Gideon Scheepers / Gefusileer / ABO 18 Januarie 1902 / Graaff-Reinet / Oos-Kaap

Gideon Scheepers

Gefusileer

ABO

18 Januarie 1902

Graaff-Reinet Oos-Kaap

Geskryf deur FAK (Januarie 2021)

Op 17 Januarie 1902 is Gideon Jacobus Scheepers, op die ouderdom van 23, gevonnis op die dorpsplein in Graaff-Reinet vir beweerde oorlogsmisdade. Hy was ’n militêre leier, verkenner en heliograaf in die Anglo-Boereoorlog en het gedien onder generaal Christiaan de Wet.

Sy teregstelling 18 Januarie 1902, na ’n twyfelagtige verhoor, het mense nie net in Suid-Afrika geskok nie, maar ook wyd reaksie in die buiteland ontlok.

Sy lyk is in ’n onbekende graf begrawe en nooit gevind nie.

Alhoewel hy homself tydens die oorlog as krygsman onderskei het en op ’n baie jong ouderdom tot die rang van kommandant gevorder het, was dit sy teregstelling wat hom verhef het tot ’n Afrikanermartelaar.

In Graaff-Reinet word Gideon Scheepers onthou met die Gideon Scheepers-gedenknaald op die Murraypad buite die dorp naby die plek waar hy tereggestel is.*

Geskryf deur Quentin Meyer 2020

Gideon Scheepers

Kommandant Gideon Scheepers (1878–1902) was ʼn Boere militêre leier en heliografis tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Vroeë lewe

Gideon Jacobus Scheepers is gebore op 4 April 1878 te Middelburg in die Zuid-Afrikaansche Republiek as die seun van Jacobus Johannes Scheepers en Sophia Charlotte (née Van der Merwe).

Op die ouderdom van 16 jaar word hy heliografis by die ZAR-staatsartillerie.

In 1897 word hy bevorder tot korporaal.

In Mei 1898 word hy gesekondeer na die Oranje Vrystaat Artillerie.

Hy word bevorder tot sersantToe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, vergesel hy die Vrystaatse kommando’s na hul wesgrens.

Tydens die beleg van Kimberley skiet hy twee gevange swart mense dood omdat hulle na bewering spioene was.

Generaal De Wet het hom as rapportryer gebruik.

Later het de Wet hom bevorder tot kaptein en in bevel van sy eie verkennerskorps geplaas.

Bedrywighede in die Kaapkolonie

In Desember 1900 het Scheepers onder aanvoering van kommandant Kritzinger die Kaapkolonie binnegegaan. Binne 8 weke het hul paaie geskei

Kritzinger was terug in die Vrystaat op 29 April 1901. Hy het weer op 16 Mei die Oranjerivier oorgesteek.

In Julie 1901 het Kritzinger aan Scheepers geskryf en sy spyt uitgespreek oor Scheepers se afbrand van wonings. Hy vertrou dat Scheepers dit sal staak.

Kritzinger was gekant teen die afbrand van private wonings want dit het vyandskap tussen die Boere en “Engelsch gesinde Afrikanders” verwek.

Generaal Wynand Malan het Scheepers ook gewaarsku dat die afbrand van huise nie hul saak bevorder nie.

Nadat hy Kaapse Rebelle gewerf het, is hy op 22-jarige leeftyd bevorder tot kommandant van ʼn 150-maneenheid, die Witkoppenkommando (na aanleiding van die wit band op hul hoede) wat die Britse troepe die stryd in die Kaapkolonie moet aansê. Die klein kommando het veral sukses om Britse spoor- en telegraafverbindings in die Oos-Kaap te saboteer, terwyl hinderlae die Britse troepe verliese toedien. Hy het ook nie-blankes tereggestel wat hulle aan spioenasie vir die Engelse skuldig gemaak het. In hierdie skermutselinge word Scheepers se heldhaftigheid ten toon gestel.

