kaap laat oplaai. Die bitterheid wat hieruit ontstaan het, sou Afrikanernasionalisme aanwakker in die jare voor die Groot Trek.

*****

Die 9 Maart 1816.

Slagtersnek.

Vyf terdoodveroordeelde oosgrens boere word op hierdie dag in die openbaar gehang. Vier van die vyf se toue het het tydens die eerste poging gebreek. Hul was gewees, Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Botha.

Wat volg is ‘n kort geskiedenis van hierdie tragedie.

Deel een.

Frederik Bezuidenhout was ‘n boer aan die oosgrens van die Kaapkolonie. Bezuidenhout het ‘n werker, Booi by hom indiens gehaad. Booi was ‘n slegte werker wat gereeld skape verloor het. Bezuidenhout het as straf sy loon weerhou, waarna Booi by die landros gaan kla het. Die landros het ‘n dagvaarding aan Bezuidenhout gerig om op ‘n sekere datum in ‘n hof te verskyn om te antwoord op hierdie klagte. Bezuidenhout het geweier om in die hof te verskyn en was van opinie dat hy nie sy familie aan die grens aan hul genade kon agterlaat nie, en dat hy ook erg aan jig gely het.

So het die geskil, en dagvaardings vir omtrent twee jaar lank aangehou. Gedurende 1815 dagvaar die rongaande hof van Graaf-Reinet hom nog-eeens om in die hof te verskyn. Bezuidenhout het weer geweier, en was in sy afwesigheid op die 5de Oktober 1815 tot ‘n maand gevangenisstraf gevonnis. Nog dieselfde dag het ‘n landros ‘n bevel tot sy inhegtenisneming uitgereik. n Balju, en ‘n lid van die polisie was gestuur om hom te arresteer. Die balju het twee briewe by hom gehad. Die eerste was ‘n opdrag aan ‘n veldkornet van die omgewing om die balju behulpsaam te wees. Die ander een was aan ‘n kaptein Andrews gestasioneer by Van Aardt’ s pos. Laasgenoemde moes die balju behulpsaam wees indien die veldkornet nie beskikbaar was nie. Die veldkornet was te bang vir Bezuidenhout en het daarom geweier. Andrew’s, tesame met ‘n paar “Hottentot” soldate het daarna na Bezuidenhout se plaas vertrek. Daar aangekom het Bezuidenhout geweier om homself oor te gee. Hy was daarna, op die 10de Oktober deur die pandoere, (gekleurde soldate) dood geskiet.

Twee van Bezuidenhout se broers, Gerrit en Johannes was by sy graf, toe hy begrawe was. Johannes, kortweg Hans het daar by die graf wraak gesweer dat hy sy broer se dood sou wreek. Hans het aan die bo-Baviaansrivier geboer. Kort na sy broer se dood trek hy na die Tarka, en staan hy oor op die plaas van Diederik en Christiaan Muller. Enkele dae later daag Hendrik Prinsloo, ‘n boer van die omgewing by die Mullers se plaas op. Hy het Frederik se dood met Hans bespreek, en Hans aangemoedig om ‘n rebellie-opstand teen die Britse gesag aan die Kaap te organiseer. So het dit dan gekom dat Hans en Hendrik ‘n opstand begin organiseer het. Mense was gedreig, selfs met die dood. Ook was met die Xhosa’ s onderhandel om te help met die opstand. Kort voor lank het Hans se swaer Cornelis Faber, as ook Hendrik se swaer Theunis de Klerk en dan die twee Bothma broers by die opstand aangesluit.

 Deel 2.

Dit was toe ook nie 100 jaar alvorens die Britse owerhede in die Kaap van die rebellie tehore gekom het nie. Sake versleg baie vinnig, en op die 13de November word ‘n aantal soldate gestuur om Hendrik Prinsloo in hegtenis te neem. Hierdie nuus het vinnig versprei. Leiers van die rebellie het vinnig geraegeer en op die 14de November het sowat 60 gewapende burgerlikes by naby Van Aardt’ s Post (naby Cookhouse) bymekaar gekom. n Eis was gestel dat Prinsloo vrygelaat moet word. Die eis was natuurlik deur die owerhede afgekeur waarna hul toe tot oorkant die grens trug getrek het. Daar het hul toe gaan sit en wag om te hoor of die Xhosas hul behulsaam sou wees.