Dit lei daartoe dat Scheepers se teenwoordigheid in die Kaapkolonie meebring dat baie Kapenaars by die Boeremagte aansluit teen Brittanje. Gedurende 1901 is sy kommando hoofsaaklik in distrikte soos Graaff-Reinet, Cradock, Murraysburg en Montagu bedrywig.

Gedurende die eerste helfte van 1901 was Murraysburg ʼn veilige hawe vir die Boerekrygers omdat daar nie genoeg mense uit die dorp bereid was om te help met die beskerming van die dorp nie.

Op 27 Junie 1901 het Scheepers vir die burgemeester van Murraysburg gesê dat indien die Britte die dorp nie binne agt dae in garnisoen lê nie, hy alle openbare kantore sou afbrand. Die Britte het nie reageer op die dreigement nie en op 6 Julie is die openbare kantoor, poskantoor, hoofkonstabel se kantoor, die winkel van Herbert Sharwood en Rose-Innes se huis aan die brand gesteek

Scheepers het reeds vroeg in September 1901 begin siek word. Teen 10 Oktober was hy te siek om voort te gaan en sy kommando het hom op die plaas Kopjes Kraal, digby die huidige Prins Albertwegstasie, agtergelaat. Die Britte het hom daar op 12 Oktober gekry en onmiddellik ’n dokter ontbied. Dr Mearns se diagnose was onheilspellende obstruksie van die ingewande en blindedermontsteking. Op 8 November 1901 skryf Scheepers aan sy ma dat hy aan ingewandekoors ly. Gedurende die 1930’s het sommige van Scheepers se vorige makkers aangevoer dat hy deur ’n verraaier vergiftig is. Die outeur Shearing spekuleer dat dit moontlik depressie of “Post Traumatic Stress Disorder” kon gewees het. Aanvanklik word Scheepers gehuisves in ‘n hospitaal op Matjiesfontein. Op 19 Oktober word hy geneem na die hospitaal in Beaufort-Wes. Op 14 November verskuif hulle hom na die militêre hospitaal in Naauwpoort.

Op 9 Desember 1901 word hy na die tronk in Graaff-Reinet gestuur.

VerhoorInligtingsbord langs die Gideon Scheepers-gedenkteken aan die grens van die Camdeboo Nasionale Park.

Die Gideon Scheepers-gedenknaald buite Graaff-Reinet.Scheepers het tereg gestaan op 16 aanklagtes: 7 van moord, 1 van poging tot moord, 1 aanklagte dat hy gevangenes in ’n vuurlinie geplaas het, 1 van mishandeling van gevangenes, 3 aanklagtes dat hy mense ’n loesing (met ’n sambok) gegee het, 2 aanklagtes van saakbeskadiging (spoorlyn en trein) en 1 aanklagte van brandstigting (wat 15 insidente ingesluit het). Die aanklaer het 52 getuies geroep.[16] Scheepers het sy eie prokureur, Thomas Auret, aangestel om hom te verdedig.

Aanklag 1

Scheepers is aangekla dat hy Jacob Fillies en Kiedo vermoor het. Hierdie insident het plaasgevind op die plaas Secretariskraal in die Murraysburgdistrik. Die eerste getuie, Sharwood, ’n winkelier, het gesê dat hy Fillies en Kiedo uitgestuur het om te gaan verken. Toe hulle nie terugkeer nie, het hy ander mense uitgestuur en hulle het op Fillies en Kiedo se liggame afgekom. In Maart 1901 het Scheepers weer by Murraysburg aangedoen en hom toe vertel dat hy twee van sy (Sharwood) se verkenners by Sekretariskraal doodgeskiet het. In kruisondervraging het hy gesê dat Kritzinger en Fouché ook in dieselfde omgewing was. Later het Scheepers aangevoer dat hy Sharwood gesê het dat hy net gehoor het dat twee van sy spioene doodgeskiet was.

Aanklag 2

Scheepers is aangekla dat hy skuldig is aan die moord van konstabel Moyewka. Die insident het plaasgevind op 18 Januarie op die plaas Brakwater in die distrik van Willowmore. John David Momberg het getuig dat hy ’n vorige lid van Scheepers se kommando was. Hy het getuig dat Scheepers aan Moyewka gesê het dat hy ’n spioen was en doodgeskiet sou word. Moyewka het toe weggehardloop en hy is geskiet. Scheepers se weergawe was dat toe Moyewka meegedeel is dat hy vrygelaat gaan word, hy weggehardloop het en toe doodgeskiet is.

Aanklag 3

In hierdie aanklagte is beweer dat Scheepers vir Christian Smit vermoor het. Die insident het op 17 Maart op die plaas Uitkomst in die Jansenville-distrik plaasgevind. John Momberg en Johannes Jacobus Marais het getuig dat toe hulle op die plaas aankom het Smit daar vasgebind gelê. Scheepers het opdrag gegee dat hy doodgeskiet moes word. Dit is gedoen. Dick Nylokoka het getuig dat hy Smit se lyk daar gevind het met drie skote deur sy kop. Scheepers het getuig dat hy niks van die insident weet nie.

Aanklag 4

Die aanklagte was dat Scheepers skuldig is aan die moord van James Madlaila. Die moord was gepleeg op die plaas Rooiklip, Steytlerville op 7 Augustus 1901. Edith Carey het getuig dat sy by die opstal was toe die ongewapende oorledene daar aangejaag kom op ’n perd. Scheepers se manskappe het hom gejaag. Die oorledene het afgespring en op die werf gehardloop. Die manskappe het hom toe in die heup geskiet. Hulle gaan toe na ’n koppie, kom tien minute later terug en skiet hom dood. Scheepers het getuig dat sy manskappe aan hom verslag gedoen het dat die oorledene in ’n geveg doodgeskiet was. Verder weet hy niks van die insident nie.

Aanklag 5

Scheepers is onskuldig bevind op hierdie aanklagte van moord.

Aanklag 6

Scheepers is daarvan aangekla dat hy op 7 September 1901 te De Fontein, Worcester, vir John Kennedy vermoor het. Die eerste getuie was Johannes David Kriel. Hy het getuig dat Scheepers se manskappe by die plaas opgedaag het met Kennedy as ’n gevangene. Hulle het hom vertel dat Kennedy by hul laer gekom het met ’n witvlag. Scheepers het later opgedaag en die huis binnegegaan. Daarna is Kennedy doodgeskiet. Die eienaar van die plaas, Burger, en ’n vorige lid van Scheepers se kommando, De Beer, het hierdie weergawe bevestig. Scheepers het aangevoer dat Kennedy deur ’n krygsraad skuldig bevind was van spioenasie omdat hy in siviele drag met ’n witvlag na hul laer gekom het.

Aanklag 7

Hierdie aanklagte het betrekking gehad op die moord van Zederas alias Jacobus Hermanus. Die voorval het by ’n winkel op 26 September plaasgevind. August Abrahams het getuig dat hy deur sy baas na die winkel gestuur is. Scheepers het hom en Zederas is daarvan beskuldig dat hulle spioene was. Scheepers het hulle toe gedwing om lootjies te trek. Die verloorder, Zederas, is doodgeskiet en Abrahams is met ’n briefie na die Engelse gestuur. Daarin het Scheepers geskryf dat hy deur sy owerstes beveel is om alle naturelle spioene dood te skiet. Die Engelse moet daarom die skuld dra vir die bloedvergieting. Scheepers het nie hierdie weergawe betwis nie.