Luitenant – kolonel Cuyler daag intussen by Van Aardt’s Post op en stuur ‘n boodskap aan die rebelle om hulself oor te gee. Die rebelle was bereid om oor te gee, maar wou vrywaring teen vervolging gehaad het. Cuyler het dit geweier. Cuyler het daarna met sy troepe, en enkele van die boere uit die omgewing na die rebelle opgeruk. Naby Cookhouse is ‘n berg-nek, bekend as Slagtersnek. Dit is hier waar die twee partye mekaar ontmoet het. Daar was lank geonderhandel, maar die rebelle wou nie Cuyler se voorwaardes aanvaar nie. Later, nadat berig ontvang was dat die Xhosas nie wou saamwerk nie het sowat 20 rebelle hulself oorgegee.

Hans Bezuidenhout, Conelis Faber, Stephanus Bothma, Abraham Bothma en Theunis de Klerk het egter geweier om oor te gee en het gevlug. Daarna het kommandant Willem Nel, tesame met majoor Fraser en nog sowat 32 gewapende burgers en ook nog 100 “Hottentot soldate ” by Van Aardt’s Pos opgedaag. Hul doel was om na die rebelle te soek en hul fokus area was gewees die bosryke Baviaans rivier. Daar het hul Piet Erasmus wat ook ‘n rebel was in sy huis gevang. Na onderhandelinge het Piet vertel dat Hans en Faber per ossewa in ‘n noordelike rigting gevlug het. Kort daarna was Bezuidenhout se plaas besoek en was inderdaad waspore in ‘n noordelike rigting gevind.

Deel 3.

Nadat die Britse troepe Hans en Faber se wa-spore in ‘n noordelike rigting gevind het, het hul na Bezuidenhout se plaas vertrek. Ook daar het hul wa-spore gevind. Hierdie spore was gevolg oor Groenberg se punt tot aan die Tarkarivier. Daarvandaan het die spore in die rigting van die Winterberg weggeswaai. By ‘n veeplaas, Spitzkop wat aan Louw Bothma behoort het was 2 waens aangetref. Hul trek daarna verder met die rivier op en tref op Rietvallei twee van die opstandelinge, Abraham Bothma en Andries Meijer aan. Hierdie twee vertel toe dat hul Hans Bezuidenhout, Conelis Faber en Stephanus Bothma nog dieselfde oggend gesien het.

Die troepe het die aand daar op Rietvallei oorgestaan en geweet dit is net ‘n kwessie van tyd alvorens hul die ander sou vang. Dou voor dag die volgende oggend trek hul toe verder in die Winterberg se rigting. Teen 10 uur se-kant was hul in ‘n bosruike kloof en het hul ‘n hinderlaag opgrstel. Kommandant Nel en sowat 20 “Hottentot soldate” het hul in die voorpunt van die kloof in die kraanse en tussen die bome versteek. Majoor Fraser het met die oorgrote meerderheid soldate hul laer af in die kloof versteek. Fraser val in die proses van sy perd en breek sy arm. Bevel word daarna oorgedra aan luitenant Milanees. Teen twaaluur was die waens binne sig en op pad in die Winterberg se rigting. Die waens het behoort aan Hans Bezuidenhout, Cornelis Faber en Stephanus Bothma. Die klein groepe het stadig verby kmdt. Nel getrek en het hul vee by hul gehaad.

Faber en Bothma was egter ongerus. Faber het homself bewapen en te perd vooruit gegaan. Bothma het ook die waens verlaat, maar was nie gewapen nie. Hul was net verby kmdt. Nel en in die begin van die kloof toe daar uitgespan was sonder dat daar onraad vermoed was. Faber het intussen amper gevorder tot teenaan waar lt. Milanees en die meerderheid van die troepe stelling ingeneem het.

Die verrassing was volkome. Bothma was beveel om doodstil te bly staan en Faber om van sy perd af te klim. Faber ruk egter sy perd om en jaag terug na die waens. Die troepe was egter gereed en skiet op Faber. Faber spring van sy perd was in die proses om korrel te vat toe hy in die skouer gewond word. Bohma het nog probeer weghardloop, maar was ook gevang. Faber en Bohma ‘was n redelike ent weg en buite sig van die waens, en ook om ‘n draai in die kloof. Derhalwe het die mense by die waens niks van die petalje geweet nie.

Hans Bezuidenhout was egter wakker en het onraad vermoed toe hy skote gehoor het. Hy het te perd in die rigting gery, en sy vrou het te voet gevolg. Hans was skaars van die waens weg gewees toe hy hom byna in die troepe vas gery het. Hy en sy vrou het om gedraai en na die waens terug gevlug. Intussen het die ander troepe nader beweeg en die mense by die waens beveel om oor te gee. Bezuidenhout se vrou Elizabeth het egter geweier. Sy het tesame met haar man, en hul seuntjie Gert by die waens vasgestaan. Hans moes waarskynlik besef het dat die drie van hul nie teen +-120 Pandoere sou kon weerstand bied nie. Nietemin skiet hy op die soldate en word een dodelik gewond.

Milanees moes daarna seker besef het dat Hans besigheid bedoel. Hy het die soldate beveel om op te hou skiet, en Hans gevra om oor te gee. Hans het egter geweier waarna die skietery weer begin het. Kort daarna word Hans se arm gebreek en afgeskiet. Sy vrou verbind die wond, en laai vir hom die voorlaaier gewere. Hans se seun Gert het besef dat hy nou alleen is, en het voortgeveg met sy ma wat laai en aangee. Kort daarna word Hans in sy lyf gewond. Hy het neergeval en het vinnig begin bloed verloor. Terwyl sy ma besig is om sy pa te probeer help word ook sy gewond. Hans het besef die skrif is aan die muur. Hy het Gertjie beveel om oor te gee, maar hy wou nie. Kort daarna word ook Gertjie verwond, eers in sy voet en daarna in die been. Die klein groepie was daarna oorompel, en was hul as gevangenes geneem. Hans en Gert was tesame met die soldaat op die wa gelaai, en was begin met die terugtog. Die soldaat was kort daarna oorlede. Hans was baie swak, en is die volgende dag oorlede.

So eindig dan ‘n besonder tragiese gebeurtenis in ons geskiedenis. Dit het begin met n arbeider wat volgens geskrifte nie sy loon waardig was nie en gewerk het by Frederick Bezuidenhout.

Bezuidenhout was daarna gedagvaar om in ‘n hof te verskyn op grond van genoemde arbeider se klagte dat lone van hom weerhou was. Vir by twee jaar het die gereg probeer om Bezuidenhout in die hof te kry dog sonder sukses. Bezuidenhout was daarna in sy afwesigheid tot gevangenes straf gevonnis. Die gereg was gestuur om hom in hegtenis te neem, en Bezuidenhout is in die proses deur Pandoere, (“Hottentot”) soldate doodgeskiet. Bezuidenhout se broer, Hans het wraak gesweer op die (Britse) regering. Daarna, en met die hulp van enkele ander was ‘n opstand teen die regering op die been gebring.Die opstand was van korte duur en die skuldiges aangekeer.

Daarna in 1816 volg die teregstelling van vyf Oosgrensboere. Die feit dat vyf van die ses veroordeeldes se toue aan die galg gebreek het, en daarom eintlik volgens ‘n ongeskrewe wet onskuldig was, is nie in aanmerking geneem nie en was die vyf weer gehang.

Dit was met ander woorde eerstens die dood van Frederick Bezuidenhout, opgevolg deur die breek van vyf van die ses terdoodveroordeeldes se toue aan die galg en laastens die dood van Frederick se broer Hans wat aan hierdie tragedie ‘n prominente plek in die geskiedenis besorg het.

*****

Die Slagtersnek-opstand van 1815 was een van die aanleidende oorsake van die Groot Trek omdat dit tot bittere haat jeens die Britse owerheid in die Kaapkolonie gelei het. Drie-en-veertig jaar later het die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk ds. Dirk Postma uit Nederland na die trekkers en hul nasate in Transvaal gestuur en onder hulle het die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 onder die seringboom op die Voortrekkerdorp Rustenburg tot stand gekom.