Aanklag 8

Scheepers is aangekla van poging tot moord omdat Scheepers en sy manskappe na bewering op 21 Mei 1900 naby die Marais Sylyn ’n treindrywer, Wassman, geskiet en gewond het. Henry Wassman het getuig dat klippe op die spoor gepak was en die trein het daarteen gebots. Skote is toe afgevuur en hy was gewond. Watson het getuig dat dit ’n passasierstrein was en dat daar ook vrouens en kinders op die trein was. Scheepers-hulle het sigare en perdeskoene verwyder. Scheepers het geen verskoning aangebied waarom Wassman geskiet moes word nie.

Aanklag 9

Hierdie aanklagte het betrekking op ’n loesing wat Peter Huggert toegedien is op 12 April 1901. Dit het by Vredenburg, Graaff-Reinet, gebeur. Een van Scheepers se manskappe het hom daarvan beskuldig dat hy voorheen hul teenwoordigheid aan die Engelse rapporteer het. Sy baas, Gideon Smith, het getuig dat hy £10 aangebied vir Huggert se loslating, maar Scheepers dit ignoreer het. Hy is 8 houe met ’n sambok toegedien en het toe bewusteloos geword. Scheepers het getuig dat die loesing op versoek van Smith toegedien was.

Aanklag 10

Die aanklagte was dat ene Swartbooi Goxo ’n loesing toegedien is by Spitskop. Nes die vorige geval het Scheepers aangevoer dat die loesing op Swartbooi se baas se versoek uitgevoer is. Scheepers was gebelg omdat die swartes “vanzelven” sy kommando se teenwoordigheid aan die Engelse verklap het

Aanklag 11

Hierdie aanklagte was vir die loesing wat Jan Aanhuizen toegedien is by Buffelsfontein.Aldus Scheepers is hy 15 houe gegee, in plaas van om doodgeskiet te word, al het hy in privaatklere verkenning gedoen.

Aanklagtes 12 en 13

Hierdie twee aanklagtes behels die barbaarse behandeling van krygsgevangenes. Scheepers het hulle beskryf as Koloniale Hollandssprekende Afrikaners. Hulle was lede van die Graaff-Reinet Guides. Pieter Booysen het getuig dat hulle gevang was in ’n geveg noord van Aberdeen. Hulle is toe geneem na Langfontein in die Kamdebooberge. Daarvandaan moes hulle voetslaan agter die kommando aan na die plaas Uitkomst en toe na Zeekoeigat, waar die kommando slaags geraak het met een van die Britse kolonnes. Aanvanklik was die gevangenes veilig langs ’n rivier, maar hulle was toe blootgestel aan die Britse vuurlinie. Die gevangenes moes loop totdat hulle Uitkomst in die Jansenvilledistrik bereik het. Hulle is nie kos gegee nie, maar kon vir hulself kos soek op die plase waar hulle aangedoen het. Scheepers het nooit verduidelik waarom hy hierdie krygsgevangenes vir byna twee weke saamgesleep het nie.

Aanklag 14

Hierdie aanklagte het te doen met die skade aan die trein en is verbind aan aanklagte 8.

Aanklag 15

Hierdie aanklagte het te doen gehad met die vernietiging van die trein by die Maraissylyn.

Aanklagtes 16 tot 30

Een van die geboue wat Scheepers erken het hy afgebrand het.Meeste aanklagtes het brandstigting van woonhuise op plase en dorpe behels. Twee aanklagte het betrekking gehad op spoorwegeiendom. Tydens die verhoor het Scheepers erken dat hy verantwoordelik was vir die afbrand van meeste van die geboue maar dat sy luitenant verantwoordelik was vir die res. Hy het valslik getuig dat ’n krygsraad besluit het om Lord Kitchener te dreig dat, indien die afbrand van eiendom nie stopgesit word nie, voortgegaan sou word met die vernietiging van eiendom van mense wat nie vriendelik was teenoor die Republieke nie. Hy het valslik aangevoer dat hy in Maart 1900 ’n skriftelike opdrag, onderteken deur generaal de Wet en president Steyn, ontvang waarin hy aangesê is om dit te doen.