Die hooffigure in die opstand van 1815 was Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en nog vyf grensboere van die Visriviervallei: Cornelis Faber (43, ’n swaer van Hans), Stephanus Cornelis Bothma (43), sy broer Abraham Carel (29, Hendrik Frederik Prinsloo (32) en Theunis Christiaan de Klerk (30).

Freek Bezuidenhout was algemeen bekend as ’n haatdraende en ongenaakbare man teenoor die meeste mense. Sy werker Booi het hom dan ook daarvan aangekla dat hy hom mishandel en sy loon weerhou het. Toe Bezuidenhout gedagvaar word om voor die hof op Graaff-Reinet te verskyn, verwerp hy die hofbevele en word in sy afwesigheid deur ’n rondgaande hof tot ’n maand tronkstraf weens minagting van die hof gevonnis.

Hierna het landdros Andries Stockenström die onderbalju, J. Londt, opdrag gegee om Bezuidenhout in hegtenis te neem. Omdat die wyksveldkornet geweier het om die onderbalju te help, wend Londt hom tot kapt. Andrews van die naaste militêre pos. Terwyl Bezuidenhout hom gereed gemaak het om hom gewapend teen arres te verset, is lt. F. Rousseau met ’n patrollie van 12 Khoi-Khoisoldate aangesê om Londt na Bezuidenhout se plaas, Slagtersnek, te vergesel.

Bezuidenhout het geweier om hom oor te gee, op die soldate geskiet en daarna, vergesel van sy kleurlingseun, Hans, en ’n besoeker, Jacob Erasmus, sy toevlug na ’n skeur in ’n rotswand naby die opstal geneem. Hy het geweier om na rede te luister en die vuur hervat tot ’n koeël van sers. Joseph, ’n lid van die Kaapsche Regiment (in die volksmond Pandoere genoem), hom dodelik getref het. Sy seun en Erasmus, wat nie een aan die skietery deelgeneem het nie, het hulle oorgegee.

Sy naasbestaandes het Bezuidenhout se oorskot die dag daarna op die plaas begrawe. Sy dood was die begin van die Slagtersnek-rebellie wat sy hoogtepunt bereik het op hierdie dag in 1816 onder die galg op die plaas Van Aardtspos, 12 myl suid van die plaas Slagtersnek.

By die grot waarin Bezuidenhout gesterf het op wat nou Glen Lynden heet, het die NG Kerk en plaaslike Reddingsdaadbond ’n monument opgerig wat op hierdie dag in 1916 onthul is. Die bewoording daarop lui:

“Ter gedachtenis aan Frederik Bezuidenhout, gesneuvel te Baviaans Rivier, en Hendrik Prinsloo, Stephanus Bothma, Abraham C. Bothma, Cornelis Faber en Theunis de Klerk, alhier gericht op 9 Maart 1816 in verband met de Slachtersnek geschiedenis.”

Van Freek Bezuidenhout se broer Hans is dit bekend dat hy hardhandig opgetree het teenoor sy bruin plaaswerkers en weens wedersydse beskuldigings en beswaddering van wit en swart oorhoops gelê het met Coenraad de Buys, ’n avonturier wat onder die Xhosas gewoon het.

Op sy broer se begrafnis het Hans ’n eed afgelê om wraak te neem op die amptenare wat hy vir sy broer se dood verantwoordelik gehou het, maar dit nie daargelaat nie en die hele boeregemeenskap tot verset teen die nege jaar oue Britse bewind in die algemeen opgesweep. Na sy mening het hy die burgers se gevoelens vertolk deur sy voorneme om al die Britte en die “Hottentotte” in die see te dryf en ‘n eie staat op die oosgrens te stig.

Deur sy toedoen het sowat 60 burgers ’n eed van wraak en trou afgelê. Maar die veldkornet, A.C. Greyling, en 36 grensboere het hulle voorgeneem om die regering te steun. Daarop het die rebelle die vroue en kinders van diegene wat nie by Bezuidenhout wou aansluit nie, gedreig hulle sou aan die inboorlinge oorgelewer word om beroof en vermoor te word.

By twee geleenthede het Bezuidenhout hulp by die Xhosa-opperhoof Ngqika vir sy versetplan teen die owerheid gesoek. Hy het hom die Suurveld (die streek rondom die latere Grahamstad) beloof, terwyl Bezuidenhout self die Katriviergebied (rondom Adelaide) sou kry.