Die hofverrigtinge is afgehandel voor die einde van die jaar.

Die oorkonde is toe na die “Judge Advocate General” gestuur vir sy beslissing en na Kitchener vir sy bevestiging.

Op 17 Januarie 1902 is Scheepers meegedeel dat hy skuldig bevind is op alle aanklagte behalwe nommer 5 en dat hy ter dood veroordeel is.

Fusillering

Op 18 Januarie 1902 is Scheepers geblinddoek en aan ’n stoel vasgebind in die veld in die Karoo. Hy is gefusilleer en het agteroor te lande gekom langs die graf wat reeds gegrawe was.

Die Britte het geweier om sy stoflike oorskot te oorhandig omdat hulle wou voorkom dat ’n held van hom gemaak word; daarom is hy ’n onbekende graf begrawe.S

cheepers verwerf martelaarstatus deur die Britse krygshof se optrede en hy word as een van die helde van die Boeremagte gereken.

Sy teregstelling het groot verontwaardiging in Suid-Afrika en oorsee ontlok. Selfs in die VSA het die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat besluite ondersteun dat hy volgens die Geneefse Konvensie behandel moet word, maar hierdie pogings was te laat om sy teregstelling te voorkom.

Alhoewel Scheepers op sommige van die aanklagte skuld erken het, het hy deurgaans aangevoer dat hy die bevele van hoër offisiere uitgevoer het.

Dit is ook bekend dat selfs Britse offisiere hulle aan dieselfde dade skuldig gemaak het.

Dit word ook betwyfel of ’n Britse militêre hof kragtens die internasionale reg bevoeg was om, terwyl die oorlog nog aan die gang was, die doodvonnis uit te spreek oor ’n krygsgevangene wat nie ’n Britse onderdaan was nie.

Gideon Scheepers was ’n gebore Transvaler.

Scheepers se ouers het tot met hulle dood (Jacobus in 1934 en Sophia in 1956) na Gideon se oorskot gesoek.

S.B. Spies skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel II: “Hy is op die plek van teregstelling begrawe en volgens sommige berigte is daar ongebluste kalk oor sy stoflike oorskot gegooi. Dit wil egter voorkom of sy liggaam daardie selfde nag nog deur Britse troepe opgegrawe is uit vrees dat sy kommando dit sou probeer terugkry. Daarna is S. op ‘n onbekende plek herbegrawe, moontlik in die bedding van die Sondagsrivier.

In 1904 is ‘n plaaslike kommissie in die lewe geroep om die stoflike oorskot van Boere wat gedurende die oorlog op Graaff-Reinet tereggestel is, op te spoor.

Ondanks navrae gerig aan die Britse regering en die militêre owerheid, was dit on-moontlik om vas te stel waar S. herbegrawe is.

‘n Latere kommissie onder die voorsitterskap van J.A. Smith het ewe min sukses gehad.

Die feit dat sy stoflike oorskot nooit gevind is nie, het gelei tot die algemene opvatting, wat tot jare na die oorlog geheers het, dat hy nog in die lewe was.

GEDENKSTEEN

Net buite Graaff-Reinet, oppad na die Kamdebo Nasionale Park, naby die plek waar Gideon Scheepers geskiet is, is ń gedenkteken opgerig vir Gideon Scheepers.

Dit bestaan uit 3 rotse wat vlekvrye naald stut.

Die naald is ń simbool van die hoop en vertroue in God.

Die groot basisklip stel die standvastigheid van die jong Afrikanervolk voor.

Die twee gekantelde rotse wat mekaar stut stel die Afrikaner volk voor wat verdruk is, maar nie geval het nie.

Die vierde rots het die plaat met inskripsie en stel ń graf voor.

Bron: Facebook. FAK, Quentin Meyer

Fotos:Internet.Gys Ströh snr April 2019

Maak 'n opvolg-bydrae