Die onrusgevoel onder die grensboere het verder aangegroei nadat die Britse gesag die opstand ondersoek en besluit het om daarteen op te tree. Dat die samesweerders as rebelle bestempel is, het Bezuidenhout selfs meer verbitter. Hy het van leuens en verdraaiings gebruik gemaak om ondersteuning te wen en dié wat met die owerheid wou onderhandel, met geweld bedreig. Ook het Bezuidenhout die vrylating van gearresteerde burgers geëis.

In November 1815 het ’n afdeling troepe en burgers onder landdros J.G. Cuyler van Uitenhage teen die opstandelinge opgetrek en op die 18de het die meeste hulle onvoorwaardelik by Slagtersnek oorgegee.

Bezuidenhout met sy vrou en drie kinders, sy swaer C.J. Faber en dié se gesin en later Abraham Botma en Stephanus Botma en hul gesinne het daarin geslaag om na die Winterberge te ontvlug.

Op 29 November is hulle deur ’n kommando van honderd Khoi-Khoisoldate onder bevel van enkele wit offisiere in ’n kloof op die pad tussen Tarkastad, Adelaide en Bedford ingehaal en gevra om oor te gee. Bezuidenhout het geweier.

In die daaropvolgende geveg het Bezuidenhout se 14-jarige seun hom bygestaan en sy vrou die gewere gelaai. Al drie is gewond en Bezuidenhout het later aan sy wonde beswyk. Afgesien van Faber, wat ook gewond is, het die res van die geselskap ongedeerd daarvan afgekom. Een Khoi-Khoisoldaat is noodlottig gewond. Bezuidenhout is ’n ent van die gevegstoneel af begrawe op die plaas van Louw Botma, waarskynlik die huidige Rocklyn in die distrik Tarka.

Die nasleep van die opstand was dat Bezuidenhout se eggenote en nog 38 mense uit die distrik verban, ses ter dood veroordeel, een begenadig en vyf op hierdie dag op Van Aardtspos, 12 myl suid van Slagtersnek, in die openbaar tereggestel is.

Ds. T.J. Herold van George en die geneesheer dr. G. Glaeser was onder die aanwesiges om hul laaste dienste te bewys. Stephanus Bothma het die omstanders toegespreek en vir oulaas vermaan om die owerheid gehoorsaam te wees. Toe die toue van vier van die veroordeeldes breek, het hulle, half verwurg, landdros Cuyler om genade gesmeek.

Ná die teregstelling is die balk  in die woonhuis op Van Aardtspos ingebou. Dis in 1896 uitgehaal om Leander Starr Jameson en sy rebelle mee op te hang na hul inval in Transvaal., maar vredeshalwe nie gebruik nie. Die Slagtersnekbalk het jare lank van die toneel af verdwyn tot dit in Kaapstad opgespoor en na die museum op Somerset-Oos gebring is.

As leraar van die NG gemeente George, is ds. T.J. Herold deur die goewerneur die pynlike taak opgelê om die opstandelinge op die dood voor te berei en hulle in hulle laaste lewensoomblikke by te staan. Dié het geantwoord hy het nie die mag daartoe nie, waarna hulle opnuut, een-een, opgehang is. Die burgers wat kant vir die owerheid gekies het, was grootliks ontsteld deur die sware straf en die onmenslike wyse waarop dit voltrek is. Hulle het nie kon dink hulle sou aandadig daaraan wees om hul landgenote ter dood te bring nie.

Onder die lojale burgers en die breë boerebevolking van die Oosgrens het bittere haat jeens die Britse owerheid ontstaan. Al het die grensboere en later die Voortrekkers die Bezuidenhouts se dade veroordeel, kon hulle met hul beweegredes simpatiseer. Algaande het die algemene gevoel onder hulle posgevat dat die wit mense onderdruk en die bruin mense deur die owerheid begunstig word. So het die Slagtersnek-opstand eindelik tot ’n simbool van onderdrukking ontwikkel.

Bronne Van Heerden, mej. M. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Auckland Park: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.Dreyer, eerw. Andries. 1916. Zuid-Afrikaanse Monumenten Album. Kaapstad: G.D. van Tonder.

Laat 'n boodskap